Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-13

Slaaptyd

Baie "ervare" ouers het gesê mens moet slaap as Baba slaap. Vir een of ander rede is dit makliker gesê as gedaan en dit is 'n definitiewe doelbewuste ding wat mens jouself moet voorneem en dwing om te doen. Ek en Anné begin so stadigaan self besef dat dit nie slegte raad is of was nie.

Sy sukkel so bietjie daarmee. Ek het êrens gelees dat een van die groot raaisels van vroeë ouerskap die feit is dat 'n ma feitlik vir vier en twintig uur 'n dag besig bly al slaap baba omtrent agttien daarvan. Elsoné slaap nou nie meer so baie nie, maar die argument staan nog. Anné het gisteraand sigbaar êmps getreke maar het darem gisteraand 'n goeie 5 ure geslaap gekry. Ek het Elsoné teen so 19h30 in die bed gehad en ons het gaan krieket kyk en eet waarna Elsoné weer so teen 20h00 wakker geword het vir "poeding". Van daar af het sy geslaap tot vanoggend 01h00 en toe weer van 02h00 af tot 05h00.

Al wat nog sleg is is die feit dat Anné se slaap nie heeltemal korreleer met daai tye nie, aangesien sy nog borsmelk pomp om verligting te bring soos wat dit nodig is, m.a.w. omtrent met elke voeding. Maar sy het dit nou sou stelselmatig minder en minder laat word en gaan more heeltemal stop tesaam met 'n medikasie wat die laktasie ook sal begin terughou. Dit sal haar omtrent twee tot drie ure 'n dag gee om meer slaap in te kry - wat sy seker nie alles sal gebruik vir slaap nie. Die feit is dat die pompery 'n bietjie lastig begin raak het aangesien dit nie genoeg melk was vir Elsoné nie en dit was ook sommer sigbaar dat dit nie die voedingswaarde gehad het wat dit moes nie. Maar dit is nou amper verby en die volgende uitdaging lê sekerlik êrens om die draai.

My verskoning vir slaperigheid is maar net in 'n klein deel my aandeel tot opstanery teen lawwe ure vir Elsoné. My opstanery teen lawwe ure is om tyd te maak vir ahierdie lawwe hardlopery. Om nie te praat van al die woema wat die hardloop self uit 'n mens se dag uithaal nie. Soos dinge nou staan is my lopende week se afstand al 73 km en ek glo nie dit sal gou weer gebeur nie. Ek kan dit voel en ek kan ook voel dat daai tipe week-in-en-week-uit toewyding by my ontbreek, wat beteken dat ek waarskynlik (en dank Vader tog) nie 'n Comrades in my lewe sal doen nie. Maar mens moet seker nooit "nooit" sê nie.

En die een belangrike ding wat alles onderstreep is dat dit eintlik goed gaan met die twee belangrikste meisies in my lewe. Elsoné is verseker gelukkig en tevrede en dit maak haar wonderma ook gelukkig en tevrede.

la vita è bella

2011-01-09

Fotos: Die Tyd Stap Aan

Die tyd stap aan - dis duidelik as ek kyk hoe vol die blog se opskrifcollage al is. Ek dink dit was die laaste keer vandag wat ek 'n dag-vir- dag foto kon bysit. Van nou af sal dit maar week-vir-week moet wees.

Ons het vandag weer lekker rustig gevat. Onder andere het ek gekyk wat kos Medela Swing onderdele hier teenoor oorsee. 'n Stel onderdele kos hier so R1000 terwyl ons dit hier kan land van Amazon.com af vir R500 waarvan R200 koerierdienste sal wees! Belaglik!

Ons almal was daar bo om te sien hoe die Indiërs ons verniel in die T20 "krieket", maar dit pla my nie - ek het verwag dat ons ver gaan verloor. Morné van Wyk se beurt het my ook hoop gegee, ja. Maar toe hy vir AB uithardloop sê ek vir Anné dis verby, en dit was. Maar ek moet sê dit was nou 'n lekker gepaste afskeidspartytjie vir ou Ntini en ek had ook 'n knop of twee in my keel.

Daarna het ek vir Elsoné gaan bad en gevoer, gewind en in die bed gesit terwyl Anné vir ons kos gemaak het. Toe ek haar in die bed sit sê ek vir Anné: "Easy game, straight up and down". Elsoné is regtig nie 'n moeilike babatjie nie. En ons is dankbaar daarvoor.

Ek wens net sy wil ophou om saam met haar ma vir my te lieg en vir my ook 'n regte egte smile gee dat ek haar kan glo en dit dalk afneem dat die blog my ook kan glo.

Hier is 'n paar ander fototjies intussen sommer net ...







Melksnor

Eerste Medisyne

Fotos: Regte Doek Ramp

Ek het net wakker geword met die kreet "Deon!" daar uit Elsoné se kamer...

Die poeffies het by die doek se rek verbygekom en by 'n Elsoné been afgeloop. Van daar af het sy dit verder versprei dat daar selfs van die kaboenkleurige goed op haar wang gesit het. Sy moes gou gebad word, maar dit het haar die keer glad nie ontstig - sy was seker tevrede met haarself en die persentjie wat sy vir ons gereël het.

Ek grap net met die inskrywing se opskrif, ek gaan nie fotos hier sit nie ek het nie eers fotos daarvan geneem nie. 'n Mens se maag is dalk nie so sterk as hy hierdie later lees as wat ons twee s'n nou was gedurende die rampbestuurproses nie.