Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2026-01-19

Ons gaan Two Oceans se Begin-42.2 in Durban Hardloop

Almal wat maratonne hardloop weet ’n plat maraton-pas dra nie net so oor na een met bulte nie. So, hoe beplan en oefen mens vir die "belasting" van Two Oceans terwyl jy in die plat Richardsbaai bly en realisties net ’n plat resies soos Durban se Best of the Best kan gebruik om voor te berei?

Vir my vierde "Oceans" (en Ann'e se eerste!), het het ek ’n plan uitgewerk wat die raaiwerk bietjie probeer uitskakel.

Haar Storie is Anders as Myne

My eie toetrede tot die ultra-wêreld was nie vreeslik "organised" nie. In 2011 het ek en Tim, ons eerste maraton saam gehardloop net om te kwalifiseer vir Two Oceans. Ons het albei die ultra daardie selfde jaar aangepak.

Die tydsberekening was wild. Mooimooi is net ses maande voor die groot resies gebore. Tim se Bethany is presies ’n week voor Elson'e gebore! As mens nou terugkyk kan jy seker vergewe word as jy wonder of ons probeer weghardloop het van die nuwe babas in die huis?

Hierdie keer, in 2026, is die benadering vir vroulief se eerste ultra anders. Sy pak haar eerste ultra aan met die ervaring van drie maratons oor 'n tydperk van so 3 jaar. Sy is baie beter voorbereid as wat ek was in 2011. So, as deel van hierdie goeie voorbereiding, wil ek die oefen-maraton in Durban ook 'n goeie plan en rede gee vir daai dag.

Die "7-uur" Strategie

Ons groot Two Oceans doelwit is vas: ’n gemaklike brons medalje (onder 7 uur). Daarvoor het solank ’n growwe PacePro-plan vir 6:45 uitgewerk (gemiddeld 7:13/km) om te begin beplan vir Best of the Best.


Two Oceans vereis respek vir elke bult en vir elke kilo. So, die plan gebruik ’n konserwatiewe positive split. Ons "bank" energie vroeg, al hardloop ons die eerste helfte bietjie vinniger, want daardie tweede helfte met Constantia-nek is baie moeilker as die eerste. 

As daai plan dan oorgedra word na die plat Durban-roete toe, gaan ons nie net teen ’n egalige tempo die Durban-resies hardloop nie nie; ons simuleer die spesifieke intensiteit van die Oceans-plan - kilometer vir kilometer.

Die Wiskunde: "Effort-Kilometers"

Die idee wat my tot die somme gelei het is dat hoogteverskil eintlik net ’n afstand-straf is. M.a.w. as mens opdraende hardloop is dit meer moeite en daai moete het 'n syfer wat omgeskakel kan word in ekstra afstand. Ek gebruik die "Effort Kilometer" formule; blykbaar ’n weergawe van Naismith se Reël uit 1892. 

Dit en ander navorsing kom uit by:

  • Die Klim-belasting: 1m se klim = 8m se ekstra horisontale moeite.

  • Die Afdraande-korting: 1m afdraende = 4m se afstand "gespaar."

(okei, okei, ek was seker 'n bietjie lui om regtig die joernaal artikels self te lees - maar hierdie duimsuig verhouding voel vir my of dit sin maak en ek en Gemini het toe al 'n paar biere saam gedrink teen daai tyd, so to glo ek maar vir Gemini)

Die Durban Simulasie

Met hierdie verhoudings het ek die "Effort Distance" vir elke kilometer van die eerste 42km van Two Oceans bereken. Van daar af kon ek dit omskakel na ’n Simulated Effort Pace vir Durban resies, weer kilometer-vir-kilometer.

Byvoorbeeld, kilometer 33 van TTOM het ’n 67m klim. Daardie 1km "kos" jou liggaam eintlik 1.536km se plat moeite. Om daardie klim in Durban na te maak, moet ons die tempo op daardie spesifieke kilometer drasties opstoot om die werk van die hart en bene in die Kaap te simuleer. In Durban gaan ons net 5 meter klim op die 33e km, so ons gaan dit in 5m52seks moet hardloop i.p.v. die 8m40seks wat Pace Pro help beplan het vir TTOM.

Die Bloudruk

Om ’n plat maraton te hardloop, berei jou nie voor vir die skokke van ’n ultra soos Two Ocens nie. Elke kilometer is sy eie klein veldslaggie. Met hierdie benadring wil ek ons 'n kans gee om uit te kom by 42km en the voel soos ons die dag met die ultra gaan voel. Ultra-maraton hardloop gaan daaroor dat jy fiks genoeg moet wees op die dag, maar ook in jouself moet kan glo om nog 'n kilometer aan te pak as jy heeltemal "oor dit" is. 

Sy het die fondament vir 'n ultra, want sy hardloop al jare. Nou het sy die ook 'n bloudruk van hoe om die resies te hardloop in Durban. Ons sal maar sien of hierdie "number crunching" van my iets werd is.

Raait, daar is nog heelwat oefen wat nodig is om vir Best of the Best op te daag, maar dis lekker om 'n plan te h en te weet ons het iets om voor te mik op die dag.

2024-07-14

BigC'24 8️⃣ Kameraad Rudi

Dit voel of daar vreeslik baie gebeur het wat ek kan onthou rondom Umlaas Road. Dis hier waar ek vir AndreM weer gesien het, vir Lebogang ontmoet het en 'n ent saam met Zakhe gehardloop het. Dis ook hier, rondom die 17-km-om-te-gaan-merker wat ek weer 'n groen nommer sien. Een met 29 wedlope agter die blad. Hy is dus besig met sy 30e Comrades!

Ek het nog nie op daai stadium saam met 'n groen nommer gehardloop nie en al lankal gewens ek hoef nie alleen te hardloop nie. En toe probeer ek vir Rudi van Hartbeespoort "opchat" met my flou "chatup-lines" wat tot dusver nie gewerk het nie...

BigC'24 7️⃣ Comrades Kamerade

Diep in die Lewe

Daar is seker nou al genoeg gewag gemaak van my ervaring van die BigC'24 as 'n harde resies. Dit was nie (soos verwag) net 'n "lange" wat aanhou en aanhou nie. In die omgewing van Cato Ridge/Camperdown het ek begin besef vandag hol ek 'n resies wat blykbaar nie einde kan kry nie. 

Tog, as ek eerlik is, was ek nooit op 'n punt in die resies waar ek myself ontmoet het soos wat BruceF sê nie; iets wat ek verwag het om te gebeur.

MAAR
As ek eerlik bly, moet ek ook erken (en erken en erken en erken) die Comrades het my ordentlik getoets. Miskien is die "ontmoet" ding iets wat gebeur as mens 'n jonger "novice" (groentjie)  is en jouself nog nie voorheen ontmoet het nie. 
(terwyl ek nou tik lyk die my lettertjies soos dié van 'n vreeslike slimjan; ek was nie; ek was erg op my limiete)

Comrades 2024, die BigC'24, was 'n magtige, groot, spesiale oomblik in my lewe...

Kamerade

DawieA was nie net op die dag daar by Camperdown deel van my eie eerste Comrades-storie nie. Hy't saam geoefen vir die resies wat hy self al 3 maal gedoen het. Ongelukkig, in 2024 het 'n besering so 2 maande voor die tyd hom ontneem van 'n poging op die groot dag. Feit is, daai paar treë wat hy (kaalvoet🦶🏻?) saam met my met gehardloop het was as volwaardige Comrades-kameraad

En Dawie was allermins die enigste...

My maters saam met wie ek in Blok G begin het en honderde kilos in voorbereiding mee saam gehardloop het: Comrades-kamerade.

Die groen nommers langs die pad wat ek nog voor Fields Hill al begin "opchat" het om te hoor of hulle plan vir die dag versoenbaar is met myne: Comrades-kamerade.

Die vreemde hardlopers op die pad wat ek my flou grappies op losgelaat het so nou en dan 'n laggie terug gekry het: Comrades-kamerade

Al die gesels en beplan en saam oefen vir BigC'24 wat ek en AndréM gedeel het, het 'n kersie op die koek gekry toe ons mekaar op die dag kon sien op die Harrioson Flats en toe later weer net voor Umlaas Road. Ek mag nou vir André 'n Comrades-kameraad noem.

'n Groot bron van kameraadskap is al die Zoeloelanders met bekende klubkleure (RBAC, ZMSC, Mtunzini, Umhlathuze, NRB Harriers, RBM ens.) wat ek elke nou en dan gesien het. Ek groet dan oordadig deur hulle klub-naam uit te skree, 'n ou gewoonte van my op 'n resies. Dit word altyd met 'n glimlag (partykeer deur pyn) begroet as hulle die RBAC kleure sien: Comrades-kamerade.

Ek en Comrades-kameraad Lebogang by Umlaas Road

Bo op die brug wat oor die N3 gaan by Umlaas het ek vir Lebogang Thole van Soweto[1] raakgehardloop. Hy was toe nou die eerste hardloper in 68 km saam met wie ek meer as 'n paar treë kon hardloop. Ons het sommer lekker aan die kuier geraak en gesels oor sy huidige en vorige Comrades en my groentjie status. 'n Ent later het hy by familie van hom gestop langs die pad, maar toe was hy klaar 'n Comrades-kameraad.

Ek wonder of dit 500 meter verder was wat ek vir Zakhe Qwabe raakhardloop. Hy werk ook al jare by BELL. Ons is kollegas wat redelik gereëld met mekaar te doen kry, maar nou kon ons óók 'n kilo of so saam hardloop: kollega en Comrades-kameraad.

Almal wat al Comrades gedoen het, hierdie jaar of voriges, voel vir my soos Comrades-kamerade. Selfs die wat ek nie eers van notisie geneem het nie, Comrades-kamerade. Ek kan dit ook selfs sê van die Engelsman-busdrywer wat êrens in Pinetown vir my/ons geskree het ons moet ons hande opsteek as ons begin stap. Al die Comrades hardlopers van Richardsbaai, Empangeni en Zini saam met wie ek al 'n paar kilos gehardloop het of duisende kilos, julle is veral spesiale Comrades-kamerade

En so kan ek aangaan en aangaan ... 



VOETNOTAS
[1]
Die wonder daarvan om in 2024 is al die data en inligting wat beskikbaar is rondom die resies. Ek kon vir Lebogang opsoek op die Comrades webblad omdat ek sy nommer kon kry op die YouTube video van ons twee wat by die Umlaas Road tydhou punt verby hardloop.
What a time to be alive!

2024-07-01

BigC'24 🔀 Allerlei - Sokkies 🧦

Wat's die nou?

Ek het my BigC'24 storie probeer vertel op 'n manier wat alles mooi op mekaar volg, maar party goeters pas net nie so lekker in nie, of sou die ander inskrywings onnodig lywig gemaak het. So, hier is 'n plekkie vir die goedjies wat ek tog wil vaslê.

Sokkies Besluit

Ek het met my Suid-Afrikaanse vlag sokkies gehardloop. Ek het met hulle vooraf "langes" gedoen - ek dink die 40km het ek met hulle gedoen. En die heel tyd voor die resies was ek in 'n worsteling oor watter sokkies om te gebruik.

Ek was baie lus om met my SA-vlag sokkies te hardloop, maar was bekommerd omdat hulle dunner is as my pienk (vrek gemaklike) Falke sokkies.

Pienk, vrek gemaklike, Falke sokkies


Aan die ander kant was daar 'n "lange" wat ek met die "hidden" sokkies gehardloop het, en hulle my bietjie kon bykom net bo die tong van my skoen en 'n bietjie rou geskaaf het. Iets wat NOG NOOIT met al my Falke sokkies gebeur het nie!

Dit was tot die aand voor die Comrades nog vir my onseker watter sokkies ek mee gaan hardloop. Ek kon alles baie mooi voor die tyd "uitfigure", maar die sokkies was 'n worsteling wat net nie op 'n punt kon kom tot op daai laaste oomblik nie.

Iedergeval, my patriotisme en pragmatisme het toe saam gewerk en ek het opgedaag met my Versus sokkies (amper soos dié).

Sokkies wat Grootword

Met die dat ek tot 'n besluit kon kom oor 🇿🇦 sokkies was ek een van baie die oggend van die resies. Maar dit het my glad nie gepla nie. Ek het vroeg-vroeg al gesien daar is hordes ander wat ook met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies hardloop. Ek wou graag vir iemand op die regte oomblik sê "Ek hou van jou sokkies" of "I like your socks"

Terwyl ek nog saam met my hardloopmaatjies gehardloop het dit soos 'n baie flou ding gevoel om te sê vir 'n vreemdeling terwyl ek sulke lekker geselskap om my gehad het. Maar toe ek alleen begin hardloop het die "drang" om dit vir iemand te sê al hoe sterker geword. Vir een of ander rede het ek net nie so ver gekom nie. Ek dink die oomblik het nooit reg gevoel nie, asof ek gedink het ek gaan nie die reaksie van die mede-moeg-kameraad kry vir so 'n flou opmerking nie.

Maar toe, êrens voor Inchanga het ek 'n vroutjie met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies ingehardloop. Maar hare was nie so kort soos myne nie. Dit was haar hele kuit se lengte. Met 'n baie ouliker ontwerp van die vlag.
(ek het nou hard gesoek, maar kon nie 'n voorbeeld van dit op die web gekry het nie)

Toe ek dit sien, weet ek hier is my kans... Ek het die pas bietjie aangedraai om op die regte oomblik by haar verby te wees dat sy my sokkies kon sien. Sy het verseker my flou grappie gevang, al is Engels ons albei se tweede taal.

"Oh, wow, that's great! Now I know what my socks will look like when they grow up".

My 🇿🇦 Sokkies




2024-06-22

BigC'24 6️⃣ Alleen in die Onbekende

Met Inchanga agter my en die 30 km om te gaan merk voor my was ek op 'n goeie plek in die resies. Ek het geweet die heel ergste klim is verby en ek is nog binne my vermoëns. Nog so 10 km, dan is ek verder as wat ek al ooit gehardloop het...

Dis nou die Harrison Flats gedeelte, veronderstel om platter en makliker te raak. Vir my is dit nie 'n plek om regtig probeer druk nie - daar is nog amper 'n hele maraton oor! My voete is seer, al van 30 km af, en my hamstrings pla, ook omtrent so lank. Op 'n stadium het dit gevoel of daar los goed rondskuif in my skoene - ek wonder toe of ek op los velle en blase hardloop, maar die gevoel het gelukkig weer weggegaan. Van die seer voete kan ek nie dieselfde sê nie - hulle was enduit moeg en seer.

Dit is hier rond wat ek ook besluit het ek het genoeg met pyn gehardloop en toe maar wel 2 pynpille gedrink. Terwyl ek hier skryf, is alles wollerig na die tyd, maar ek dink dis rondom die tyd wat ek die lekker-poepe ophou vertrou het en 'n Immodium of twee gedrink het.
(SPOILER: Toe die resies verby is het ek nie 'n enkele bio-breuk nodig gehad nie)

Ek wil wil onthou dat ek dalk myself meer stap-kans gegun het as wat ek dalk moes, maar waar daar 'n ligte opdraende was daar 'n bietjie verligting in hardloop omdat my hamstrings dan nie so seer was nie en ek het aanhou goed vorder. Ek het selfs begin om verlore tyd op te maak, maar nie naastenby genoeg om weer te begin droom oor 10 ure nie.

Anné het my teen die tyd laat weet dat hulle my nie by Cato Ridge sal kan sien nie. Dit was verseker 'n teleurstelling, maar ek het voor die tyd ook geweet daar is 'n kans dat dit kan gebeur.

Ek sluit aan by Jephrome en André (skermskoot vanaf sy YouTube video)

Skielik sien ek vir AndréM en JephromeV teen 'n ligte opdraende voor my stap. Ek weet toe ek gaan hulle vang, en was bly om bekende gesigte te sien. Maar my hart het ook bietjie gesink vir André, want toe weet ek sy 10 ure droom is ook daarmee heen. Ek het by hulle aangesluit en saamgestap vir 'n ent, maar toe ons weer hardloop kom ek agter dit is te veel inspanning vir my om by te bly en ek het hulle laat gaan. Ek was glad nie bewus van die pas nie, net dat ek nie dit kon bekostig om saam te probeer hardloop nie. En net so was ek weer alleen, met nog ver om te gaan.

By die 30 km bord (Two Oceans afgelê) is dit amptelik - ek het nou al verder gehardloop as ooit. Ek het nog kans gesien om verder te gaan, verseker. Maar ek was baie moeg al en 30 km het vrek ver gevoel. Ek het ook my verbeel ek is meer moeg as wat ek na enige Two Oceans was, maar ek dink nie dit is waar nie. Die ander ding wat ek ook opgemerk het is dat ek al amper 7 ure hardloop! Wat!? 

Dis nog ver - maar ek het hier rond begin weet ek sal kan vasbyt tot die einde, maar was nie seker of daar nog 'n vreeslike selfontdekkings oomblik vir my voorlê nie. Ek het myself verseker 'n bietjie jammer gekry.

En toe, DawieA se opgewonde vriendelike gesig toe ek om die draai in Camperdown in hardloop. Hy vra, "Hoe gaan dit met jou?" en ek antwoord, "Nou gaan dit beter". Dit het regtig sommer net gehelp omdat ek ek toe nie vir Anné-hulle te sien kon kry nie. Hy't my verseker dat ek nog goed lyk, wat ek geglo het en dit het verseker gehelp. Hy't ook genoem dat AndréM net voor my om die draai is.

So was Camperdown toe 'n goeie plek om deur te hardloop al kon my mense nie daar wees nie en ek allerhande redes gehad het om moeg te wees. Ek het selfs 'n bietjie nuwe moed gehad. Dankie Dawie!

BigC'24 5️⃣ Plan B-en-'n-Half

Met die dat ek vrede gemaak het dat plan-A, die droom van sub-10 ure nie meer sinvol is om na te streef nie dink ek, het ek ook 'n bietjie ontspan en dit het my 'n lisensie gegee om die bulte nog meer respek te gee.

Moenie 'n fout maak nie - dit het nogsteeds soos 'n resies gevoel. Dit was die een groot verrassing van die dag gewees. Van vroeg af het dit al die resies gevoel gehad - soos 'n maraton wat ek 'n pas moet hou om 'n tyd te jaag, maar hierdie keer nie regtig met 'n pas of jaag ingedagte nie. Ek kon net voel daar is inspanning en dinge gebeur nie net vanself of maklik nie. Dis redelik voor die hand liggend hoekom. Teen halfpad in die resies het ek al gevorder tot meer as 700 meter bo seevlak. Dit is 'n 10e van al die klim wat ek nog die heel jaar in al my voorbereiding gedoen het!

Net voor Drummond is daar nog 'n ZMSC gazebo en 'n Sterri Stumpi met my naam op! Letterlik... Ek sien sommer van ver af hoe NikkiC hom so hoog as moontlik hou met die "DEON" plakker[1] op. En, maggies, was ek bly om hom op te slurp (die keer stadiger en versigter as die koffiemelkie). Ek het weer vars Jelly Teddies en swieties gegryp. Nikki het ook 'n klein geel daisyrigge blommetjie in my hand gestop vir oom Arthur. Ek onthou ek het rustig gestap met die blommetjie in die een hand en die Sterri Stumpi in die ander en gedrink soveel as wat ek kon. Ek het toe probeer om my oorskiet Sterri Stumpi vir iemand wat saam-hardloop te gee wat sou belangstel, maar daar was niemand wat wou nie, verbasing. Nog 'n laaste sluk, en toe in die naaste drom. Was dit nog 'n poep wat my nie kans gegee het om te wag tot ek alleen in die binnebaan was nie?

So met die hardloop na Drummond se halfpadmerk is daar 'n lekker 'vinnige' afdraende. Hier by my is 'n ou wat vra, "Wat is dit met almal met die blommetjies?". Ek sê toe vir hom dat Arthur's Seat net hier voor is, na die "Wall of Honour" en ek klink toe vir hom blykbaar of ek 'n gesoute Comrades-hardloper is. Ek sê toe, nee, dis my eerste, waarop hy iets antwoord soos, "O, jy't actually die play-book gelees?". So-iets, ja. Dit was die heel pad goed gewees om presies te weet waar ek is en wat volgende vir my voorlê, al het ek die roete nog nooit gehardloop nie. By die "wall" verby het ek gou die blommetjie by oom Arthur se sitplek gegooi, my hoed gelig en gesê: "More, oom Arthur". Ek kon amper nie glo toe ek die Toyota advertensie borde om die gat in die klipmuur sien nie, maar ek dog toe maar dit is hoe dit altyd is. En net so had ek ook deel aan hierdie Comrades tradisie, maar net so, in 'n oogwink is dit verby. 

Deel van die "roete-weet" was nou dat Inchanga baie naby was. Inchanga - my strategiese mikpunt, oor hom sonder drama, hopelik selfs vars. Teen die tyd was "vars" nie meer ter sprake nie, maar met my dyspiere wat die heeltyd voel of hulle te hard al gewerk het, was "sonder drama oor" ook nie 'n gegewe nie.

En toe die opdraende van Inchanga kom het ek aanhou hardloop totdat ek voel daar is meer inspanning. Die respekstap skop in en die dyspiere werk hard. Ek het op my pas-notas merkies gemaak by Inchanga om my te herinner daar is 'n klomp draaie wat mens laat dink jy's nou klaar, maar dan is daar nog Inchanga. Ek onthou hoe AndréM sê dit is vir hom die moeilikste bult. So, ek hou aan respek gee, maar selfs 'n draffie of twee teen die bult, want my bene voel eintlik heel sterk teen 'n bult en dan werk die hammies nie so hard nie.

Inchanga se Baas, met respek (Daar's Waldo!)

Met elke draai maak ek 'n punt daarvan om nie opgewonde te raak dat Inchanga verby is nie. Toe ek regtig bo kom, weet ek ek het dit gedoen. Ek het myself 'n kans gegee vir 'n eerste Comrades volgens my potensiaal en dit nie ge-"blaas" op die eerste helfte se opdraendes nie.

[1] RialineS het vir al die ZMSC hardloop-maatjies plakkers met ons name op gedruk om op ons muti-houers te plak om maklik langs die pad te weet wie s'n is wie s'n.

2024-06-21

BigC'24 4️⃣ Almal het 'n plan ...

Mike Tyson

Ek het baie moeite gedoen voor die resies om die roete goed te ken en 'n goeie idee te hê van my strategie en hoe ek dit sou aanpak. Maar ek het nie geweet of dit iets werd is nie. Wat ek wel geweet het, is dat ek ten minste moet probeer om te beheer wat ek kan.

Deel van hierdie "beheer" was om 'n pace chart te hê. Ek het André Maakal s'n my eie gemaak. Dit was iets wat ek en hy al twee maande voor die tyd begin bespreek het. 'n Hele ruk voor dit, het ek ook al vriende se 2019 Comrades Strava data geanaliseer. Ek het met die analise probeer om 'n gevoel te kry wat gebeur met mens se pas deur die loop van die resies soos wat die bulte hulle tol eis en die dag lank raak.

Al my beplanning het my rustiger gemaak oor die resies, maar ek het nogsteeds 'n gevoel gehad van "ek weet niks" toe ek opdaag vir die groot dag. My hoofplan was om net tot anderkant Inchanga te kom sonder om te kramp.

En net daai is wat my al op 50km om te gaan in die bek geruk het. Ek het nog nie eers 'n maraton gedoen nie en het op 'n afdraende voor Kearsny College bietje "laat los" (ek sien nou terwyl ek skryf ek het vinniger as 5min/km gehardloop 😱) toe ek voel my hamstrings gaan nie hou nie. Ek het al voor dit gevoel hulle is moeg, maar hier het hulle my bang gemaak. Ek het op hierdie oomblik besef die 10 ure droom is by die deur uit. Dit het my nie gepla nie. 

Wat my wel gepla het is dat ek skielik onseker was oor my hamstrings wat die onbekende hoeveelheid kilometers moet hou om oor Inchanga te kom sonder 'n kramp. Dit was regtig al wat ek wou bereik voor ek in die bek geslaan word en al die planne tot niet kom.

BigC'24 3️⃣ Dis 'n Resies

Ek onthou duidelik die steilheid van die "onramp" na die King Cetshwayo deurpad wat my sommer dadelik ook laat stap het - maksimum respek. Baie min hardlopers om my het Fields Hill sonder respek aangepak. 

Toe ek begin om die eerste draai van Fields Hill te voltooi, begin my linkervoet se brug amper te voel na 'n kramp. Soveel so dat ek anders wil begin loop. Ek het al riller stories gehoor oor die camber-hoek van Fields Hill, maar hier begin my eie nagmerrie dalk nou. Gelukkig was daar dele wat nie so steil op was nie, wat ek kans gesien het om te hardloop en die "kramp" bietjie verlig het. Dalk was die "kramp" weens die ernstige-daadwerklike-hard stapaksie. Ek het mos doelbewus opdraende stap geoefen in my voorbereiding. Ek moet dit kan doen.

Dis ook hier op Fields Hill wat ek gemakliker kon begin hou by my ingesteldheid om die "binnebaan" te vat om elke draai. Voor Fields Hill was ek baie bewus waar my maters was, en die binnebaan het my meer as een keer van hulle geskei, wat nie lekker was nie. Ek kon wel sien ek kon stap en bybly as hulle hardloop-stap strategie volg op die "buitebaan", So - die binnebaan ingesteldheid het meriete en ek was die res van die resies baie doelbewus op die binnebaan.

Gepraat van resies - dit was ook hier of net na Fields Hill wat ek besef het dit gaan vandag 'n resies wees. Dit is nie 'n rustige long run wat ek kan terughou om by my teikepas te wees nie. My hartklop was teen die tyd permanent bo 160 slae per minuut en ek het geweet dit gaan waarskynlik nie weer regtig onder dit inkom nie.

Maar, Fields Hill het sy respek gekry, my voet het toe nie regtig gekramp nie en kort voor lank raak dit platter en bekender. Hier waar ons in Hillcrest in hardloop het ek al 3 maratonne gehardloop en hierdie paaie ken ek goed. En, ek het nou net my eerste regte onbekende uitdaging, Fields Hill waaroor ek lank bekommerd was, van die Comrades oorkom. Dis 'n Resies!

Gillits
Teen een van die Hillcrest bulte het ek vir oom Adri Mansvelder ingehaal en gevra hoe dit gaan. Hy was meer moeg as wat ek verwag het hy sou wees - sy voorbereiding en ondervinding het vir my voor die tyd laat dink ek gaan hom nooit sien nie.

Ek het ook geweet, hier in Hillcrest kom ek nou naby aan Gillits, die eerste plek waar ek vir Anné en die kinders langs die pad gaan sien. Daar is herinneringe van die stukkie van die resies wat ek duidelik onthou hoe ek daarna uitgesien het om hulle te sien. Ek het nie veel belanggestel in eet of drinkgoed daar nie - net om hulle te sien.

By die ZMSC gazebo het ek my pragtige vrou gesien en vinnig gestop. Vars Jelly Teddies en 'n Woolworths cuppacino melkie was reg vir my (ek het nog niks droëwors geëet nie, so dit was nog nie nodig vir nuwes nie). Adriaan het gehardloop om vir my te kom herinner vandag is die "Final Boss Battle" na maande se oefen. Elsoné het die gevoel van Comrades gekry en vir my en al die hardlopers aangemoedig.

En skielik is die lafenis van mense wat ek ken en wil sien weg en ek is weer alleen aan die hardloop. Ek drink die koffie-melkie te vinnig en kry maagpyn (wat gelukkig nie te lank pla nie). "Die resies het skaars begin", dink ek ... "hier gaan verseker nog klippe gekou word vandag". Dit was nie lank na hierdie ontnugtering wat ek ook vreeslik lekker begin poep het as ek die binnebaan vir myself gehad het.

BigC'24 2️⃣ Eie Resies Begin

Dinge verloop soortvan volgens plan tussen die begin en die 80 km om te gaan bord. Ons groepie was bereid om die vroeë opdraendes te respekteer en die gesindheid vir die res van die oppe te begin vestig. Toe ons by 45th Cutting kom, is ek so 2 minute agter die sub-10 ure plan en ek noem dit vir PietJ. Ons is albei baie rustig daaroor - ek is rustig omdat ek weet die resies nog skaars begin het en hy is rustig omdat hy en die ander hardloopmaters mik vir 11 ure.

Maar, 45th Cutting het my verseker verras/verbaas. Ek en PietJ was op die stadium bymekaar en die ander 'n bietjie voor ons. Dit is 'n beduidende opdraende. Ons het hom sterk gestap en baie respek gegee. Maar dit was verseker vir my ook 'n verassing van hoe styl hierdie goed is en dat ons net eenvoudig nie sulke lang en styl bulte maklik hier in ons deel van Zoeloeland kan gewoond raak nie.

Ek onthou nie veel van die nonsens-praat of die roete vanaf 45th Cutting nie. Ek onthou net ons het almal lekker saam gehardloop en gekuier. Ek kan ook nie eintlik eers Cowies Hill self onthou nie. Ek onthou net vaagweg toe ons oor hom is (met respek) en ek die pad in Pinetown in herken het wat ek en die gesin Vrydagmiddag gery het om die roete te verken.

Hier rond het ek agter gekom ek is blykbaar heelwat gemakliker as my maters met die afdraendes en meer geneig om vroeër te begin loop vir 'n opdraende, so ek het al hoe minder treë direk saam met hulle gehardloop. Ek het die heeltyd probeer rondkyk en net weet waar hulle was. Êrens in Pinetown het PieterG vir my gevra "Voel jy ook jy wil darem bietjie vinniger op die afdraendes hardloop?". Dit was my gevoel, ja, maar ek het ook by die 70 km oor merk gesien ek is nou so 7 minute agter die 10 ure plan en moes my eie resies begin hardloop. Ons twee het omtrent tot by die tonnel in Pinetown saam gehardloop, en ek dink nie ek het hulle weer gesien nie - al het ek hoeveel keer omgekyk om my maters te sien en dalk te groet.

En so kap ek toe maar aan, nou alleen, met FOMO sonder my maters. En ek hoor toe 'n pa vir sy (bekommerde) dogter sê "net hier om die draai". Toe wonder ek, wat is dit? Fields Hill? En ja, my pace-notes het dit bevestig. Die deel van die resies wat my die meeste laat voel het soos 'n groentjie was net hier voor ons...

'n Google Street View skermskoot van Fields Hill




BigC'24 1️⃣ Begin START

En so begin ons resies, maar ons loop skaars. Ek neem 'n video van die ge-skuifel van die massas mense om my nog lank voor die wegspring banier oor ons koppe is. 

Die oomblik oor die "START"

Daar word deur duisende hardlopers en toeskouers spontaan gesing aan 'n Zoeloelied wat ek wens ek geken het om saam te sing. Die skuifel word 'n stap en ons herinner mekaar die heel tyd om te pasop vir katogies en ongelyke teer en randstene. 

Ons begin regtig draf en skielik is daar oral ouens langs die pad wat hulle bydrae maak tot die urine-reuk in die stad. Ek besef ek is heeltemal gemaklik met Moeder Natuur, sy roep nog nie na my nie.

Daar kom ons weer amper tot stilstand, want die skare hardlopers maak 'n bottelnek om die hoek van West en Russel straat. Ons is op die "binnebaan" en begin gou weer aan die draf kom. Die hoeveelheid mense is oorweldigend. As die hardlopers wat 'n kilometer voor ons op hoër stukke pad hardloop sien jy net hoe groot die Comrades regtig is - en mens kan nie eers amper die voorste ouens sien nie. Die resies is al 20 minute aan die gang en ons het so 1.8 kilometer al gedoen. Ek het nie 'n idee van hierdie vordering (of gebrek daaraan) nie want ek het myself oorgegee aan die oomblik en is baie rustig daaroor dat die eerste 6 km meer sa 50 minute gaan neem.

En toe is dit nie lank nie, of ek moet teen die opdraende uit begin om te karring aan my maters dat ons moet terughou en nie onnodig druk nie. Dis nie 'n sonde om nou al te stap nie.