Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-03-14

Steeds 'n plesier

Ek het nou vir Elsoné gebad en sy pas amper nie meer in haar badjie in nie. Sy skop teen die "voet-en-ent" van die bad gedurende die proses en gaan een van die dae begin om haar kop te stamp teen die "kop-en-ent" met die geskoppery.

Sy het laas week ook begin om hardop te lag, nie net glimlag met 'n koer nie, lag. Dis wonderlik. Sy lag nog nie so gereëld nie, maar dit maak dit ekstra lekker as sy wel lag.

Die naweek was mal warm gewees. Saterdag het die kwik gedraai by 38 °C en Sondag toe ek bietjie gaan golf speel het was dit bewolk tot so 09h30 se koers, maar toe die son daar uitkom was dit weer iets verskrikliks - so ongemaklik as wat ek al op 'n golfbaan was, dit laat my dink aan die eerste rondte wat ek Anné en MarkK by Empangeni gaan speel het toe ons net hier in Zoeloeland aangekom het.

Na die golf het Halvar en Chantel sommer hier kom help braai aan 'n hoender in die Weber en ons het baie lekker gekuier. Elsoné was so in en uit by ons onder die lapa soos sy wakker was en geslaap het. Ek is nog steeds baie dankbaar dat sy ons tot 'n groot mate toelaat om aan te gaan met ons lewens soos ons dit geken het. Maar dit moet dalk net bygesê word dat Anné dit seker nie heeltemal so beleef nie - sy is permanent met Elsoné besig, al is dit so natuurlik en ongesiens.

Ek is maar tog 'n bietjie onseker oor die naweek wat Anné Praag toe gaan en ek en Elsoné na mekaar moet kyk - die laaste ruk was ek nie so fluks met haar gewees nie. Sy was nou-nou niks lus vir haar bottel toe ek haar klaar gebad het nie; wou net haar fopspeen hê en slaap. Ons het haar neergesit dat sy maar kan slaap, maar Anné wou haar net gou toedraai voor sy haar neerlê. Ek het gedag ek moet gou iets hier kom skryf en het kom sit. Anné is nou nog daar, so sy het seker weer probeer om bottel te gee en Elsoné is nou rustiger, so sy drink. Ek hoop nie sy was onrustig omdat sy maar vreemderig vir my is as sy moet bottel vat na badtyd nie - maar ek dink darem nie so nie.

Sy's pragtig en 'n plesier om te sien. Ek kan nie glo watse uitwerking sy op my het nie.