Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-25

Oploop Tot Kersfees

Ek en Pa het gister vir John gaan help om deure te gaan koop met Philip Nel se sleepwa (ja, sy sleepwa staan nog steeds by my - Dankie Philipus!). Ons het gou by Cashbuild gestop om te sien of hulle het wat John van sal hou wat hulle wel toe gehad het. Ek het gesê ons moet gou Build-It toe gaan ook, want ek weet hulle het gereëld spesiale aanbiedinge op deure. John was gelukkig, hulle het 'n spesiale aanbieding gehad en hy kon toe op die vier deure wat hy moes koop R260 spaar vergeleke met Cashbuild se deurpryse.

Ons was so 10h30 terug by die huis en ek het toe mos 'n bietjie ingehaal met die blog en tred met tyd verloor. Anné wou nog 'n swemkostuum gaan omruil by Meerensee Mall maar sy het vir Elsoné 'n slag nog gevoed en 'n bietjie vir my gewag om klaar te maak met my skryfwerk en blogadmin. Ek het eers besef hoe laat dit is toe Nicolette my laat weet via vonkpos (sy het kommentaar gelewer op Stoutigheid) hulle werk tot gewone tyd al is dit Oukersdag, wat 13h30 is. Ek wou nog antwoord op haar vonkpos, toe sien ek met 'n skok dit is al 13h30.

Ons los toe vir Elsoné (aan die slaap) by Oupa en Ouma en ek en Anné is toe winkelsentrum toe maar sy kon nie presies kry wat sy wou hê i.t.v. die swemkostuum nie en die winkelares wou nie die geld teruggee nie (na aanleiding van winkelbeleid). Ons het eergister vinnig daar gestop want ons was haastig om by die huis te kom (Anné moes 14h00 by die huis wees vir haar rekenaaropstelling om te kan gebeur om van die huis af te kan werk volgende week). Sy het toe gou 'n swembroek gegryp wat sy al voorheen gesien het daar (hoewel hierdie nou 'n ander kleur was) en gevra of sy hom by die huis kan kom aanpas. Sy het verstaan dat sy hom sou kon terugbring vir 'n terugbetaling of kom omruil. So, Anné was ontstelt omdat sy toe nou nie haar geld kon terugkry na dit alles en sy steeds nie die swembroek kon kry wat sy wou hê nie. Sy het toe maar op haar tande gebyt en iets gekies om darem om te ruil en nie die geld te verloor nie. Ek moet sê ek hou van die swembroek wat sy gekoop het, maar sy is nou nie heeltemal tevrede nie. Ten minste kon sy swem in hierdie verskriklike Richardsbaaihitte. (Ons gebruik omtrent so 120 kWh per dag om net die huis se binnetemperatuur leefbaar te hou!)

In elk geval, ek het tred met tyd verloor, het self nie honger geword nie en het nie besef my ma'le sal dalk al honger wees nie. Voor ons gery het was al wat ek vra of hulle dalk iets wil drink. Anné was bietjie vies dat ek nie vir middagete (en aandete) gesorg het nie en ons moes toe Pick'nPay ook toe gaan! Aijaijai! Ek het dit nog nooit so daar gesien nie en ek hoop om nooit weer daar te wees as dit so lyk nie. Elsoné het verskriklik gedrink gister en Anné het op haar senuwees geraak in die klerewinkel en ek het op my senuwees geraak daaroor in Pick'nPay, toe dit my beurt was vir spoke opjaag. Ons bel toe maar huis toe, maar alles was dood rustig. Ek dink ons was 'n driekwartuur in Pick'nPay daar en ons emosies het hoog geloop. Ons het groente vir slaai gekoop en ons het broodjies, kouevleis en drinkgoed gekoop. Gewoonlik vat ons maandelikse inkopies so lank, nie 'n "brood-en-melk" oefeningtjie nie.

Maar toe ons by die huis kom (15h20) is Elsoné weer rasend van die honger en Anné voed haar toe. Maar sy het die heel dag nie goed geslaap nie, want sy wou omtrent die hele tyd eet.

Sy het selfs so gehuil dat daar vir die eerste keer trane te bespeur was. Anné het net vasgebyt en aanhou voed. En dan is Elsoné rustig vir so 'n halfuur en wil dan weer voed. Dit is seker maar 'n tipe van 'n snelgroeifase wat besig is om te gebeur.

Ons het haar gisteraand hier teen 20h00 in die bed gehad na 'n voedsessie en ek het nog vir haar goed aangevul met 30 ml se borsmelk wat gevries was daai tyd toe Anné so moes uitpomp om die seer te help beter maak. Die twee Nye het toe albei baie lekker geslaap tot 01h00 van 20h00 af, met die plan dat ek sal opstaan as sy weer so dringend wil eet na 'n voedsessie en vir haar nog met die bottel gee. Dit het nie gebeur nie en Anné het weer 05h00 opgestaan (soos gewoonlik) vir 'n vroegoggendvoed.

Maar nou is dit Kersdag en ek hoop alles gaan lekker rustig wees en dat dit nie so warm gaan wees nie. Ons gaan 'n skaapblad of -boud in die oond druk en die dag lekker rustig vat. Dit gaan net ons klomp Jouberts wees.

2010-12-24

Oupa Deon en Ouma Sophie

Dinsdag het ons weer 'n koekonnetjie om ons toegedraai vir die dag en rustig weggekruip vir die Richardsbaai hitte. Ek kan nie onthou presies waarmee ons ons besig gehou het nie, maar ek kan onthou dit was luilekker.

Ek en Tim het vir oulaas 'n lekker (lees moordende) 16 km vir oulaas hierdie jaar saam gaan hardloop. Dit was wonderlik om 'n regte egte "running partner" te kry op wie mens kan steun. Hierdie jaar se kilos wat ons saam gedoen het behou baie geselsies en baie swaarkry en baie lekkerkry. Ek het al lankal vir my Engelsmanpêl gesê hy is die drafgabba wat ek al my hele lewe lank na soek.

Ons het gister onsself begeef in die winkelsentrum om 'n paar laaste kersinkopies te doen. Ons was presies 09h00 daar en toe lyk dit al klaar soos mid-maand Saterdaglaatoggend. So teen 10h00 het dit al heelwat erger gelyk en teen 10h30 was Elsoné rasend van die honger. Anné is toe met haar Elephant & I toe en het in hulle een (van twee) toilet gaan sit en voed. Sy het toe nooit heeltemal rustig geraak terwyl haar pa en ma probeer ontbyt eet het nie en wou natuurlik poeding hê. Anné had gelukkig 'n bottel met 'n bietjie melk in byderhand. Sy wou eers nie daaraan drink nie, maar het dit toe verslint toe sy vir die eerste keer aan die huil gaan en ons weer die bottel vir haar gee. Daar was natuurlik ook die gebruiklike OEEEs en AAAAAs in die koffiewinkel.

Maar gister was weer 'n groot dag in Elsoné se lewe want sy het haar Oupa en Ouma Joubert ontmoet. Ons het nadat ons by die winkelsentrum was gou vir Anné 'n swembroek gekry (wat nie mooi sit nie, hy moet later vandag terug) en is toe huis toe vir 'n rustige middag tuis. Ek het nog bietjie met kersgeskenke gestoei en die twee Nye (Anné en Elsoné) het die "doughnut" getoetsbestuur op ons dubbelbed, maar ek dink nie Anné het veel slaap ingekry nie.


Toe Mamma my laat weet dat hulle Empangeni binnegaan is ek gou L.A.C. Sentrum toe om "brood en melk"en aandete by FishAways te gaan kry. Anné het opgesien om aandete te maak (heeltemal te verstane) en ek het gedag hulle sal van 'n vis en tjippie hou. Hulle het, ons het tog te lekker geëet toe hulle kom. (Ek het natuurlik calamariringe in plaas van vis geëet, maar dit was net die ding!)



Elsoné het geslaap toe hulle aankom maar het klokslag 22h00 wakker geword vir aandete. Haar trotse Oupa en Ouma kon toe darem 'n lekker kansie kry om haar te ontmoet. Hierbo is drie van die fototjies wat die oomblike probeer vaslê. Pa het vandag gesê sy laat hom dink aan Ouma Joey en ek het ook nou al 'n slag of wat self gedink Elsoné het 'n trek of wat na haar ouma-grootjie. Verder is die hoofkommentaar oor hoe klein Elsoné is, maar soos ek al voorheen gesê het, sy is vir my net die regte grootte.

Elsoné se naelstring het uiteindelik darem laat gisteraand ook afgeval, so ek wil êrens vandag of more nog bietjie probeer om mooi fotos van haar te neem.

Stoutigheid

Ek het nou drie dae laas regtig iets hier geskryf en dit was stout van my. Dit maak dit moeilik om momentum te behou.

Nou sit ek al omtrent tien minute hier en wonder wat het gebeur en wat gedokumenteer moet word.

'n Snaakse newe-effek van hierdie openlike blog waartoe die hele wêreld toegang het is die feit dat dit beïnvloed wat ek skryf, ek wou dit nie so hê nie en dis dalk stouterig van my om dit toe te laat. Ek kon tot nog toe sonder veel moeite skryf wat daar te skryf is maar vandag is anders. Soos ek hier sit is daar dingetjies waaroor ek besluit het om miskien nie melding van te maak nie. En ek gaan egter nou "swart op wit" my nek uitsteek en noem dat ek glo dat hierdie dingetjies more of oormore nie meer saak gaan maak nie. Of anders sal dit in die wye oopte wees en sal dit gemakliker wees om daaroor te skryf.

Die beginsel waarby ek ewenwel wil bly is om aan te hou om hier te skryf asof dit my dagboekm was. Ek probeer om nie die "gehoor" aan te spreek nie alhoewel ek en my dagboek weet daar is 'n "gehoor". Toe ek nou ingeteken het was daar al 848 keer geloer wat hier aangaan, so daar is definitief 'n gehoor maar die blog is nie regtig vir hulle nie, dis vir ons drie Jouberts. Ek begin al hoe meer 'n soort selfsugtigheid vir ons drie se belange ontwikkel en ek vermoed dit gaan nog meer groei; dalk tot op 'n punt waar ek vir myself weer sal moet sê dat ek dit nou oordoen. Maar op hierdie stadium dink ek dit is gesond en ons Joubertjies se goeie reg om selfsugtig te wees, of is dit onbedagsaam?

Gepraat van stoutigheid ... Elsoné is ook nou besig om gewoontetjies aan te leer en party mense (haar pa en ma byvoorbeeld) sal dalk begin dink it is 'n vorm van ondeuendheid wat begin kop uitsteek.

Ek dink dis dit vir hierdie inskrywing, ek dink hierdie gedagtes moet dalk so 'n bietjie geïsoleerd bly.

2010-12-22

Naglewe

Ek sit by Anné terwyl sy voer. Ek het nou net Elsoné se doek geruil om
haar 'n bietjie wakker te maak sodat sy goed kan eet.

Die draffie was nogal lekker, maar taai. Dit was baie warm en bedompig
toe ons omdraai en in die bos hardloop; daar was toe geen koelwaaiwind
nie. Dis nogal 'n uitdaging om in die nag daai duinpaadjie te
hardloop.

2010-12-21

Weer Net Ons Drie




Ek het gister albei my kameras laat val en twee keer slange gesien. Die tweede keer het ek die kompakte kamera (Canon Powershot SX110 IS) laat val op pad om hierdie foto hierbo te gaan neem van die Natalse Groenslang(etjie). Hy is heeltemal skadeloos en word gereëld aangesien vir 'n groen mamba. Justice (tuiningenieur) het my darem kom vra of ek bang is vir slange en het hom nie net summier doodgemaak nie.

Ek het hierdie een se neef gisteroggend reg voor my sien val toe ek en Tim deur die groenbelt by Garrick Rise gehardloop het. Ek het vir 'n verandering voor gehardloop en hom vertel dat ek dink ek het een of ander insekbyt gehad. Daar is 'n geswelde klier agter in my nek en my bene was van begin tot end lam en feitlik onbruikbaar. Die oomblik toe ek sê "bitten by some insect" val die slangetjie toe reg voor my. Tim het toe blykbaar op hom getrap omdat hy nie kans gehad het om te sien wat gebeur en aksie te neem nie.





Ek is nou die afgelope 3 dae so rustig gewees, ek begin al skuldig daaroor voel en ek begin al voel my verlof gaan te min wees. Maar ek geniet nog elke oomblik. Ons het gister saam vir die eerste keer volwaardig gaan uiteet met Elsoné by ons. Ons was Nam Jai in Empangeni toe om te gaan soesjie eet. Anné het nooit haar mond daaraan gesit gedurende haar swangerskap nie en dit was nou presies die regte geleentheid met die dat dit ons huweliksherdenking was. Ons het die restaurant baie geniet en die kos was regtig lekker.


Maar ek sal jok as ek nie noem dat dit vir Elsoné tot 'n mate ontstig het om nie by haar selfgekose roetine te kan hou nie. Sy was maar die hele tyd wakker en wou nie op haar eie slaap nie. Ons moes haar ook 'n bottel gee maar sy was nie regtig honger nie en was die hele tyd bietjie knieserig. Maar dit het beteken ons kon haar uit die stootkarretjie uithaal en lekker die OEs en die AAAs laat kom en bietjie spog met haar.
Ons het vanoggend vir Skoonma teruggevat Koning Shaka lughawe toe en het haar so 10h00 afgelaai. Die week het verskriklik vinnig verby gegaan, en Ouma Elize het maar swaar koebaai gesé. Elsoné was op daardie stadium feitlik rasend van die honger, nee wag, sy het geraas as gevolg van die honger, so ja, sy was rasend van die honger. Anné het haar toe maar geborsvoed terwyl ek rustig teen so 90 km/h terug begin ry het in Richardsbaai se rigting. Ons haal haar vreeslik teen ons sin uit haar stoeltjie uit, en sal maar op 'n manier onsself daarby moet begin hou, want dit kan 'n slegte gewoonte raak.

Ons het eers by Darnall gestop om vir Jaco en Neline gou te groet en 'n bier (en ontbyt) te gryp by die buiteklub waar hulle toe net klaar gespeel het. Hy het 85 houe gespeel en sy het 123. Ons het heel lekker gekuier, maar wou dit nie oordoen nie ter wille van Elsoné. Toe ons so 13h45 ry, het Jaco eers in 'n ander Citroen in die parkeertereintjie vasgery maar daar was darem nie veel skade nie.

Ons kon toe darem so 15h15 by die huis rustig raak en Elsoné kon weer begin om haar roetine te soek. Dit sal seker eers more oggend weer na "normaal" toe terugkeer.


Na ons middagslapie het Anné weer vir Elsoné moes voed en ek het gou weer bietjie met my fotos gewoel. Ek het ook gister of eergister begin om die ingangsportaal te modelleer in Google Sketchup. Ons het vandat ons hier bly 'n groot vraag oor wat om met die trap na die vertrek bo ons garage (huidiglik die TV kamer) te maak. Ek dink ek het uiteindelik die antwoord gekry om te keer dat hy so styl is as wat hy nou is, maar dit gaan nog baie detailbeplanning wees en sal moet wag vir die kombuis. Gelukkig het ons darem uiteindelik 'n werkbare idee vir wat nêrens kompromieë maak nie. Al die idees so ver sou behels dat daar êrens met iets negatief sou wees waarmee ons sou moes saamleef, maar hierdie idee sal dit laat lyk of die volume waarin die trappe sal wees so bedoel was en van die begin af ontwerp is.


Ek en Anné het nou twee nagte en een dag wat ons heeltemal alleen gaan wees en dit voel of dit dalk weer 'n bietjie van 'n aanpassing gaan verg. Maar ek sien uit daarna om weer 'n bietjie alleen saam met hulle te wees.

Ek gaan 22h00 op 'n "middernag" stranddraf saam met die atletiekklub en sien baie daarna uit. Dit is laë springety en die maan is vol - ek hoop daar is 'n paar fotos om te neem...

2010-12-20

Sewe Jaar, Twee Weke

Ek en Anné is vandag sewe jaar getroud! Dit was wonderlik sover en met die dat daar nou 'n pragtige dogtertjie deel is van hierdie huishouding ook beteken waarskynlik dat die volgende sewe jaar net so wonderlik gaan wees. Ek sal egter nie verbaas wees as dit selfs nog meer genot teweegbring nie.


Dankie liewe Vader vir hoe U vir my en Anné (en Elsoné) seën en bly seen!


En soos ek al voorheen genoem het, die tyd met Elsoné gaan ook verskriklik vinnig verby - sy is vandag twee weke oud!

Gister was weer baie rustig, al het ek alleen na haar gekyk. Ek het vanoggend vir oom Anton-hulle gesien op my oggenddraffie en hulle vra toe of ek al Pa geword het. Ek sê toe dat dit nou al vandag twee weke is, wat hulle nie kan glo nie, want hulle hoor dan nooit 'n babatjie huil nie. Wel, ons hoor ook nooit 'n babatjie huil nie

Ek moet weer in die W.V.F. rye gaan staan vandag, hopelik is al die papierwerk uitgesorteer en kan ons eis begin vorder.

Intussen kan ek voel hoe die jaar tot 'n einde snel!

Elsoné se Gauteng-grootouers kom Donderdag, ek weet nog nie hoe lank nie, maar dit sal lekker wees om hulle ook hier te hê. Ma Elize gaan more huis toe, ek kan nie glo haar week hier by ons is so gou verby nie!

Dis badtyd vir baba, so miskien is daar nou-nou 'n nuwe foto by die opskrif.

PS.: O, ja. Amper vergeet ek, dis nou redelik maklik om kommentaar te lewer op wat ek hier skryf, dis nie nodig om in te teken as 'n gebruiker van een of ander aard nie. So, die van julle wat nog lees is welkom om sommer kommentaar by die inskrywings te maak. Laat weet net asseblief wie jy is. Ek is nogsteeds nuuskierig om te weet wie vasbyt en die blog lees.

2010-12-19

Ek oorleef...

Ek het vir Elsoné so 'n rukkie vermaak en en probeer om die
KangooPouch te verstaan totdat sy gehuil het vir poeding. Ek het 'n
die melk so 'n bietjie warm gemaak terwyl ek haar doek geruil het. Sy
het toe vinnig begin drink maar gou slaperig gerrak (en weer haar doek
vuil gemaak).

Sy slaap nou en ek kyk krieket; ons albei oorleef!

Net ons twee

Ek en Elsoné is nou alleen by die huis (saam met die brakke). Anné en haar ma is winkelsentrum toe. Elsoné is rustig en gevoed en die krieket begin nounou.