Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-31

Kommin Meerenseeërs

Elsoné het rustig geslaap totdat nog 'n dr0l 'n klapper geskiet het wat vir Frodo laat skrik het. Hy het aan die blaf gegaan en vir Elsoné wakker gemaak terwyl ons nog geëet het en sy is nou nog ontstelt; Anné ook.

Dankie Meerensee dr0l! Druk daai klappers eerder waar die son nie skyn nie en steek dit aan!

Regtig Net Ons op Oujaar

Ek het nou al twee keer probeer om 'n inskrywing te maak vandag en
hierdie een gaan ook maar rof gaan. Die klappers raas om ons en Frodo
en Taggo is al om my en nie baie ingenome daarmee nie.

Daarbenewens is Elsoné omtrent al die hele dag wakker en drink die
hele tyd, dat haar pens daar staan, maar stel nie belang in slaap nie.
Ons had nog illusies om dalk êrens oujaar te gaan vier, maar dit is
uit die aard van die saak nie moontlik nie. En dit is goed ook, dan
kan ek darem bietjie probeer om die brakke rustiger te hou ook.

Wat die afgelope paar dae betref wat ek nie by blog uitgekom het nie
is my hoofverskoning die harde werk wat ek en Pappa ingesit het vir
die heining se drie houtraaminsette. Ek het gehoop dit sal so omtrent
'n dag vat om te doen. Ons was op die ou end daarmee besig van Maandag
tot Donderdagoggend voor hulle gery het. Presies 3.14 (Pi afgerond)
keer soveel tyd as wat ek geskat / begroot het dit sou. Ek het so sleg
daaroor gevoel, maar aan die ander kant ek en hy het darem lekker
gekuier so al werkend. En die resultaat is absoluut die moeite werd.
Hulle kuier hier was baie lekker en dit het ook, soos Skoonma se
kuier, baie vinnig verby gegaan. En dis hoekom ek sê ons is nou
alleen. Vandat Elsoné gebore is was daar vir ons gesorg met die
aandetes en daar was heelwat kuiergaste. Toe kom Ma Elize, wat vir ons
gesorg het en toe my ma'le wie ook vir ons gesorg het. Nou is dit die
werklikheid wat gaan inskop - ons moet nou vir onsself sorg.

Die Nye stoei al van Dinsdag se koers af met mekaar wat Elsoné nie wil
slaap soos ons dit gewoond is nie. Dit was vreeslik warm en Anné het
haar nie so toegedraai in 'n koekon nie, wat toe nou gemaak het dat sy
nie slaap soos sy kon / moes nie. Anné het toe begin om haar weer toe
te draai en dan in die studeerkamer met die klein effektiewe
lugversorger in haar stootkarretjie te sit om te slaap en dit het goed
gewerk. Maar vandag was anders. Sy het al gisteraand nie lekker
geslaap nie en Anné het amper niks slaap ingekry nie. Anné het gedink
sy het dalk dag en nag omgeruil, maar dit lyk nou nie meer vir my of
dit die geval is nie. Ek kan maar net hoop dat more beter sal gaan.

Ons het nog nie geëet nie. Anné voed nou. Ons probeer al van 19h30 af
om haar aan die slaap te kry - net na 'n voeding, wat haar pens soos
'n ballon gestaan het en die melk by haar mond uitgeloop het; iets wat
nog nooit gebeur het nie. So die afleiding wat ons maak is dat sy
genoeg gekry het...

(Anné het nou net gesê sy slaap ons moet probeer eet, so ek sal later
weer my sê kom sê.)

2010-12-30

Oor 'n Duisend!

Ek het nie die afgelope 3 of 4 dae by die blog uitgekom nie, maar toe ek nou inlog is die eerste ding wat ek sien dat daar al 'n duisend trefslae was! Ek het regtig nie gedink dit sal OOIT kan gebeur nie. Ek sal bietjie later vandag probeer om weer op datum te kom.

2010-12-27

Slaapkous

Elsoné het van voor 20h00 af tot nou toe geslaap! Anné voed nou...

2010-12-26

Goed ma' rof

Gister se Kersdagfieringe (nou's ek ie seker oor die lang 'f' nie) was
uiters bedeesd. Ons het opgestaan toe Elsoné wou eet en ek het gou
geblog. Daarna het ons geskenke uitgedeel wat van Gauteng af gekom het
en wat terug gaan Gauteng toe. Elsoné het ook heelwat gekry en ek het
toe so 'n klein bietjie sleg gevoel dat ons nie vir haar iets gekry
net nie.

Ons het lekker skaap blad gebak in ons nuwe konveksie oondjie (geskenk
van Pappa en Mamma) en dit was 'n reuse sukses. Maar na ete het ons al
5 'n lekker middagslapie gevang.

Ek wou nog gister probeer om mooi swart en wit fotos van Elsoné sonder
klere neem, maar sy was nie in die bui nie.

Ons het vandag Mapelane toe en terug gery om net 'n bietjie uit te kom
en ook om die Honda bietjie te benut en om my ma-hulle 'n bietjie
Zoeloeland laat proe. Dit was net die ding. Ons het basies net soontoe
en terug gery, maar dit was baie lekker. Anné kon natuurlik nie
heeltemal ontsan nie en het soos die superma wat sy is op haar pos
gebly en vir Elsoné gevoed en gesorg soos nodig.

Anné het klaar gevoed toe ons by die huis kom en toe sy rustig was het
ek weer probeer om fotos te neem, maar sy was ne vir lank rustig nie.
Dit was duidelik dat sy so 'n bietjie oorstuur was met al die skud op
die pad en fotopogings. Anné het weer gevoer maar sy kon nie tot
bedaring kom na sy gevoer is nie. Anné het maar vasgebyt en haar gesus
tot sy slaap en sy slaap darem nou al so 2 ure.

Weereens maar net 'n bewys dat sy maar 'n klein baba is wat baie
afhanklik van ons doen en late is ten einde haar welvaart te bepaal.
Sy probeer darem haar bes om saam te speel so ver as wat dit vir haar
moontlik is. Maar ek is so trots op my vrou wat niks anders as
asemrowend is in die manier wat sy alles hanteer en benader nie. Ek
weet nie hoe sy dit doen nie, maar ander nuwe ma's kan maar by haar
kom leer.

2010-12-25

Oploop Tot Kersfees

Ek en Pa het gister vir John gaan help om deure te gaan koop met Philip Nel se sleepwa (ja, sy sleepwa staan nog steeds by my - Dankie Philipus!). Ons het gou by Cashbuild gestop om te sien of hulle het wat John van sal hou wat hulle wel toe gehad het. Ek het gesê ons moet gou Build-It toe gaan ook, want ek weet hulle het gereëld spesiale aanbiedinge op deure. John was gelukkig, hulle het 'n spesiale aanbieding gehad en hy kon toe op die vier deure wat hy moes koop R260 spaar vergeleke met Cashbuild se deurpryse.

Ons was so 10h30 terug by die huis en ek het toe mos 'n bietjie ingehaal met die blog en tred met tyd verloor. Anné wou nog 'n swemkostuum gaan omruil by Meerensee Mall maar sy het vir Elsoné 'n slag nog gevoed en 'n bietjie vir my gewag om klaar te maak met my skryfwerk en blogadmin. Ek het eers besef hoe laat dit is toe Nicolette my laat weet via vonkpos (sy het kommentaar gelewer op Stoutigheid) hulle werk tot gewone tyd al is dit Oukersdag, wat 13h30 is. Ek wou nog antwoord op haar vonkpos, toe sien ek met 'n skok dit is al 13h30.

Ons los toe vir Elsoné (aan die slaap) by Oupa en Ouma en ek en Anné is toe winkelsentrum toe maar sy kon nie presies kry wat sy wou hê i.t.v. die swemkostuum nie en die winkelares wou nie die geld teruggee nie (na aanleiding van winkelbeleid). Ons het eergister vinnig daar gestop want ons was haastig om by die huis te kom (Anné moes 14h00 by die huis wees vir haar rekenaaropstelling om te kan gebeur om van die huis af te kan werk volgende week). Sy het toe gou 'n swembroek gegryp wat sy al voorheen gesien het daar (hoewel hierdie nou 'n ander kleur was) en gevra of sy hom by die huis kan kom aanpas. Sy het verstaan dat sy hom sou kon terugbring vir 'n terugbetaling of kom omruil. So, Anné was ontstelt omdat sy toe nou nie haar geld kon terugkry na dit alles en sy steeds nie die swembroek kon kry wat sy wou hê nie. Sy het toe maar op haar tande gebyt en iets gekies om darem om te ruil en nie die geld te verloor nie. Ek moet sê ek hou van die swembroek wat sy gekoop het, maar sy is nou nie heeltemal tevrede nie. Ten minste kon sy swem in hierdie verskriklike Richardsbaaihitte. (Ons gebruik omtrent so 120 kWh per dag om net die huis se binnetemperatuur leefbaar te hou!)

In elk geval, ek het tred met tyd verloor, het self nie honger geword nie en het nie besef my ma'le sal dalk al honger wees nie. Voor ons gery het was al wat ek vra of hulle dalk iets wil drink. Anné was bietjie vies dat ek nie vir middagete (en aandete) gesorg het nie en ons moes toe Pick'nPay ook toe gaan! Aijaijai! Ek het dit nog nooit so daar gesien nie en ek hoop om nooit weer daar te wees as dit so lyk nie. Elsoné het verskriklik gedrink gister en Anné het op haar senuwees geraak in die klerewinkel en ek het op my senuwees geraak daaroor in Pick'nPay, toe dit my beurt was vir spoke opjaag. Ons bel toe maar huis toe, maar alles was dood rustig. Ek dink ons was 'n driekwartuur in Pick'nPay daar en ons emosies het hoog geloop. Ons het groente vir slaai gekoop en ons het broodjies, kouevleis en drinkgoed gekoop. Gewoonlik vat ons maandelikse inkopies so lank, nie 'n "brood-en-melk" oefeningtjie nie.

Maar toe ons by die huis kom (15h20) is Elsoné weer rasend van die honger en Anné voed haar toe. Maar sy het die heel dag nie goed geslaap nie, want sy wou omtrent die hele tyd eet.

Sy het selfs so gehuil dat daar vir die eerste keer trane te bespeur was. Anné het net vasgebyt en aanhou voed. En dan is Elsoné rustig vir so 'n halfuur en wil dan weer voed. Dit is seker maar 'n tipe van 'n snelgroeifase wat besig is om te gebeur.

Ons het haar gisteraand hier teen 20h00 in die bed gehad na 'n voedsessie en ek het nog vir haar goed aangevul met 30 ml se borsmelk wat gevries was daai tyd toe Anné so moes uitpomp om die seer te help beter maak. Die twee Nye het toe albei baie lekker geslaap tot 01h00 van 20h00 af, met die plan dat ek sal opstaan as sy weer so dringend wil eet na 'n voedsessie en vir haar nog met die bottel gee. Dit het nie gebeur nie en Anné het weer 05h00 opgestaan (soos gewoonlik) vir 'n vroegoggendvoed.

Maar nou is dit Kersdag en ek hoop alles gaan lekker rustig wees en dat dit nie so warm gaan wees nie. Ons gaan 'n skaapblad of -boud in die oond druk en die dag lekker rustig vat. Dit gaan net ons klomp Jouberts wees.

2010-12-24

Oupa Deon en Ouma Sophie

Dinsdag het ons weer 'n koekonnetjie om ons toegedraai vir die dag en rustig weggekruip vir die Richardsbaai hitte. Ek kan nie onthou presies waarmee ons ons besig gehou het nie, maar ek kan onthou dit was luilekker.

Ek en Tim het vir oulaas 'n lekker (lees moordende) 16 km vir oulaas hierdie jaar saam gaan hardloop. Dit was wonderlik om 'n regte egte "running partner" te kry op wie mens kan steun. Hierdie jaar se kilos wat ons saam gedoen het behou baie geselsies en baie swaarkry en baie lekkerkry. Ek het al lankal vir my Engelsmanpêl gesê hy is die drafgabba wat ek al my hele lewe lank na soek.

Ons het gister onsself begeef in die winkelsentrum om 'n paar laaste kersinkopies te doen. Ons was presies 09h00 daar en toe lyk dit al klaar soos mid-maand Saterdaglaatoggend. So teen 10h00 het dit al heelwat erger gelyk en teen 10h30 was Elsoné rasend van die honger. Anné is toe met haar Elephant & I toe en het in hulle een (van twee) toilet gaan sit en voed. Sy het toe nooit heeltemal rustig geraak terwyl haar pa en ma probeer ontbyt eet het nie en wou natuurlik poeding hê. Anné had gelukkig 'n bottel met 'n bietjie melk in byderhand. Sy wou eers nie daaraan drink nie, maar het dit toe verslint toe sy vir die eerste keer aan die huil gaan en ons weer die bottel vir haar gee. Daar was natuurlik ook die gebruiklike OEEEs en AAAAAs in die koffiewinkel.

Maar gister was weer 'n groot dag in Elsoné se lewe want sy het haar Oupa en Ouma Joubert ontmoet. Ons het nadat ons by die winkelsentrum was gou vir Anné 'n swembroek gekry (wat nie mooi sit nie, hy moet later vandag terug) en is toe huis toe vir 'n rustige middag tuis. Ek het nog bietjie met kersgeskenke gestoei en die twee Nye (Anné en Elsoné) het die "doughnut" getoetsbestuur op ons dubbelbed, maar ek dink nie Anné het veel slaap ingekry nie.


Toe Mamma my laat weet dat hulle Empangeni binnegaan is ek gou L.A.C. Sentrum toe om "brood en melk"en aandete by FishAways te gaan kry. Anné het opgesien om aandete te maak (heeltemal te verstane) en ek het gedag hulle sal van 'n vis en tjippie hou. Hulle het, ons het tog te lekker geëet toe hulle kom. (Ek het natuurlik calamariringe in plaas van vis geëet, maar dit was net die ding!)



Elsoné het geslaap toe hulle aankom maar het klokslag 22h00 wakker geword vir aandete. Haar trotse Oupa en Ouma kon toe darem 'n lekker kansie kry om haar te ontmoet. Hierbo is drie van die fototjies wat die oomblike probeer vaslê. Pa het vandag gesê sy laat hom dink aan Ouma Joey en ek het ook nou al 'n slag of wat self gedink Elsoné het 'n trek of wat na haar ouma-grootjie. Verder is die hoofkommentaar oor hoe klein Elsoné is, maar soos ek al voorheen gesê het, sy is vir my net die regte grootte.

Elsoné se naelstring het uiteindelik darem laat gisteraand ook afgeval, so ek wil êrens vandag of more nog bietjie probeer om mooi fotos van haar te neem.

Stoutigheid

Ek het nou drie dae laas regtig iets hier geskryf en dit was stout van my. Dit maak dit moeilik om momentum te behou.

Nou sit ek al omtrent tien minute hier en wonder wat het gebeur en wat gedokumenteer moet word.

'n Snaakse newe-effek van hierdie openlike blog waartoe die hele wêreld toegang het is die feit dat dit beïnvloed wat ek skryf, ek wou dit nie so hê nie en dis dalk stouterig van my om dit toe te laat. Ek kon tot nog toe sonder veel moeite skryf wat daar te skryf is maar vandag is anders. Soos ek hier sit is daar dingetjies waaroor ek besluit het om miskien nie melding van te maak nie. En ek gaan egter nou "swart op wit" my nek uitsteek en noem dat ek glo dat hierdie dingetjies more of oormore nie meer saak gaan maak nie. Of anders sal dit in die wye oopte wees en sal dit gemakliker wees om daaroor te skryf.

Die beginsel waarby ek ewenwel wil bly is om aan te hou om hier te skryf asof dit my dagboekm was. Ek probeer om nie die "gehoor" aan te spreek nie alhoewel ek en my dagboek weet daar is 'n "gehoor". Toe ek nou ingeteken het was daar al 848 keer geloer wat hier aangaan, so daar is definitief 'n gehoor maar die blog is nie regtig vir hulle nie, dis vir ons drie Jouberts. Ek begin al hoe meer 'n soort selfsugtigheid vir ons drie se belange ontwikkel en ek vermoed dit gaan nog meer groei; dalk tot op 'n punt waar ek vir myself weer sal moet sê dat ek dit nou oordoen. Maar op hierdie stadium dink ek dit is gesond en ons Joubertjies se goeie reg om selfsugtig te wees, of is dit onbedagsaam?

Gepraat van stoutigheid ... Elsoné is ook nou besig om gewoontetjies aan te leer en party mense (haar pa en ma byvoorbeeld) sal dalk begin dink it is 'n vorm van ondeuendheid wat begin kop uitsteek.

Ek dink dis dit vir hierdie inskrywing, ek dink hierdie gedagtes moet dalk so 'n bietjie geïsoleerd bly.

2010-12-22

Naglewe

Ek sit by Anné terwyl sy voer. Ek het nou net Elsoné se doek geruil om
haar 'n bietjie wakker te maak sodat sy goed kan eet.

Die draffie was nogal lekker, maar taai. Dit was baie warm en bedompig
toe ons omdraai en in die bos hardloop; daar was toe geen koelwaaiwind
nie. Dis nogal 'n uitdaging om in die nag daai duinpaadjie te
hardloop.

2010-12-21

Weer Net Ons Drie




Ek het gister albei my kameras laat val en twee keer slange gesien. Die tweede keer het ek die kompakte kamera (Canon Powershot SX110 IS) laat val op pad om hierdie foto hierbo te gaan neem van die Natalse Groenslang(etjie). Hy is heeltemal skadeloos en word gereëld aangesien vir 'n groen mamba. Justice (tuiningenieur) het my darem kom vra of ek bang is vir slange en het hom nie net summier doodgemaak nie.

Ek het hierdie een se neef gisteroggend reg voor my sien val toe ek en Tim deur die groenbelt by Garrick Rise gehardloop het. Ek het vir 'n verandering voor gehardloop en hom vertel dat ek dink ek het een of ander insekbyt gehad. Daar is 'n geswelde klier agter in my nek en my bene was van begin tot end lam en feitlik onbruikbaar. Die oomblik toe ek sê "bitten by some insect" val die slangetjie toe reg voor my. Tim het toe blykbaar op hom getrap omdat hy nie kans gehad het om te sien wat gebeur en aksie te neem nie.





Ek is nou die afgelope 3 dae so rustig gewees, ek begin al skuldig daaroor voel en ek begin al voel my verlof gaan te min wees. Maar ek geniet nog elke oomblik. Ons het gister saam vir die eerste keer volwaardig gaan uiteet met Elsoné by ons. Ons was Nam Jai in Empangeni toe om te gaan soesjie eet. Anné het nooit haar mond daaraan gesit gedurende haar swangerskap nie en dit was nou presies die regte geleentheid met die dat dit ons huweliksherdenking was. Ons het die restaurant baie geniet en die kos was regtig lekker.


Maar ek sal jok as ek nie noem dat dit vir Elsoné tot 'n mate ontstig het om nie by haar selfgekose roetine te kan hou nie. Sy was maar die hele tyd wakker en wou nie op haar eie slaap nie. Ons moes haar ook 'n bottel gee maar sy was nie regtig honger nie en was die hele tyd bietjie knieserig. Maar dit het beteken ons kon haar uit die stootkarretjie uithaal en lekker die OEs en die AAAs laat kom en bietjie spog met haar.
Ons het vanoggend vir Skoonma teruggevat Koning Shaka lughawe toe en het haar so 10h00 afgelaai. Die week het verskriklik vinnig verby gegaan, en Ouma Elize het maar swaar koebaai gesé. Elsoné was op daardie stadium feitlik rasend van die honger, nee wag, sy het geraas as gevolg van die honger, so ja, sy was rasend van die honger. Anné het haar toe maar geborsvoed terwyl ek rustig teen so 90 km/h terug begin ry het in Richardsbaai se rigting. Ons haal haar vreeslik teen ons sin uit haar stoeltjie uit, en sal maar op 'n manier onsself daarby moet begin hou, want dit kan 'n slegte gewoonte raak.

Ons het eers by Darnall gestop om vir Jaco en Neline gou te groet en 'n bier (en ontbyt) te gryp by die buiteklub waar hulle toe net klaar gespeel het. Hy het 85 houe gespeel en sy het 123. Ons het heel lekker gekuier, maar wou dit nie oordoen nie ter wille van Elsoné. Toe ons so 13h45 ry, het Jaco eers in 'n ander Citroen in die parkeertereintjie vasgery maar daar was darem nie veel skade nie.

Ons kon toe darem so 15h15 by die huis rustig raak en Elsoné kon weer begin om haar roetine te soek. Dit sal seker eers more oggend weer na "normaal" toe terugkeer.


Na ons middagslapie het Anné weer vir Elsoné moes voed en ek het gou weer bietjie met my fotos gewoel. Ek het ook gister of eergister begin om die ingangsportaal te modelleer in Google Sketchup. Ons het vandat ons hier bly 'n groot vraag oor wat om met die trap na die vertrek bo ons garage (huidiglik die TV kamer) te maak. Ek dink ek het uiteindelik die antwoord gekry om te keer dat hy so styl is as wat hy nou is, maar dit gaan nog baie detailbeplanning wees en sal moet wag vir die kombuis. Gelukkig het ons darem uiteindelik 'n werkbare idee vir wat nêrens kompromieë maak nie. Al die idees so ver sou behels dat daar êrens met iets negatief sou wees waarmee ons sou moes saamleef, maar hierdie idee sal dit laat lyk of die volume waarin die trappe sal wees so bedoel was en van die begin af ontwerp is.


Ek en Anné het nou twee nagte en een dag wat ons heeltemal alleen gaan wees en dit voel of dit dalk weer 'n bietjie van 'n aanpassing gaan verg. Maar ek sien uit daarna om weer 'n bietjie alleen saam met hulle te wees.

Ek gaan 22h00 op 'n "middernag" stranddraf saam met die atletiekklub en sien baie daarna uit. Dit is laë springety en die maan is vol - ek hoop daar is 'n paar fotos om te neem...

2010-12-20

Sewe Jaar, Twee Weke

Ek en Anné is vandag sewe jaar getroud! Dit was wonderlik sover en met die dat daar nou 'n pragtige dogtertjie deel is van hierdie huishouding ook beteken waarskynlik dat die volgende sewe jaar net so wonderlik gaan wees. Ek sal egter nie verbaas wees as dit selfs nog meer genot teweegbring nie.


Dankie liewe Vader vir hoe U vir my en Anné (en Elsoné) seën en bly seen!


En soos ek al voorheen genoem het, die tyd met Elsoné gaan ook verskriklik vinnig verby - sy is vandag twee weke oud!

Gister was weer baie rustig, al het ek alleen na haar gekyk. Ek het vanoggend vir oom Anton-hulle gesien op my oggenddraffie en hulle vra toe of ek al Pa geword het. Ek sê toe dat dit nou al vandag twee weke is, wat hulle nie kan glo nie, want hulle hoor dan nooit 'n babatjie huil nie. Wel, ons hoor ook nooit 'n babatjie huil nie

Ek moet weer in die W.V.F. rye gaan staan vandag, hopelik is al die papierwerk uitgesorteer en kan ons eis begin vorder.

Intussen kan ek voel hoe die jaar tot 'n einde snel!

Elsoné se Gauteng-grootouers kom Donderdag, ek weet nog nie hoe lank nie, maar dit sal lekker wees om hulle ook hier te hê. Ma Elize gaan more huis toe, ek kan nie glo haar week hier by ons is so gou verby nie!

Dis badtyd vir baba, so miskien is daar nou-nou 'n nuwe foto by die opskrif.

PS.: O, ja. Amper vergeet ek, dis nou redelik maklik om kommentaar te lewer op wat ek hier skryf, dis nie nodig om in te teken as 'n gebruiker van een of ander aard nie. So, die van julle wat nog lees is welkom om sommer kommentaar by die inskrywings te maak. Laat weet net asseblief wie jy is. Ek is nogsteeds nuuskierig om te weet wie vasbyt en die blog lees.

2010-12-19

Ek oorleef...

Ek het vir Elsoné so 'n rukkie vermaak en en probeer om die
KangooPouch te verstaan totdat sy gehuil het vir poeding. Ek het 'n
die melk so 'n bietjie warm gemaak terwyl ek haar doek geruil het. Sy
het toe vinnig begin drink maar gou slaperig gerrak (en weer haar doek
vuil gemaak).

Sy slaap nou en ek kyk krieket; ons albei oorleef!

Net ons twee

Ek en Elsoné is nou alleen by die huis (saam met die brakke). Anné en haar ma is winkelsentrum toe. Elsoné is rustig en gevoed en die krieket begin nounou.

2010-12-18

Kallis

Dit voel of die hele land saam met Jaqcues Kallis daai laaste 10 lopies gekry het om vir die eerste keer by 200 verby te gaan. 'n Wonderlike gevoel saam met hom!

Fotos: Allerlei


Die eerste foto was John se idee om te poseer met Frodo en Elsoné op die manier. Ek is mal daaroor. Dit is gisteraand geneem toe ons saam met Jaco-hulle gebraai het.

Foto #2: Ons het vanoggend om die blok gaan loop met die hele kroos! Dit was Elsoné se eerste.

Die derde foto wys dat ons darem drie stelle hande gister was wat die hek klaar gemaak het.

Die laaste foto is sommer net 'n mooi ene van die dames in pienk.

Posted by Picasa

Raak nou Rustig

Ek het drie dae laas iets geskryf hier en die hoofrede daarvoor was uiteraard dat ek maar besig was. Maar dit is nou tyd om rustig te raak en my dogtertjie, my vrou en my vakansie weer te geniet.

Die nuwe hek is klaar, behalwe vir 'n bietjie houtbehandeling wat nog nodig is. Frankenhek is uitoorlê. Dit is die hoofrede waarom ek nou kan rustig raak. Die werk is nog ver van klaar af - die muurinsette moet nog gebeur. Dit is darem nie so dringend nie, want die goed val nie so uitmekaar soos wat die hek uitmekaar geval het laas Maandag nie. Ek is verlig daaroor.

En saam met die hek het ons nog 'n hele klomp kuiermense ook gehad die afgelope twee drie dae. Dit was eintlik lekker om so sosiaal te wees die afgelope paar dae, maar ons is nou eers uitgekuier. Dit sal goed wees om net eers weer bietjie te "regroup". So, ek sit nou en krieket kyk terwyl ek gou ietsie hier skryf en wag om vir Elsoné te gaan bad.

Ek het gister nog in die ry by die departement van arbeid gaan staan om Anné se werkloosheidsversekeringseis te gaan indien. Daar was 'n fout op een van die vorms wat deur Shelly ingevul was en Dr. Dudley het hom geteken. Dit kan eers Maandag reggemaak word want hy was nie Vrydag by die prakteik nie, so dan gaan ek weer in die ry moet staan.

Elsoné raak by die dag meer 'n mensie ('n mooier, goeie gene) en minder 'n baba. Ek sal probeer om die blog se opskrif op datum te hou met fotos wat probeer wys (soos dit nou daaruitsien). Sy lyk al hoe meer soos haar ma, wat 'n goeie ding is. Maar ek kan al klaar voel en verstaan hoekom ouers sê hulle kinders raak te gou groot. Daai eerste week wat sy so klein en dom was en ons so dom was was vir my hemels. Anné het natuurlik baie swaar gekry, maar ek dink dit raak nou vir haar ook regtig lekker.

Ek gaan bietjie later nog 'n paar fotos ook opsit.

2010-12-15

Het ek iets gemis?

Ek moet sê dat ek vandag dalk nie 'n baie betrokke pa was nie...

Toe ek wakker word is Anné (en Skoonma) besig om Elsoné te voer. Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. Dit is nou maar vir my mooi, die manier wat sy haar handjie op Anné se bors sit terwyl sy drink en haar ogies toeknyp. As sy so in alle erns suig vir vyf tellings en dan weer ontspan vir 'n rukkie is dalk een van daai goed wat nou so duidelik in my geestesoog is, maar oor vyf jaar sou ek dit heeltemal vergeet. Sulke goed gee vir hierdie blog bestaansreg.

Elke stonde saam met haar het steeds 'n bekoring. Ek besef dit nie noodwendig daar en dan nie, maar dan raak ek rustig en skryf iets neer ... soos nou. Dit is dan wat ek maar weer dankbaar voel en besef ek neem tog maar hierdie wonderwerk(e) op my manier in. Ek beleef dalk nie oorstelping en genot in die oomblik soos ek wil nie, maar op my manier herkou ek dit later en beleef dan die voorreg en die spesiaal daarvan.

My manier is dalk nie heeltemal die norm nie, maar ek verstaan dit. Of is dit ook maar die opwinding waarvan ek hoor as mense jou vertel van wonderlike en slegte belewenisse uit hulle vroeë ouerskap. Vertel hulle my dalk ook eintlik van dit wat hulle besef het gedurende so 'n herkousessie?

Maar ek het nie veel van my gesinslewe gehad vandag nie. Ek het vanoggend met erge hooikoors wakker geword. 'n Paar los punte in die huishouding se administrasie kon vanoggend darem bietjie aandag geniet, maar die hooikoors wou net nie wyk nie. Eers nadat ek 'n aggressiewe teenaanval met allerhande pille, bruistablette en 'n "powernap"van stapel gestuur het, het die hooikoors bes gegee. Ek noem dit nog 'n hooikoors, want ek wil bittergraag hê dit moenie verkoue word nie.

Toe ek wakkerword van die "powernap" moes ek in die kar spring om die gegalvaniseerde rame en hek te gaan haal. Daarna het ek gaan pos uithaal en in die poskantoor tou gaan staan vir 'n pakkie. Ek het gaan vashegters koop om die hout vas te maak aan die hek en heiningrame en ook Woodoc 35 gekry om die hout mee te behandel. En toe is die dag verby ...

Ek het so omtrent 17h00 weer tuis gekom - die dorp was 'n nes!

En deur dit alles was ek siekerig en produktief, besig en rustig, maar had nie veel van my eerste dogter se negende dag nie. Ek het haar so bietjie vasgehou vanoggend in een van haar kuierige luime na 'n voeding. Maar sy het te gou na my sin slaperig geraak en moes ek haar gaan neersit.

Dit was darem vir haar 'n dag van eerstes. Haar vingernaeltjies is vir die eerste keer vanoggend geknip. Vanmiddag het Anné haar gou uitgebring om vir my en John te kom hallo sê toe ons besig was om die staalrame af te laai. Dit was reënerig, m.a.w. Elsoné het vir die eerste keer fyn reën op haar gesiggie gevoel. Ons het haar ook met die badkamerskaal geweeg en dit lyk of sy al so 2.75 kg weeg wat beteken sy is al weer by geboortegewig of beter.

Sy was ook 'n bietjie meer woelig laat vanmiddag en het nie sommer maklik aan die slaap geraak en bly slaap nie soos ons dit gewoond is nie. Ons moes nog 'n paar keer gaan sus voor sy regtig ingesluimer het, maar sy het tog goed geslaap voor sy nou net weer wakker geword het om te kan voed.

So, ek het nou nie vandag ure saam met haar spandeer nie, ek dink die "wittebrood" is ook nie meer so sterk aan't blom nie. Maar dit bly maar lekker om haar hier te hê en te weet dat sy tevrede en gelukkig is en dat dit elke dag 'n bietjie beter ook met Anné gaan.

Ons word verskriklik geseën en die realiteite wat besig is om pos te vat is ek meer as tevrede mee.

2010-12-14

600 trefslae!

Dit maak nie meer saak nie, al my verwagtinge is klaar oortref, maar maggies; dis da'm lekker!

Fotos: Elsoné ontmoet Ouma Elize


Na gisteraand se kapperjolle was dit nie so maklik as wat dit kon wees om betyds op te staan vir die trippie KSIA toe nie. Ons het toe omtrent 15 na 20 minute later hier weg gekom as wat ons sou wou. Dit het darem beteken dat ek my skoonma vir so 5 minute kon laat wag op die lughawe ;).

Nee man, ek grap net oor my skoonma, ek is baie erg oor haar, maar ek moet die grappies maak oor my "skoonmonster" soos dit 'n goeie skoonseun betaam. Ek is haar enigste (skoonseun), so daar is nie 'n president om te na te volg nie, net een om te skep...

In elk geval, ons het haar toe opgelaai en gou in Ballito se Picadilli Café gestop vir koffie en 'n brêkvisserigheid. Daar is natuurlik lekker ge-"oe" en ge-"aa" oor Elsoné en alles wat mooi en goed en fraai van haar is. Daar was ook ligte kommentaar gelewer oor ons braafgeid (domgeid?) om haar so jonk rond mee te karjakker.

Al die aandag wat sy dogter geniet laat natuurlik 'n pa se hart lekker swel; hy hou uiteraard sy "pose" en maak of hy alles gewoond is, maar skryf later die aand op sy blog daarvan (met fotos).
Posted by Picasa

Spinnekop Verwydering


Ek moes vanoggend 01h45 nog eers die spinnekop bo ons bed verwyder voor Anné haar voete weer in ons kamer sou sit.

Spinnekop-se-kind het hom- / haarself nie lank hierna bevind in 'n maatbeker met 'n glasdeksel op. Nie lank na dit was hy / sy buite in die bedompige Richardsbaai buitelug.
Posted by Picasa

Een-week-partytjie


Ek en Anné het gister 'n paar keer daaroor gesels dat ons nie kan glo 'n week is al verby nadat Elsoné haar opwagting gemaak het nie. Maar dit is soos dit is en ons begin al hoe meer gemaklik raak met die idee dat ons nou drie is. Ek sukkel nie meer so om haar Elsoné (in plaas van Baba) te noem nie, ons weet nou al tot 'n mate hoe om haar gelukkig te hou en dinge wil lyk asof dit al hoe gladder wil begin verloop.

Ek sê dit met baie dankbaarheid en waardering. Sy is nie siekerig nie, sy is nie huilerig nie en ons het soveel om voor dankie te sê. Maar ek weet die situasie is maar delikaat en 'n klein versteuring kan alles verander. Ek het Dinsdag laas week gevoel ek wil verkouerig raak en het toe begin VitC drink om verkoue te keer. Dink maar net as ek wel verkoue gekry het hoe anders dinge dan sou kon wees.

Nietemin. Dit lyk of ons maters ons ook so 'n week gegee het om gewoond aan die idee te raak. Chantal, Henriëtte John en al ons selgroepmaters het gister so op 'n streep hier aangekom en oë gewys.

Maar dit het nie by oë wys gebly nie. Ek het drinkgoed aangebied toe die groep van hulle hier aangekom het, want Anné het nog op daai stadium gevoed. Lourens het daarop aangedring dat 'n sigaar gerook MOET word. Nou ja, een ding het tot 'n ander gelei (soos hulle in Holywood sê) en dit raak toe 'n lekker pizza partytjie. En Elsoné het die hele tyd tog te soet geslaap!

Ons het later in die bed gekom as wat ons sou wou, want ons moes vroeg aan die gang kom om vanoggend vir Skoonma by Koning Shaka Internasionale Lughawe te gaan haal. Dit het nie saak gemaak nie, ons het dit albei geniet.

PS.: Ek het nou net agtergekom die foto met die sigaar in my "bek" is die eerste volwaardige gesinsfoto van ons drie. Ons sal dit een of ander tyd moet regstel.
PPS.: Die sigaar was uiteraard nie aangesteek op hierdie stadium nie
Posted by Picasa

2010-12-13

Fotos: Baba Anné





Nog 'n "vir-die-rekord": Hierdie is fotos van Anné toe sy gebore is. As ek my nie misgis nie, lyk dit of sy en Elsoné net dalkies familie kan wees ...

Posted by Picasa

Fotos: Nog Eerstes

Ek het gisteraand so om die swembad geloop en bietjie vir haar gesing - sy was redelik wakker na haar 20h00 driegang maal (wat so omtrent 21h20 geëindig het). Toe dag ek laat ons sien wat doen die buitelug en 'n paar rock "songs" met 'n solo akappella wiegeliedjie verwerking vir haar.

Ek het dit geniet, maar weet nie wat Elsoné daarvan gedink het nie. Sy het wel lekker lomerig geword en ek kon haar in die kot sit en sy het geslaap tot 00h30.



Hier is nog 'n paar eerstes vir Elsoné:
- Eerste keer wat ek vir haar kos gee
- Eerste keer dat sy 'n hoofdeksel van soorte dra
- Eerste keer dat ek haar bad

Posted by Picasa

500 Hits!

Ek het dit nie verwag nie, dankie almal.

Ek is so nuuskurig om te weet wie almal kom loer wat hier aangaan. Lewer bietjie kommentaar deur te kliek op "# comments" by enige van die insetsels. Of stuur vir my vonkpos by spastika+blogentaar@gmail.com en laat weet wie jy is en hoekom jy aanhou terugkom en kom kyk wat ek hier kwytraak.

2010-12-12

Mocha se oor

Vandag kan deurgaan as 'n niekerbol dag, hard maar lekker. Dinge het
goed verloop tot Anné vanmiddag Mocha se oor skoon gemaak het wat al
ewig septies raak.

Sy het laas Sondag gevra of ek dit sal doen terwyl sy nie kan nie. Ek
het eenvoudig gesê dat ek nie wil nie en dit is toe daar gelaat. Toe
sy dit toe nou vanmiddag dit weer doen het sy oor slegter gelyk
en is sy toe vies vir my. Sonder om te veel te sê; ons het so bietjie
die saak gedebatteer tot ek besef het ek het maar droog gemaak. Toe ek haar soek sien ek sy
het alleen om die blok gaan stap.

Ek en die brakke en die AngleCare het op die trappe gaan sit en vir
haar wag. Dit het natuurlik soos 'n ewigheid gevoel. Maar toe sy by
die huis kom kon ons vir mekaar 'n druk gee en vir mekaar sê ons is
jammer.

Daar is maar tekens dat dit taai is, al is dinge so maklik as wat
Elsoné dit vir ons kan maak. Anné het permanent seer en dit moet
uitputtend wees. Die pyn se ergste word darem bietjie met die pille
getem, maar dit bly maar seer.

En ja, die vraag word gevra of die borsvoed die moeite en die pyn werd
is. Vir nou gaan sy / ons vasbyt. Ons het nou al redelik geleer om te
kop bo water te hou daarmee en sy het vaoggend al begin dink die ergste stu van
haar borste is beter. Maar dit was vanaand maar weer erg. En ek wens
ons het nie baklei nie, want alles het erger en moeiliker gevoel
daarna.

Maar more is nog 'n dag, more leer ons nog nuwe goed van ons nuwe
kombinasie. En hopelik raak dit selfs nog 'n bietjie makliker...

Grapgatjie

Ek het nou net 'n bondeltjie wasgoed in die masjien gesit, want madam het die baie klein geleentheid tussen:
  • vuil doek onder haar boude en
  • skoon doek onder haar boude,
genaamd net die handoek onder haar boude gebruik om 'n vuile te druk.

Sy dink dit is snaaks, oftewel, sy gee daai smile wat ons dink dalk 'n smile kan wees.

Fotos: Babakamer

Net vir volledigheid | For the sake of completeness:

Dis hoe Elsoné se kamer gelyk het voor sy gekom het. Hy lyk maar nog so, behalwe dat dit nou duidelik is dat daar 'n klein mensie bly en gesorg word.

This is what Elsoné's room looked like before she arrived in our lives. It still looks like this, except that it is clear it is being used to raise a little human who stays there.








Posted by Picasa

Was dit regtig sy?

Hierdie foto was een van haar scans gewees op 25 Augustus hierdie jaar. Ek sal jok as ek moes sê dit lyk soos sy, nou dat ek weet hoe sy lyk.
Posted by Picasa

2010-12-11

Dankbaarheid

Laat ek begin deur vandag so bietjie kronologies hier neer te pen:
  • Wakkerword en opstaan êrens tussen 05h30 en 06h30
  • Anné so bietjie help met baba en ons eet gou 'n AllBran'tjie
  • Ry na die Lemmers toe om gewaarmerkte afskrif van baba se inentingsertifikaat te kry
  • Ry na PieterG toe om hom op te laai om vir my Philip se erf oop te sluit om Philip se sleepwa af te gee na gister se leen van die sleepwa om die hek en rame galvaniseerders toe te vat. Pieter pas Philip-hulle se brakke op die naweek wat hulle in Vryheid is.
  • Laai die sleepwa af by Philip se huis
  • Ry terug na PieterG toe om hom af te laai en loer gou die werk wat goed vorder aan hulle huis. Hulle is besig om die kombuis (en sommer alles wat deel is van daai oop plan) oor te doen. Hy is nie tevrede met die ou wat vir hom die "soliede" salignakaste gemaak het se werk nie.
  • Ry binnelandse sake toe om baba te registreer
  • Registreer vir Elsoné en kry 'n amptelike afskrif / uitdruk van ons huweliksertifikaat.
  • Dischem toe om pynpille te kry en te kyk vir yssakke vir Anné se seer borste.
  • Spar Meerensee om brood, melk en sap te kry.
  • Videowinkel om 'n DVD uit te neem (ek sal nie sê watter een nie ...)
  • Toe's dit maar 'n bietjie eet, 'n bietjie chill. Ons het selfs 'n goeie vroegmiddagslapie ingekry
  • Nog 'n eet-ens.-sessie en 15h30 het Elsoné weer geslaap en ons het besluit dis nou 'n kans om die DVD te begin kyk, maar kom eers hier by 16h30 daarby uit
  • 18h30 laai Mark en Amy vir ons aandete af
  • Ons eet en toe sê Anné sy het te seer, sy moet nou vir Elsoné wakker maak om te eet, dit was so 19h20
  • Sy is nou net klaar. Daar was twee doeke deel van die proses, wat ek geruil het en heen en weer vir sterilisasie en als so aan. Ek probeer maar om vir Anné toe te laat om net te sit in die rystoel en alles vir haar aan te dra. Dit is maar hoe ek kan help.
Dis ongelooflik hoeveel tyd alles vat, maar aan die anderkant gee Elsoné ons ook darem kans om by 'n paar ander goed uit te kom aangesien sy so lekker slaap. Maar sy is ook so oulik as sy wakker is, ek kan nie presies sê wat oulik is nie. Dit het iets te doen met die feit dat sy 'n klein petite dogtertjie is en myne is.

Nou die dankbaarheidgedeelte. Ons is dankbaar dat dit so goed gaan met ons en Elsoné op hierdie stadium en ek besef dit kan enige oomblik verander. Ek dink in plaas daarvan om te verwag dat dit enige oomblik kan verander moet ek eerder net elke goeie oomblik onvoorwaardelik geniet en vergeet dat dit dalk net tydelik kan wees.

'n Ander dankbaarheid is hoe maklik dinge geraak het vandat ek klein was. As ek moet dink ek sou moes probeer om 'n lapdoek om daai klein lyfie sit en 'n doekspeld. En dan nog doeke was en sulke nonsens, ai. En "wet wipes"! Wat het ons ouers gebruik, waslappe, wat weer gewas moes word? En 'n borspomp om te help dat die borste wat so stu verligting kan kry! En 'n babamonitor. En sterilisering van bottels met 'n bietjie water in 'n mikrogolf wat gou vir 6 minute kook en voila. Wie wil nou met Milton's sukkel? En so kan mens seker maar aangaan.

En dan is ons dankbaar vir die ongelooflike ondersteuningstelsel wat ons nou al hier in die Baai het. Ek dink aan hoe almal vir ons gesorg het i.t.v. sinvolle geskenke by Anné se ooievaarstee(s) en babagrootmaakgoed wat vir ons gegee is wat nie meer gebruik word nie. Ons het regtig nog nodig gehad wat ons moes koop. En dan nog die feit dat daar aandete vir ons gemaak word en ons nie oor dit hoef te worry nie. Ons hoef nie eers uiteetkos te gaan koop nie, wat sou beteken daar moet in 'n kar geklim word en ge-heen-en-weer word. Nou word ons kos afgelewer en dis alles so lekker en gebalanseerd en so bedagsaam omdat Anné borsvoed.

Ons is nog dankbaar vir hoe die wonderlike Skepper wat ons dien vir Elsoné vir ons gegee het. Hy seën ons die hele tyd!

Haar Plekkie in die SA Son

Ek het vanoggend vir Elsoné gaan registreer by "home affairs". Dit was relatief pynloos. Sy't nou haar eie ID nommer en oor 16 jaar het sy stemreg in hierdie land van ons.

Ek het sommer ook vir my en Anné weer 'n huweliksertifikaat laat druk - ons oorspronklike een is mos gesteel toe hulle daar in Rooibosrand by ons ingebreek het.
Posted by Picasa

Pajamadril

Ja, kyk hoe laat word hierdie geskryf. Anné het baie seer, maar soos 'n "trooper" byt sy vas en laat die "show" aangaan. Ek help maar waar ek kan, hol rond, doek ruil ens.

2010-12-10

"Sy is darem bitter klein"

Daar was nou al 'n paar mense wat genoem het dat sy maar klein is, maar ek besef nou net (en toe ek haar doek geruil het) dat dit nie saak maak nie. Daai "size" is al wat ek ken ...

Ek kan ôk!

Ek het nou net vir omtrent 'n uur lank redelik selfstandig vir Elsoné kon sorg. Ek het vir haar melk gegee, 80 ml. Anné het so baie sy kan vir my ook gee om te help met die voedery. Tracey het vir ons haar Medela pompie geleen en ek kan sien dit gaan baie werd wees in die dae en maande wat kom. 

Ek het vir Elsoné op my eie kon doek omruil. Dit was nogal 'n luidrigte een toe sy klaar is met die eerste bottel (40 ml), so ek het nie eers nodig gehad om te kyk of daar 'n vuile is nie. Ek het gekyk of sy nog wou drink en sy het toe nog so 'n klein bietjie gedrink, maar toe ek haar winde uitslaan en haar weer laat sak om te sien of sy tevrede is, was sy lekker slaperig ook. Ek het haar toe sommer in die bed ook gesit dus:
  • Voed (selfstandig) .......................... - Check
  • Winde uithelp (selfstandig) ................. - Check
  • Doek omruil (selfstand) ..................... - Check
  • Aan die slaap maak (o.k. bietjie verneuk) ... - Check
Ek moet ook bysê, Elsoné het dit so maklik as babamoontlik vir haar pa ook probeer maak, shot vir daai een Meisiekind.

Regtig Nou Seer

Anné het regtig nou seer met die melk wat so gekom het. Mens besef nie wat dit en hoe erg dit is as jy daarvan hoor nie. En vir my is die ergste dat daar nie veel is wat ek daaraan kan doen nie.

Glimlag

Ons mag dalk subjektiewe pa en ma wees, maar ons het al lankal gedink ons sien dat Elsoné glimlag, maar het vir onsself gesê dit kan nie wees nie. Dit het nou net weer gebeur terwyl sy besig is om wakker te raak. Ek sal bietjie probeer om die bewyse op kamera vas te lê.

Oor 'n jaar of wat sal ons vir onsself kan sien hoe subjektief ons was.

Frankenhek

Ek het toe nou vanoggend darem die nuwe hek by die galvaniseerders afgelewer. Ek hoop hulle kan dit vir my nog reg hê voor Woensdag.

Ek was so vies vir myself dat ek my dit ook nou nog op die hals gehaal het. Dit was seker nie nodig nie. Aan die ander kant, kyk hoe lyk die ou hek - dit is ook seker maar nodig. Met die dat mej. Joubert haarself tot dusver goed gedra het en ek 'n hele maand by die huis gaan wees, kan ek seker maar probeer om produktief ook te wees.

Ek kan nie wag vir die eindproduk nie, maar dit is nog ver baie moeite tussen hier en dan - ek moet nog die hout bestel.
Posted by Picasa

Fotos: Eerste Bad Tuis


'n Prentjie spreek 'n duisend woorde!
Posted by Picasa

2010-12-09

300 Hits!

Dit gaan nog goed met almal.

Sover is dit 'n luilekker dag. Ons was gou winkelsentrum toe vanoggend om 'n paar goed wat Anné nodig had vir die borsvoedery ensovoorts te kry. Elsoné het die hele tyd geslaap en het op die manier omtrent 4 ure ingekry voor sy weer lus was vir eet.

Ek het netnou 'n vonkpos gestuur vir almal wat dalk nog nie weet van Elsoné nie en die blog het nou net die 300 besigtigingsmerk bereik (Dankie almal!).

Ek gaan nou daai nuwe hek tackle - more is die laaste dag vir die jaar wat die galvaniseerders nog goed invat om te doen. Ek hoop maar ek kry dit voor hulle toe maak terug.

Eerste Oggend Tuis

Gisteraand was baie maklik ...
...
... ek het geslaap en Anné het al die werk gedoen! Ja, ek weet, sy is te goed vir my. Maar sy is natuurlik 'n superheld en as ek vra of sy moeg is, sê sy nee, sy is fine. En sy lyk ook fine. Al pyn is die feit dat die melkman nou begin het om af te lewer, en die "houers" moet nou eers gewoond word aan die ekstra melk.

Maar verder is ons al drie heel tevrede.

2010-12-08

Realiteit

Realiteit is besig om pos te vat. Selfs al is 'Né nog maklik is dit
maar moeite. My superheld vrou moet nou vir 'n uur+ voed al het dit
skaars 2 ure laas gebeur. Dit maak tog sin - Sussa het 'n kilogram of
twee om in te haal. En sy het wel soos 'n "mere mortal" baba tog maar
eers 'n paar onse af gegooi voor sy kan begin optel.

Makiesakie, sy is al klaar besig om diep plekke in my hart te bekruip.

Foto's: Huis Toe Kom

Ek probeer om die storie van ons terugkom-huis-toe met 'n paar fototjies te vertel. Kyk hiersô:


Nuwe Mensie

Ek kan nie glo ek kom huis toe en daar bly ewe skielik nou drie mense hier nie!

Amper Tuis

Ek het nou net by die werk weer gekom nadat ek vir Anné en Elsoné by
die hospitaal gaan haal het en huis toe gevat het; sonder te veel
drama.

Ek moet sê, dit was maar moeilik om weer te ry.

Sal later nog fotos opsit...

2010-12-07

Insink?

Het dit nou al begin insink?

Ek is weer alleen by die huis, maar Anné het my netnou laat weet dag
Elsoné onrustig is. Hulle het vir haar kerrie met lensies vir aandete
gegee en die vermoede bestaan dat dit die rede vir Elsoné se nukke is.

Kan jy glo dat dit vir 'n ma gegee word vir aandete in 'n maternity saal?

Dit was so 'n bietjie van 'n reality check toe Anné my bel om te sê
dat dit nie nou so wonderlik gaan as wat dit tot dusver gebaan het
nie. Maar dit klink of sy darem in beheer is. Ek hoop net hulle kry
darem so 'n bietjie slaap in vanaand.

Ek en John het toe die hek gou weer mobiel gekry, maar die hek se
einde is in sig.

Dit klink of die twee Né'e more dalk sal kan huis toe kom ...

Ingekonkde Hek

Ek was nou net gou daar by die twee ander Joubertjies om te sien hoe dit gaan, en ek is dankbaar om te berig dat dit baie goed gaan. Dit klink of hulle tog more huis toe gaan kom, maar ons sal maar sien.

Ek is by die huis, want ek en John gaan gou probeer om die hek wat nou finaal begin om in te gee weens die seekanker net vir nog 'n week of so diensbaar te probeer kry. Dit ook nog, hoekom nou? Ek sou definitief eerder by die meisiemense wou kuier totdat die saalsusters my daar sou uitgooi.


2010-12-06

Alleen

Ek het nou net 'n goeie blog inskrywing verloor met 'n skielike pap
battery. Dit was die 3e een vandag.

Ek het probeer sê ek is alleen by die huis. Ek is trots op Anné en
baie lief vir haar, sy is 'n ma uitgeknip.
Ek het gesê ek wens hulle kon huis toe kom. Ek het gesê ek loop nie op
wolke nie, maar genoeg het gebeur vandag om te sien ouerliefde gaan
gou pos vat.

Ek het die goed net mooier probeer sê, maar toe slaan die pap battery toe.

Ek voel verlief...

Fotos: Geboortedag, Eerste Bad



Sy het dit nogal goed gevat, sou ek sê, maar dit het nie gelyk of sy regtig daarvan hou nie. Sy sal nog leer bad is lekker, sy is immers Anné se dogtertjie ...

Posted by Picasa