Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-15

Het ek iets gemis?

Ek moet sê dat ek vandag dalk nie 'n baie betrokke pa was nie...

Toe ek wakker word is Anné (en Skoonma) besig om Elsoné te voer. Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. Dit is nou maar vir my mooi, die manier wat sy haar handjie op Anné se bors sit terwyl sy drink en haar ogies toeknyp. As sy so in alle erns suig vir vyf tellings en dan weer ontspan vir 'n rukkie is dalk een van daai goed wat nou so duidelik in my geestesoog is, maar oor vyf jaar sou ek dit heeltemal vergeet. Sulke goed gee vir hierdie blog bestaansreg.

Elke stonde saam met haar het steeds 'n bekoring. Ek besef dit nie noodwendig daar en dan nie, maar dan raak ek rustig en skryf iets neer ... soos nou. Dit is dan wat ek maar weer dankbaar voel en besef ek neem tog maar hierdie wonderwerk(e) op my manier in. Ek beleef dalk nie oorstelping en genot in die oomblik soos ek wil nie, maar op my manier herkou ek dit later en beleef dan die voorreg en die spesiaal daarvan.

My manier is dalk nie heeltemal die norm nie, maar ek verstaan dit. Of is dit ook maar die opwinding waarvan ek hoor as mense jou vertel van wonderlike en slegte belewenisse uit hulle vroeë ouerskap. Vertel hulle my dalk ook eintlik van dit wat hulle besef het gedurende so 'n herkousessie?

Maar ek het nie veel van my gesinslewe gehad vandag nie. Ek het vanoggend met erge hooikoors wakker geword. 'n Paar los punte in die huishouding se administrasie kon vanoggend darem bietjie aandag geniet, maar die hooikoors wou net nie wyk nie. Eers nadat ek 'n aggressiewe teenaanval met allerhande pille, bruistablette en 'n "powernap"van stapel gestuur het, het die hooikoors bes gegee. Ek noem dit nog 'n hooikoors, want ek wil bittergraag hê dit moenie verkoue word nie.

Toe ek wakkerword van die "powernap" moes ek in die kar spring om die gegalvaniseerde rame en hek te gaan haal. Daarna het ek gaan pos uithaal en in die poskantoor tou gaan staan vir 'n pakkie. Ek het gaan vashegters koop om die hout vas te maak aan die hek en heiningrame en ook Woodoc 35 gekry om die hout mee te behandel. En toe is die dag verby ...

Ek het so omtrent 17h00 weer tuis gekom - die dorp was 'n nes!

En deur dit alles was ek siekerig en produktief, besig en rustig, maar had nie veel van my eerste dogter se negende dag nie. Ek het haar so bietjie vasgehou vanoggend in een van haar kuierige luime na 'n voeding. Maar sy het te gou na my sin slaperig geraak en moes ek haar gaan neersit.

Dit was darem vir haar 'n dag van eerstes. Haar vingernaeltjies is vir die eerste keer vanoggend geknip. Vanmiddag het Anné haar gou uitgebring om vir my en John te kom hallo sê toe ons besig was om die staalrame af te laai. Dit was reënerig, m.a.w. Elsoné het vir die eerste keer fyn reën op haar gesiggie gevoel. Ons het haar ook met die badkamerskaal geweeg en dit lyk of sy al so 2.75 kg weeg wat beteken sy is al weer by geboortegewig of beter.

Sy was ook 'n bietjie meer woelig laat vanmiddag en het nie sommer maklik aan die slaap geraak en bly slaap nie soos ons dit gewoond is nie. Ons moes nog 'n paar keer gaan sus voor sy regtig ingesluimer het, maar sy het tog goed geslaap voor sy nou net weer wakker geword het om te kan voed.

So, ek het nou nie vandag ure saam met haar spandeer nie, ek dink die "wittebrood" is ook nie meer so sterk aan't blom nie. Maar dit bly maar lekker om haar hier te hê en te weet dat sy tevrede en gelukkig is en dat dit elke dag 'n bietjie beter ook met Anné gaan.

Ons word verskriklik geseën en die realiteite wat besig is om pos te vat is ek meer as tevrede mee.

No comments:

Post a Comment