Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-21

Weer Net Ons Drie




Ek het gister albei my kameras laat val en twee keer slange gesien. Die tweede keer het ek die kompakte kamera (Canon Powershot SX110 IS) laat val op pad om hierdie foto hierbo te gaan neem van die Natalse Groenslang(etjie). Hy is heeltemal skadeloos en word gereëld aangesien vir 'n groen mamba. Justice (tuiningenieur) het my darem kom vra of ek bang is vir slange en het hom nie net summier doodgemaak nie.

Ek het hierdie een se neef gisteroggend reg voor my sien val toe ek en Tim deur die groenbelt by Garrick Rise gehardloop het. Ek het vir 'n verandering voor gehardloop en hom vertel dat ek dink ek het een of ander insekbyt gehad. Daar is 'n geswelde klier agter in my nek en my bene was van begin tot end lam en feitlik onbruikbaar. Die oomblik toe ek sê "bitten by some insect" val die slangetjie toe reg voor my. Tim het toe blykbaar op hom getrap omdat hy nie kans gehad het om te sien wat gebeur en aksie te neem nie.





Ek is nou die afgelope 3 dae so rustig gewees, ek begin al skuldig daaroor voel en ek begin al voel my verlof gaan te min wees. Maar ek geniet nog elke oomblik. Ons het gister saam vir die eerste keer volwaardig gaan uiteet met Elsoné by ons. Ons was Nam Jai in Empangeni toe om te gaan soesjie eet. Anné het nooit haar mond daaraan gesit gedurende haar swangerskap nie en dit was nou presies die regte geleentheid met die dat dit ons huweliksherdenking was. Ons het die restaurant baie geniet en die kos was regtig lekker.


Maar ek sal jok as ek nie noem dat dit vir Elsoné tot 'n mate ontstig het om nie by haar selfgekose roetine te kan hou nie. Sy was maar die hele tyd wakker en wou nie op haar eie slaap nie. Ons moes haar ook 'n bottel gee maar sy was nie regtig honger nie en was die hele tyd bietjie knieserig. Maar dit het beteken ons kon haar uit die stootkarretjie uithaal en lekker die OEs en die AAAs laat kom en bietjie spog met haar.
Ons het vanoggend vir Skoonma teruggevat Koning Shaka lughawe toe en het haar so 10h00 afgelaai. Die week het verskriklik vinnig verby gegaan, en Ouma Elize het maar swaar koebaai gesé. Elsoné was op daardie stadium feitlik rasend van die honger, nee wag, sy het geraas as gevolg van die honger, so ja, sy was rasend van die honger. Anné het haar toe maar geborsvoed terwyl ek rustig teen so 90 km/h terug begin ry het in Richardsbaai se rigting. Ons haal haar vreeslik teen ons sin uit haar stoeltjie uit, en sal maar op 'n manier onsself daarby moet begin hou, want dit kan 'n slegte gewoonte raak.

Ons het eers by Darnall gestop om vir Jaco en Neline gou te groet en 'n bier (en ontbyt) te gryp by die buiteklub waar hulle toe net klaar gespeel het. Hy het 85 houe gespeel en sy het 123. Ons het heel lekker gekuier, maar wou dit nie oordoen nie ter wille van Elsoné. Toe ons so 13h45 ry, het Jaco eers in 'n ander Citroen in die parkeertereintjie vasgery maar daar was darem nie veel skade nie.

Ons kon toe darem so 15h15 by die huis rustig raak en Elsoné kon weer begin om haar roetine te soek. Dit sal seker eers more oggend weer na "normaal" toe terugkeer.


Na ons middagslapie het Anné weer vir Elsoné moes voed en ek het gou weer bietjie met my fotos gewoel. Ek het ook gister of eergister begin om die ingangsportaal te modelleer in Google Sketchup. Ons het vandat ons hier bly 'n groot vraag oor wat om met die trap na die vertrek bo ons garage (huidiglik die TV kamer) te maak. Ek dink ek het uiteindelik die antwoord gekry om te keer dat hy so styl is as wat hy nou is, maar dit gaan nog baie detailbeplanning wees en sal moet wag vir die kombuis. Gelukkig het ons darem uiteindelik 'n werkbare idee vir wat nêrens kompromieë maak nie. Al die idees so ver sou behels dat daar êrens met iets negatief sou wees waarmee ons sou moes saamleef, maar hierdie idee sal dit laat lyk of die volume waarin die trappe sal wees so bedoel was en van die begin af ontwerp is.


Ek en Anné het nou twee nagte en een dag wat ons heeltemal alleen gaan wees en dit voel of dit dalk weer 'n bietjie van 'n aanpassing gaan verg. Maar ek sien uit daarna om weer 'n bietjie alleen saam met hulle te wees.

Ek gaan 22h00 op 'n "middernag" stranddraf saam met die atletiekklub en sien baie daarna uit. Dit is laë springety en die maan is vol - ek hoop daar is 'n paar fotos om te neem...

No comments:

Post a Comment