Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2016-01-12

"Richardsbaai Skool"

Mooimooi noem Laerskool Richardsbaai hier in Meerensee "Richardsbaai Skool". Sy het einde laasjaar afskeid geneem van ons geliefde Muishuis (kleuterskool) en die wonderlike mense wat daar werk. Haar fokus het verskuif na waar sy nou uiteindelik Richardsbaai Skool toe kan gaan.

More breek daardie dag vir haar uiteindelik aan. Sy is in 'n stadium waar sy knaend wil weet hoe oud is die een en daai een en hou aan om ons te vertel hoe dinge gaan anders wees as sy "ses-jaar-oud" is en as sy "tien-jaar-oud" is sal sy die of daai nuwe vermoë hê. Sy wens haarself knaend ouer. Een van hierdie mylpale wat gepaardgaan met waargekome wense van "gevorderde" ouderdom breek more vir haar aan - sy gaan grootskool toe.

Graad R kwalifiseer seker nie regtig as grootskool in die volle sin van die woord nie, maar dis verpligtend en haar skoolloopbaan met uniform en strenger dissipline en alles wat daarmee gepaard gaan, begin more.

Dit is dalk ook 'n aanduiding dat sy nou heeltemal te oud daarvoor geword het dat haar pa meeste van die tyd aan haar dink as sy babadogtertjie. Ek is nie meer besig om 'n pa te word nie - teen die tyd IS ek nou al regtig Pa(ppa).

Ek kan nie anders as om cliché-agtig te raak en te sê dat ek nie kan glo hoe gou die tyd verbygegaan het nie. Dit is immers meer as 5 jaar vandat ek die eerste inskrywings in hierdie blog gemaak het. Daar is derduisende fotos van haar geneem, daar is duisende kere saam met haar gelag, daar is honderde kere saam met haar nuwe goed ontdek.

Dis 'n nuwe eratjie wat aanbreek vir die Jouberts, ek sien uit, want nog elke era saam met Mooimooi het sy eie lekker meegebring. Maar my en Anné se era saam met ons "baba"-dogtertjie is besig om te verstryk en dit gee my 'n knop in my keel.