Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-08-06

Ons Nuwe SA

Ek het hierdie gisteraand geskryf maar was in die rede geval en het toe nie dit kon oplaai nie:
Geen nuus is goeie nuus - ek is seker ek het al dit gesê van hierdie blog - en dit geld nogsteeds. Elsoné groei goed, vorder goed en ons Joubertjies het selde 'n afdag. Die dat dit so stil was die afgelope twee weke hier. 
Maar een ding is seker - hierdie afgelope week was nie 'n week van "geen nuus" vir Suid Afrika nie. En ek het vir die eerste keer in my lewe ervaar hoe my perspektief oor die lewe verander het vandat ek 'n ouer - en dalk meer spesifiek 'n pa - is. 
Ek wil nou nie 'n debat begin nie - daar is meer as genoeg daarvan aan die gang. Ek wil ook nie politiek praat nie. Ek wil neerpen wat my ervaringe die afgelope week of twee was as pa, want dit is vars in my geheue en gevoelens. Plus, oor 'n jaar-of-wat sal dit baie interessant wees om dit weer te lees, ongeag van wat tussen nou en dan gebeur.
Die nuus waarvan ek praat is onder andere berigte oor :
  • die drama in Amerika t.o.v. hulle besluiteloosheid oor addisionele skuld wat hulle moet maak,
  • Malema en die ANC jeugliga se uitlatings oor Botswana se regering
  • Cosatu se erkenning dat nasionalisering op pad is
  • Zenzele Nxumalo se moord vanoggend
  • Apple se patente-oorlog teen Android produkte
Die deel oor Apple en Android is maar net 'n grappie, maar die res werk op my senuwees oor verskeie redes - en ek was nog altyd die ou wat die blink kant aan ons geliefde SA se donker wolkies kon sien. Maar toe Tim Maandagoggend 'n onheilsprentjie skets waarin dit lyk of die ANC jeugliga se hoofagenda is om anargie te stook by die massas sodat die hele land omver gewerp word was die enigste ding waaraan ek kon dink my Mooimooi en hoe dit haar onskuldige lewetjie vorentoe kan beïnvloed. Die gevoel het eintlik my hart sommer omklem. 
En hier waar ek nou sit voel ek sommer belaglik om dit alles te erken - teenoor myself en teenoor elkeen wat hierdie miskien sal lees. Want ek herinner myself nou daaraan dat daar elke nou en dan 'n huidige "groot gevaar" na vore kom vir Suid Afrika en elke keer kry ons 'n manier om tog maar ...
Dis so ver ek gekom het en ek gaan dit sommer net daar los ook.