Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-06-21

BigC'24 3️⃣ Dis 'n Resies

Ek onthou duidelik die steilheid van die "onramp" na die King Cetshwayo deurpad wat my sommer dadelik ook laat stap het - maksimum respek. Baie min hardlopers om my het Fields Hill sonder respek aangepak. 

Toe ek begin om die eerste draai van Fields Hill te voltooi, begin my linkervoet se brug amper te voel na 'n kramp. Soveel so dat ek anders wil begin loop. Ek het al riller stories gehoor oor die camber-hoek van Fields Hill, maar hier begin my eie nagmerrie dalk nou. Gelukkig was daar dele wat nie so steil op was nie, wat ek kans gesien het om te hardloop en die "kramp" bietjie verlig het. Dalk was die "kramp" weens die ernstige-daadwerklike-hard stapaksie. Ek het mos doelbewus opdraende stap geoefen in my voorbereiding. Ek moet dit kan doen.

Dis ook hier op Fields Hill wat ek gemakliker kon begin hou by my ingesteldheid om die "binnebaan" te vat om elke draai. Voor Fields Hill was ek baie bewus waar my maters was, en die binnebaan het my meer as een keer van hulle geskei, wat nie lekker was nie. Ek kon wel sien ek kon stap en bybly as hulle hardloop-stap strategie volg op die "buitebaan", So - die binnebaan ingesteldheid het meriete en ek was die res van die resies baie doelbewus op die binnebaan.

Gepraat van resies - dit was ook hier of net na Fields Hill wat ek besef het dit gaan vandag 'n resies wees. Dit is nie 'n rustige long run wat ek kan terughou om by my teikepas te wees nie. My hartklop was teen die tyd permanent bo 160 slae per minuut en ek het geweet dit gaan waarskynlik nie weer regtig onder dit inkom nie.

Maar, Fields Hill het sy respek gekry, my voet het toe nie regtig gekramp nie en kort voor lank raak dit platter en bekender. Hier waar ons in Hillcrest in hardloop het ek al 3 maratonne gehardloop en hierdie paaie ken ek goed. En, ek het nou net my eerste regte onbekende uitdaging, Fields Hill waaroor ek lank bekommerd was, van die Comrades oorkom. Dis 'n Resies!

Gillits
Teen een van die Hillcrest bulte het ek vir oom Adri Mansvelder ingehaal en gevra hoe dit gaan. Hy was meer moeg as wat ek verwag het hy sou wees - sy voorbereiding en ondervinding het vir my voor die tyd laat dink ek gaan hom nooit sien nie.

Ek het ook geweet, hier in Hillcrest kom ek nou naby aan Gillits, die eerste plek waar ek vir Anné en die kinders langs die pad gaan sien. Daar is herinneringe van die stukkie van die resies wat ek duidelik onthou hoe ek daarna uitgesien het om hulle te sien. Ek het nie veel belanggestel in eet of drinkgoed daar nie - net om hulle te sien.

By die ZMSC gazebo het ek my pragtige vrou gesien en vinnig gestop. Vars Jelly Teddies en 'n Woolworths cuppacino melkie was reg vir my (ek het nog niks droëwors geëet nie, so dit was nog nie nodig vir nuwes nie). Adriaan het gehardloop om vir my te kom herinner vandag is die "Final Boss Battle" na maande se oefen. Elsoné het die gevoel van Comrades gekry en vir my en al die hardlopers aangemoedig.

En skielik is die lafenis van mense wat ek ken en wil sien weg en ek is weer alleen aan die hardloop. Ek drink die koffie-melkie te vinnig en kry maagpyn (wat gelukkig nie te lank pla nie). "Die resies het skaars begin", dink ek ... "hier gaan verseker nog klippe gekou word vandag". Dit was nie lank na hierdie ontnugtering wat ek ook vreeslik lekker begin poep het as ek die binnebaan vir myself gehad het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking