Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-18

Kallis

Dit voel of die hele land saam met Jaqcues Kallis daai laaste 10 lopies gekry het om vir die eerste keer by 200 verby te gaan. 'n Wonderlike gevoel saam met hom!

Fotos: Allerlei


Die eerste foto was John se idee om te poseer met Frodo en Elsoné op die manier. Ek is mal daaroor. Dit is gisteraand geneem toe ons saam met Jaco-hulle gebraai het.

Foto #2: Ons het vanoggend om die blok gaan loop met die hele kroos! Dit was Elsoné se eerste.

Die derde foto wys dat ons darem drie stelle hande gister was wat die hek klaar gemaak het.

Die laaste foto is sommer net 'n mooi ene van die dames in pienk.

Posted by Picasa

Raak nou Rustig

Ek het drie dae laas iets geskryf hier en die hoofrede daarvoor was uiteraard dat ek maar besig was. Maar dit is nou tyd om rustig te raak en my dogtertjie, my vrou en my vakansie weer te geniet.

Die nuwe hek is klaar, behalwe vir 'n bietjie houtbehandeling wat nog nodig is. Frankenhek is uitoorlê. Dit is die hoofrede waarom ek nou kan rustig raak. Die werk is nog ver van klaar af - die muurinsette moet nog gebeur. Dit is darem nie so dringend nie, want die goed val nie so uitmekaar soos wat die hek uitmekaar geval het laas Maandag nie. Ek is verlig daaroor.

En saam met die hek het ons nog 'n hele klomp kuiermense ook gehad die afgelope twee drie dae. Dit was eintlik lekker om so sosiaal te wees die afgelope paar dae, maar ons is nou eers uitgekuier. Dit sal goed wees om net eers weer bietjie te "regroup". So, ek sit nou en krieket kyk terwyl ek gou ietsie hier skryf en wag om vir Elsoné te gaan bad.

Ek het gister nog in die ry by die departement van arbeid gaan staan om Anné se werkloosheidsversekeringseis te gaan indien. Daar was 'n fout op een van die vorms wat deur Shelly ingevul was en Dr. Dudley het hom geteken. Dit kan eers Maandag reggemaak word want hy was nie Vrydag by die prakteik nie, so dan gaan ek weer in die ry moet staan.

Elsoné raak by die dag meer 'n mensie ('n mooier, goeie gene) en minder 'n baba. Ek sal probeer om die blog se opskrif op datum te hou met fotos wat probeer wys (soos dit nou daaruitsien). Sy lyk al hoe meer soos haar ma, wat 'n goeie ding is. Maar ek kan al klaar voel en verstaan hoekom ouers sê hulle kinders raak te gou groot. Daai eerste week wat sy so klein en dom was en ons so dom was was vir my hemels. Anné het natuurlik baie swaar gekry, maar ek dink dit raak nou vir haar ook regtig lekker.

Ek gaan bietjie later nog 'n paar fotos ook opsit.

2010-12-15

Het ek iets gemis?

Ek moet sê dat ek vandag dalk nie 'n baie betrokke pa was nie...

Toe ek wakker word is Anné (en Skoonma) besig om Elsoné te voer. Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. Dit is nou maar vir my mooi, die manier wat sy haar handjie op Anné se bors sit terwyl sy drink en haar ogies toeknyp. As sy so in alle erns suig vir vyf tellings en dan weer ontspan vir 'n rukkie is dalk een van daai goed wat nou so duidelik in my geestesoog is, maar oor vyf jaar sou ek dit heeltemal vergeet. Sulke goed gee vir hierdie blog bestaansreg.

Elke stonde saam met haar het steeds 'n bekoring. Ek besef dit nie noodwendig daar en dan nie, maar dan raak ek rustig en skryf iets neer ... soos nou. Dit is dan wat ek maar weer dankbaar voel en besef ek neem tog maar hierdie wonderwerk(e) op my manier in. Ek beleef dalk nie oorstelping en genot in die oomblik soos ek wil nie, maar op my manier herkou ek dit later en beleef dan die voorreg en die spesiaal daarvan.

My manier is dalk nie heeltemal die norm nie, maar ek verstaan dit. Of is dit ook maar die opwinding waarvan ek hoor as mense jou vertel van wonderlike en slegte belewenisse uit hulle vroeë ouerskap. Vertel hulle my dalk ook eintlik van dit wat hulle besef het gedurende so 'n herkousessie?

Maar ek het nie veel van my gesinslewe gehad vandag nie. Ek het vanoggend met erge hooikoors wakker geword. 'n Paar los punte in die huishouding se administrasie kon vanoggend darem bietjie aandag geniet, maar die hooikoors wou net nie wyk nie. Eers nadat ek 'n aggressiewe teenaanval met allerhande pille, bruistablette en 'n "powernap"van stapel gestuur het, het die hooikoors bes gegee. Ek noem dit nog 'n hooikoors, want ek wil bittergraag hê dit moenie verkoue word nie.

Toe ek wakkerword van die "powernap" moes ek in die kar spring om die gegalvaniseerde rame en hek te gaan haal. Daarna het ek gaan pos uithaal en in die poskantoor tou gaan staan vir 'n pakkie. Ek het gaan vashegters koop om die hout vas te maak aan die hek en heiningrame en ook Woodoc 35 gekry om die hout mee te behandel. En toe is die dag verby ...

Ek het so omtrent 17h00 weer tuis gekom - die dorp was 'n nes!

En deur dit alles was ek siekerig en produktief, besig en rustig, maar had nie veel van my eerste dogter se negende dag nie. Ek het haar so bietjie vasgehou vanoggend in een van haar kuierige luime na 'n voeding. Maar sy het te gou na my sin slaperig geraak en moes ek haar gaan neersit.

Dit was darem vir haar 'n dag van eerstes. Haar vingernaeltjies is vir die eerste keer vanoggend geknip. Vanmiddag het Anné haar gou uitgebring om vir my en John te kom hallo sê toe ons besig was om die staalrame af te laai. Dit was reënerig, m.a.w. Elsoné het vir die eerste keer fyn reën op haar gesiggie gevoel. Ons het haar ook met die badkamerskaal geweeg en dit lyk of sy al so 2.75 kg weeg wat beteken sy is al weer by geboortegewig of beter.

Sy was ook 'n bietjie meer woelig laat vanmiddag en het nie sommer maklik aan die slaap geraak en bly slaap nie soos ons dit gewoond is nie. Ons moes nog 'n paar keer gaan sus voor sy regtig ingesluimer het, maar sy het tog goed geslaap voor sy nou net weer wakker geword het om te kan voed.

So, ek het nou nie vandag ure saam met haar spandeer nie, ek dink die "wittebrood" is ook nie meer so sterk aan't blom nie. Maar dit bly maar lekker om haar hier te hê en te weet dat sy tevrede en gelukkig is en dat dit elke dag 'n bietjie beter ook met Anné gaan.

Ons word verskriklik geseën en die realiteite wat besig is om pos te vat is ek meer as tevrede mee.

2010-12-14

600 trefslae!

Dit maak nie meer saak nie, al my verwagtinge is klaar oortref, maar maggies; dis da'm lekker!

Fotos: Elsoné ontmoet Ouma Elize


Na gisteraand se kapperjolle was dit nie so maklik as wat dit kon wees om betyds op te staan vir die trippie KSIA toe nie. Ons het toe omtrent 15 na 20 minute later hier weg gekom as wat ons sou wou. Dit het darem beteken dat ek my skoonma vir so 5 minute kon laat wag op die lughawe ;).

Nee man, ek grap net oor my skoonma, ek is baie erg oor haar, maar ek moet die grappies maak oor my "skoonmonster" soos dit 'n goeie skoonseun betaam. Ek is haar enigste (skoonseun), so daar is nie 'n president om te na te volg nie, net een om te skep...

In elk geval, ons het haar toe opgelaai en gou in Ballito se Picadilli Café gestop vir koffie en 'n brêkvisserigheid. Daar is natuurlik lekker ge-"oe" en ge-"aa" oor Elsoné en alles wat mooi en goed en fraai van haar is. Daar was ook ligte kommentaar gelewer oor ons braafgeid (domgeid?) om haar so jonk rond mee te karjakker.

Al die aandag wat sy dogter geniet laat natuurlik 'n pa se hart lekker swel; hy hou uiteraard sy "pose" en maak of hy alles gewoond is, maar skryf later die aand op sy blog daarvan (met fotos).
Posted by Picasa

Spinnekop Verwydering


Ek moes vanoggend 01h45 nog eers die spinnekop bo ons bed verwyder voor Anné haar voete weer in ons kamer sou sit.

Spinnekop-se-kind het hom- / haarself nie lank hierna bevind in 'n maatbeker met 'n glasdeksel op. Nie lank na dit was hy / sy buite in die bedompige Richardsbaai buitelug.
Posted by Picasa

Een-week-partytjie


Ek en Anné het gister 'n paar keer daaroor gesels dat ons nie kan glo 'n week is al verby nadat Elsoné haar opwagting gemaak het nie. Maar dit is soos dit is en ons begin al hoe meer gemaklik raak met die idee dat ons nou drie is. Ek sukkel nie meer so om haar Elsoné (in plaas van Baba) te noem nie, ons weet nou al tot 'n mate hoe om haar gelukkig te hou en dinge wil lyk asof dit al hoe gladder wil begin verloop.

Ek sê dit met baie dankbaarheid en waardering. Sy is nie siekerig nie, sy is nie huilerig nie en ons het soveel om voor dankie te sê. Maar ek weet die situasie is maar delikaat en 'n klein versteuring kan alles verander. Ek het Dinsdag laas week gevoel ek wil verkouerig raak en het toe begin VitC drink om verkoue te keer. Dink maar net as ek wel verkoue gekry het hoe anders dinge dan sou kon wees.

Nietemin. Dit lyk of ons maters ons ook so 'n week gegee het om gewoond aan die idee te raak. Chantal, Henriëtte John en al ons selgroepmaters het gister so op 'n streep hier aangekom en oë gewys.

Maar dit het nie by oë wys gebly nie. Ek het drinkgoed aangebied toe die groep van hulle hier aangekom het, want Anné het nog op daai stadium gevoed. Lourens het daarop aangedring dat 'n sigaar gerook MOET word. Nou ja, een ding het tot 'n ander gelei (soos hulle in Holywood sê) en dit raak toe 'n lekker pizza partytjie. En Elsoné het die hele tyd tog te soet geslaap!

Ons het later in die bed gekom as wat ons sou wou, want ons moes vroeg aan die gang kom om vanoggend vir Skoonma by Koning Shaka Internasionale Lughawe te gaan haal. Dit het nie saak gemaak nie, ons het dit albei geniet.

PS.: Ek het nou net agtergekom die foto met die sigaar in my "bek" is die eerste volwaardige gesinsfoto van ons drie. Ons sal dit een of ander tyd moet regstel.
PPS.: Die sigaar was uiteraard nie aangesteek op hierdie stadium nie
Posted by Picasa

2010-12-13

Fotos: Baba Anné





Nog 'n "vir-die-rekord": Hierdie is fotos van Anné toe sy gebore is. As ek my nie misgis nie, lyk dit of sy en Elsoné net dalkies familie kan wees ...

Posted by Picasa

Fotos: Nog Eerstes

Ek het gisteraand so om die swembad geloop en bietjie vir haar gesing - sy was redelik wakker na haar 20h00 driegang maal (wat so omtrent 21h20 geëindig het). Toe dag ek laat ons sien wat doen die buitelug en 'n paar rock "songs" met 'n solo akappella wiegeliedjie verwerking vir haar.

Ek het dit geniet, maar weet nie wat Elsoné daarvan gedink het nie. Sy het wel lekker lomerig geword en ek kon haar in die kot sit en sy het geslaap tot 00h30.



Hier is nog 'n paar eerstes vir Elsoné:
- Eerste keer wat ek vir haar kos gee
- Eerste keer dat sy 'n hoofdeksel van soorte dra
- Eerste keer dat ek haar bad

Posted by Picasa

500 Hits!

Ek het dit nie verwag nie, dankie almal.

Ek is so nuuskurig om te weet wie almal kom loer wat hier aangaan. Lewer bietjie kommentaar deur te kliek op "# comments" by enige van die insetsels. Of stuur vir my vonkpos by spastika+blogentaar@gmail.com en laat weet wie jy is en hoekom jy aanhou terugkom en kom kyk wat ek hier kwytraak.

2010-12-12

Mocha se oor

Vandag kan deurgaan as 'n niekerbol dag, hard maar lekker. Dinge het
goed verloop tot Anné vanmiddag Mocha se oor skoon gemaak het wat al
ewig septies raak.

Sy het laas Sondag gevra of ek dit sal doen terwyl sy nie kan nie. Ek
het eenvoudig gesê dat ek nie wil nie en dit is toe daar gelaat. Toe
sy dit toe nou vanmiddag dit weer doen het sy oor slegter gelyk
en is sy toe vies vir my. Sonder om te veel te sê; ons het so bietjie
die saak gedebatteer tot ek besef het ek het maar droog gemaak. Toe ek haar soek sien ek sy
het alleen om die blok gaan stap.

Ek en die brakke en die AngleCare het op die trappe gaan sit en vir
haar wag. Dit het natuurlik soos 'n ewigheid gevoel. Maar toe sy by
die huis kom kon ons vir mekaar 'n druk gee en vir mekaar sê ons is
jammer.

Daar is maar tekens dat dit taai is, al is dinge so maklik as wat
Elsoné dit vir ons kan maak. Anné het permanent seer en dit moet
uitputtend wees. Die pyn se ergste word darem bietjie met die pille
getem, maar dit bly maar seer.

En ja, die vraag word gevra of die borsvoed die moeite en die pyn werd
is. Vir nou gaan sy / ons vasbyt. Ons het nou al redelik geleer om te
kop bo water te hou daarmee en sy het vaoggend al begin dink die ergste stu van
haar borste is beter. Maar dit was vanaand maar weer erg. En ek wens
ons het nie baklei nie, want alles het erger en moeiliker gevoel
daarna.

Maar more is nog 'n dag, more leer ons nog nuwe goed van ons nuwe
kombinasie. En hopelik raak dit selfs nog 'n bietjie makliker...

Grapgatjie

Ek het nou net 'n bondeltjie wasgoed in die masjien gesit, want madam het die baie klein geleentheid tussen:
  • vuil doek onder haar boude en
  • skoon doek onder haar boude,
genaamd net die handoek onder haar boude gebruik om 'n vuile te druk.

Sy dink dit is snaaks, oftewel, sy gee daai smile wat ons dink dalk 'n smile kan wees.

Fotos: Babakamer

Net vir volledigheid | For the sake of completeness:

Dis hoe Elsoné se kamer gelyk het voor sy gekom het. Hy lyk maar nog so, behalwe dat dit nou duidelik is dat daar 'n klein mensie bly en gesorg word.

This is what Elsoné's room looked like before she arrived in our lives. It still looks like this, except that it is clear it is being used to raise a little human who stays there.








Posted by Picasa

Was dit regtig sy?

Hierdie foto was een van haar scans gewees op 25 Augustus hierdie jaar. Ek sal jok as ek moes sê dit lyk soos sy, nou dat ek weet hoe sy lyk.
Posted by Picasa