Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-06-21

BigC'24 0️⃣ Voor die Wegspring

Dis net voor 3 uur die oggend van 9 Junie 2024 in 'n Durban Noord AirBnB kothuis. Drie verskillende alarms raas 5 minute van mekaar af, maar ek is eintlik al lankal wakker. Om die waarheid te sê, ek het bittermin geslaap. Vandag gaan ek my heel eerste Comrades hardloop. Ek het vir 15 jaar van langafstande hardloop aanhou sê ek gaan dit nooit doen nie, maar mens mag mos van plan verander?

Ek staan op en maak koffie en vra op die WhatsApp groepie van Comrades hardlopers of enige van hulle geslaap het. My hardloop goed is gisteraand mooi uitgepak nadat dit vir omtrent die derde keer weer nagegaan is teen my lysies wat ek al weke aan ontwikkel. Ek trek aan en gaan nog 'n slag deur die lysie en voel heel gereed vir hierdie onbekende ding wat voorlê. My maag doen sowaar sy ding en ek hoef ook nie daaroor te bekommer vir die dag nie, maar die wet-wipes gaan in elk geval saam.

My hardloop goed reggesit die aand voor die tyd

Ek en Anné ry wegspring toe by die Durban stadsaal en die verkeer is heel hanteerbaar. Sy laai my net voor 4 af met my kombers en 'n klein Thirsti waterbottel. Ek stap in na die wegspring toe en sien die trok vir die toksakke en besef ek het myne in die kar vergeet. Omdat ek my foon by my gehad het kon ek haar gou bel en vra dat sy hom gou vir my moet bring. Toe sy om die blok is (na sy in 'n amper in 'n 1-rigting opgery het) en vir my die sak gee, sê sy die verkeer was klaar besiger as toe sy my die "eerste" keer aflaai. Dit was lekker om haar nog 'n slag te sien voor die wegspring.

Oppad Blok-F toe

Ek het vinnig my sak ingegee en die mense wat hom gevat het, het darem vir my grappie gelag toe ek vra of die trok Pretoria toe gaan. Van daar, was dit net 'n paar treë F-blok toe waarvoor ek gekwalifiseer was met my 4h01m49s Hippo-maraton tyd. My plan was om agter in F weg te spring met die idee om my hardloopmaatjies te probeer kry wat in G wegspring. Nadat ek so 'n draai in F geloop en toe agter in die middel van F gaan sit - daar was nog geen teken van my maters - ek was immers daar 'n hele 90 minute voor die wegspring. Die Pep-stores kombers was baie welkom, daar het so 'n lastige koelerige Durban windjie gewaai. Ek het toe maar die mense geloer wat verbykom en gehoop ek sien my maters.

Die minute gaan verby en ek het net begin moed opgee dat ek op my eie gaan moet wegspring, toe ek iemand hoor roep "Deon!". Met die rondkyk word ek nog 'n paar keer geroep, want ek kon nie bepaal waar die geroep vandaan gekom het nie. Ek staan toe op om beter te sien en hoor en sien toe regs voor in blok-G vir Melinda wat my aandag probeer kry. Toe ek na haar stap verduidelik sy dat sy seker gemaak het dat dit reg is om 'n blok terug te skuif vir die wegspring (daar was onsekerheid daaroor met van die inligting wat van die organiseerders gepubliseer was). Sy wys my toe waar al die ander maters bymekaar is. Dit was 'n hele klompie van ons wat saam geoefen het… Piet, Pieter, Melinda, Rialine, Francois, Fred en Hendrik was ook by, so ook Dirk.

Hulle het daar rondgestaan, maar ek het gaan sit, ons gaan genoeg tyd op ons voete vandag spandeeer… Soos jy kan verwag, is daar vreeslik nonsens gepraat in die tyd en so 'n paar fotos geneem. Dit is in hierdie tyd wat Piet nog 'n slag sê Piet Wiersma gaan wen vandag. Dis toe dat Piet Jordaan sê hy is "Piet, Pieter (Goosen) en Pietste is Piet Wiersma". Sommer net die gewone nonsens praat van ons klomp.
In Blok-G, saam my maters

Die tyd het toe eintlik vinnig verby gegaan en dit was nie lank nie toe speel en sing ons die volkslied (nog voordat die lyne tussen die blokke laat sak is - anders as gewoonlik blykbaar, maar slim dink ek, staan stil en sing die volkslied met respek). Na die volkslied is die "danger tape" tussen die blokke weggevat en ons begin nader aan die wegspring beweeg as 'n massa mense. Shosholoza word gespeel en almal sing vrek lekker saam. Die opwinding bou… Met die speel van Chariots of Fire, voel ek hoe ek begin haastig raak om hierdie ding nou te begin. Die opgeneemde haan kraai en ek hoor 'n "BOOM!" en besef 2 of 3 sekondes later die resies het begin en my horlosie begin om die "op"-tog Pietermaritzburg toe te log.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking