Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2016-11-21

Teater Roep

Ek sit in die teater en wag om geroep te word.

Gisteraand, die 19e, het Anné gesê ons moet maar kyk hoe lyk dinge maar ons moet reg wees om hospitaal toe te gaan.

Ds Tertius het my laat weet watter liedjies ons vanoggend in die kerk met die nagmaal en doop-diens sou sing. Ek het hom laat weet van ons situasie en dat ek dit dalk nie sou maak nie.

Maar toe ek vanoggend wakker word, is ons steeds by die huis. Anné het 'n bietjie kon slaap en als het gedui daarop dat die naweek wat Dr. vd Walt uitstedig is ook sonder drama sou verloop. Ek het koffie gemaak, voorberei vir die kitaarspel in die kerk en was kerk toe. Anné en Elsoné het by die huis gebly.

Dit was 'n langerige diens, en toe ek by die huis kom is Elsoné en Anné aangetrek en Mooimooi vertel vir my sy gaan by Zanné kuier en Mamma gaan dokter toe.

Nou ja, ek maak toe nog koffie.

En dan ons bespreek dit en dis duidelik dat Anné nie lekker voel nie. Sy't seer en kan nie loop nie en daar is kontraksies so elke 15 of so minute. Nou wil sy by my weet of sy 'n sussie is en of dit nie onnodig hospitaal toe gaan wees nie. Sy't verduidelik dat sy nie in kraam wil wees en dis te laat om 'n keisersnee te doen nie.

So gesê en toe pak ons die laaste goed, gaan laai vir Mooimooi af en kom hospitaal toe. Dit was so 12:00.

By die host het een van die susters haar ondersoek om te kyk of sy al in kraam is en sy was toe nog nie 'n sentimeter ontsluit nie. Dr Pupuma het baie vinnig vir Anné kom sien en genoem dag haar geskiedenis beteken sy sal ten minste vir 24 uur onder observasie wees. Hy't ordentlike pyn medikasie voorgeskryf en is toe daar weg.

Toe die medisyne begin werk, toe gaan dit ook heelwat beter met Anné. Die kontraksies (volgens 'n masjien) was toe ook nie meer so opmekaar nie. En aan die hartklop kon ons nog sien dat boetie ook tevrede met die lewe is.

Ek het gaan Nando's kry en die dag by Anné deurgebring. Ons het ook lekker cappuccino met room gedrink.

So teen 19:30 het ek begin wonder of ek moet huis se kant toe staan. Ons het aanvaar dr vd Walt gaan ook nie 'n draai kom maak nie, want hy het nie 'n ander pasiënt in die saal nie. En toe, skielik is hy daar. Sommer baie vriendelik en besorg. Hy het verduidelik wat ons opsies is, dat daar 'n 5% kans is vir intensief vir baba weens long ontwikkeling wat dalk nou bietjie kortgeknip moet word. Maar as hy die goeters onderdruk, kan dit wees dat sy more oggend 2 uur in kraam gaan en dan is die klomp wat op roep is dalk vaak, maar die keisersnee moet gebeur.

En, ja, hier sit ek nou met Dr José se broek en Dr Kelling se hemp aan.

Anné is in die teater en hulle gaan my nounou roep.

2016-01-12

"Richardsbaai Skool"

Mooimooi noem Laerskool Richardsbaai hier in Meerensee "Richardsbaai Skool". Sy het einde laasjaar afskeid geneem van ons geliefde Muishuis (kleuterskool) en die wonderlike mense wat daar werk. Haar fokus het verskuif na waar sy nou uiteindelik Richardsbaai Skool toe kan gaan.

More breek daardie dag vir haar uiteindelik aan. Sy is in 'n stadium waar sy knaend wil weet hoe oud is die een en daai een en hou aan om ons te vertel hoe dinge gaan anders wees as sy "ses-jaar-oud" is en as sy "tien-jaar-oud" is sal sy die of daai nuwe vermoë hê. Sy wens haarself knaend ouer. Een van hierdie mylpale wat gepaardgaan met waargekome wense van "gevorderde" ouderdom breek more vir haar aan - sy gaan grootskool toe.

Graad R kwalifiseer seker nie regtig as grootskool in die volle sin van die woord nie, maar dis verpligtend en haar skoolloopbaan met uniform en strenger dissipline en alles wat daarmee gepaard gaan, begin more.

Dit is dalk ook 'n aanduiding dat sy nou heeltemal te oud daarvoor geword het dat haar pa meeste van die tyd aan haar dink as sy babadogtertjie. Ek is nie meer besig om 'n pa te word nie - teen die tyd IS ek nou al regtig Pa(ppa).

Ek kan nie anders as om cliché-agtig te raak en te sê dat ek nie kan glo hoe gou die tyd verbygegaan het nie. Dit is immers meer as 5 jaar vandat ek die eerste inskrywings in hierdie blog gemaak het. Daar is derduisende fotos van haar geneem, daar is duisende kere saam met haar gelag, daar is honderde kere saam met haar nuwe goed ontdek.

Dis 'n nuwe eratjie wat aanbreek vir die Jouberts, ek sien uit, want nog elke era saam met Mooimooi het sy eie lekker meegebring. Maar my en Anné se era saam met ons "baba"-dogtertjie is besig om te verstryk en dit gee my 'n knop in my keel.