Baie "ervare" ouers het gesê mens moet slaap as Baba slaap. Vir een of ander rede is dit makliker gesê as gedaan en dit is 'n definitiewe doelbewuste ding wat mens jouself moet voorneem en dwing om te doen. Ek en Anné begin so stadigaan self besef dat dit nie slegte raad is of was nie.
Sy sukkel so bietjie daarmee. Ek het êrens gelees dat een van die groot raaisels van vroeë ouerskap die feit is dat 'n ma feitlik vir vier en twintig uur 'n dag besig bly al slaap baba omtrent agttien daarvan. Elsoné slaap nou nie meer so baie nie, maar die argument staan nog. Anné het gisteraand sigbaar êmps getreke maar het darem gisteraand 'n goeie 5 ure geslaap gekry. Ek het Elsoné teen so 19h30 in die bed gehad en ons het gaan krieket kyk en eet waarna Elsoné weer so teen 20h00 wakker geword het vir "poeding". Van daar af het sy geslaap tot vanoggend 01h00 en toe weer van 02h00 af tot 05h00.
Al wat nog sleg is is die feit dat Anné se slaap nie heeltemal korreleer met daai tye nie, aangesien sy nog borsmelk pomp om verligting te bring soos wat dit nodig is, m.a.w. omtrent met elke voeding. Maar sy het dit nou sou stelselmatig minder en minder laat word en gaan more heeltemal stop tesaam met 'n medikasie wat die laktasie ook sal begin terughou. Dit sal haar omtrent twee tot drie ure 'n dag gee om meer slaap in te kry - wat sy seker nie alles sal gebruik vir slaap nie. Die feit is dat die pompery 'n bietjie lastig begin raak het aangesien dit nie genoeg melk was vir Elsoné nie en dit was ook sommer sigbaar dat dit nie die voedingswaarde gehad het wat dit moes nie. Maar dit is nou amper verby en die volgende uitdaging lê sekerlik êrens om die draai.
My verskoning vir slaperigheid is maar net in 'n klein deel my aandeel tot opstanery teen lawwe ure vir Elsoné. My opstanery teen lawwe ure is om tyd te maak vir ahierdie lawwe hardlopery. Om nie te praat van al die woema wat die hardloop self uit 'n mens se dag uithaal nie. Soos dinge nou staan is my lopende week se afstand al 73 km en ek glo nie dit sal gou weer gebeur nie. Ek kan dit voel en ek kan ook voel dat daai tipe week-in-en-week-uit toewyding by my ontbreek, wat beteken dat ek waarskynlik (en dank Vader tog) nie 'n Comrades in my lewe sal doen nie. Maar mens moet seker nooit "nooit" sê nie.
En die een belangrike ding wat alles onderstreep is dat dit eintlik goed gaan met die twee belangrikste meisies in my lewe. Elsoné is verseker gelukkig en tevrede en dit maak haar wonderma ook gelukkig en tevrede.
la vita è bella
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking