Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-06-22

BigC'24 6️⃣ Alleen in die Onbekende

Met Inchanga agter my en die 30 km om te gaan merk voor my was ek op 'n goeie plek in die resies. Ek het geweet die heel ergste klim is verby en ek is nog binne my vermoëns. Nog so 10 km, dan is ek verder as wat ek al ooit gehardloop het...

Dis nou die Harrison Flats gedeelte, veronderstel om platter en makliker te raak. Vir my is dit nie 'n plek om regtig probeer druk nie - daar is nog amper 'n hele maraton oor! My voete is seer, al van 30 km af, en my hamstrings pla, ook omtrent so lank. Op 'n stadium het dit gevoel of daar los goed rondskuif in my skoene - ek wonder toe of ek op los velle en blase hardloop, maar die gevoel het gelukkig weer weggegaan. Van die seer voete kan ek nie dieselfde sê nie - hulle was enduit moeg en seer.

Dit is hier rond wat ek ook besluit het ek het genoeg met pyn gehardloop en toe maar wel 2 pynpille gedrink. Terwyl ek hier skryf, is alles wollerig na die tyd, maar ek dink dis rondom die tyd wat ek die lekker-poepe ophou vertrou het en 'n Immodium of twee gedrink het.
(SPOILER: Toe die resies verby is het ek nie 'n enkele bio-breuk nodig gehad nie)

Ek wil wil onthou dat ek dalk myself meer stap-kans gegun het as wat ek dalk moes, maar waar daar 'n ligte opdraende was daar 'n bietjie verligting in hardloop omdat my hamstrings dan nie so seer was nie en ek het aanhou goed vorder. Ek het selfs begin om verlore tyd op te maak, maar nie naastenby genoeg om weer te begin droom oor 10 ure nie.

Anné het my teen die tyd laat weet dat hulle my nie by Cato Ridge sal kan sien nie. Dit was verseker 'n teleurstelling, maar ek het voor die tyd ook geweet daar is 'n kans dat dit kan gebeur.

Ek sluit aan by Jephrome en André (skermskoot vanaf sy YouTube video)

Skielik sien ek vir AndréM en JephromeV teen 'n ligte opdraende voor my stap. Ek weet toe ek gaan hulle vang, en was bly om bekende gesigte te sien. Maar my hart het ook bietjie gesink vir André, want toe weet ek sy 10 ure droom is ook daarmee heen. Ek het by hulle aangesluit en saamgestap vir 'n ent, maar toe ons weer hardloop kom ek agter dit is te veel inspanning vir my om by te bly en ek het hulle laat gaan. Ek was glad nie bewus van die pas nie, net dat ek nie dit kon bekostig om saam te probeer hardloop nie. En net so was ek weer alleen, met nog ver om te gaan.

By die 30 km bord (Two Oceans afgelê) is dit amptelik - ek het nou al verder gehardloop as ooit. Ek het nog kans gesien om verder te gaan, verseker. Maar ek was baie moeg al en 30 km het vrek ver gevoel. Ek het ook my verbeel ek is meer moeg as wat ek na enige Two Oceans was, maar ek dink nie dit is waar nie. Die ander ding wat ek ook opgemerk het is dat ek al amper 7 ure hardloop! Wat!? 

Dis nog ver - maar ek het hier rond begin weet ek sal kan vasbyt tot die einde, maar was nie seker of daar nog 'n vreeslike selfontdekkings oomblik vir my voorlê nie. Ek het myself verseker 'n bietjie jammer gekry.

En toe, DawieA se opgewonde vriendelike gesig toe ek om die draai in Camperdown in hardloop. Hy vra, "Hoe gaan dit met jou?" en ek antwoord, "Nou gaan dit beter". Dit het regtig sommer net gehelp omdat ek ek toe nie vir Anné-hulle te sien kon kry nie. Hy't my verseker dat ek nog goed lyk, wat ek geglo het en dit het verseker gehelp. Hy't ook genoem dat AndréM net voor my om die draai is.

So was Camperdown toe 'n goeie plek om deur te hardloop al kon my mense nie daar wees nie en ek allerhande redes gehad het om moeg te wees. Ek het selfs 'n bietjie nuwe moed gehad. Dankie Dawie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking