Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-06-22

BigC'24 5️⃣ Plan B-en-'n-Half

Met die dat ek vrede gemaak het dat plan-A, die droom van sub-10 ure nie meer sinvol is om na te streef nie dink ek, het ek ook 'n bietjie ontspan en dit het my 'n lisensie gegee om die bulte nog meer respek te gee.

Moenie 'n fout maak nie - dit het nogsteeds soos 'n resies gevoel. Dit was die een groot verrassing van die dag gewees. Van vroeg af het dit al die resies gevoel gehad - soos 'n maraton wat ek 'n pas moet hou om 'n tyd te jaag, maar hierdie keer nie regtig met 'n pas of jaag ingedagte nie. Ek kon net voel daar is inspanning en dinge gebeur nie net vanself of maklik nie. Dis redelik voor die hand liggend hoekom. Teen halfpad in die resies het ek al gevorder tot meer as 700 meter bo seevlak. Dit is 'n 10e van al die klim wat ek nog die heel jaar in al my voorbereiding gedoen het!

Net voor Drummond is daar nog 'n ZMSC gazebo en 'n Sterri Stumpi met my naam op! Letterlik... Ek sien sommer van ver af hoe NikkiC hom so hoog as moontlik hou met die "DEON" plakker[1] op. En, maggies, was ek bly om hom op te slurp (die keer stadiger en versigter as die koffiemelkie). Ek het weer vars Jelly Teddies en swieties gegryp. Nikki het ook 'n klein geel daisyrigge blommetjie in my hand gestop vir oom Arthur. Ek onthou ek het rustig gestap met die blommetjie in die een hand en die Sterri Stumpi in die ander en gedrink soveel as wat ek kon. Ek het toe probeer om my oorskiet Sterri Stumpi vir iemand wat saam-hardloop te gee wat sou belangstel, maar daar was niemand wat wou nie, verbasing. Nog 'n laaste sluk, en toe in die naaste drom. Was dit nog 'n poep wat my nie kans gegee het om te wag tot ek alleen in die binnebaan was nie?

So met die hardloop na Drummond se halfpadmerk is daar 'n lekker 'vinnige' afdraende. Hier by my is 'n ou wat vra, "Wat is dit met almal met die blommetjies?". Ek sê toe vir hom dat Arthur's Seat net hier voor is, na die "Wall of Honour" en ek klink toe vir hom blykbaar of ek 'n gesoute Comrades-hardloper is. Ek sê toe, nee, dis my eerste, waarop hy iets antwoord soos, "O, jy't actually die play-book gelees?". So-iets, ja. Dit was die heel pad goed gewees om presies te weet waar ek is en wat volgende vir my voorlê, al het ek die roete nog nooit gehardloop nie. By die "wall" verby het ek gou die blommetjie by oom Arthur se sitplek gegooi, my hoed gelig en gesê: "More, oom Arthur". Ek kon amper nie glo toe ek die Toyota advertensie borde om die gat in die klipmuur sien nie, maar ek dog toe maar dit is hoe dit altyd is. En net so had ek ook deel aan hierdie Comrades tradisie, maar net so, in 'n oogwink is dit verby. 

Deel van die "roete-weet" was nou dat Inchanga baie naby was. Inchanga - my strategiese mikpunt, oor hom sonder drama, hopelik selfs vars. Teen die tyd was "vars" nie meer ter sprake nie, maar met my dyspiere wat die heeltyd voel of hulle te hard al gewerk het, was "sonder drama oor" ook nie 'n gegewe nie.

En toe die opdraende van Inchanga kom het ek aanhou hardloop totdat ek voel daar is meer inspanning. Die respekstap skop in en die dyspiere werk hard. Ek het op my pas-notas merkies gemaak by Inchanga om my te herinner daar is 'n klomp draaie wat mens laat dink jy's nou klaar, maar dan is daar nog Inchanga. Ek onthou hoe AndréM sê dit is vir hom die moeilikste bult. So, ek hou aan respek gee, maar selfs 'n draffie of twee teen die bult, want my bene voel eintlik heel sterk teen 'n bult en dan werk die hammies nie so hard nie.

Inchanga se Baas, met respek (Daar's Waldo!)

Met elke draai maak ek 'n punt daarvan om nie opgewonde te raak dat Inchanga verby is nie. Toe ek regtig bo kom, weet ek ek het dit gedoen. Ek het myself 'n kans gegee vir 'n eerste Comrades volgens my potensiaal en dit nie ge-"blaas" op die eerste helfte se opdraendes nie.

[1] RialineS het vir al die ZMSC hardloop-maatjies plakkers met ons name op gedruk om op ons muti-houers te plak om maklik langs die pad te weet wie s'n is wie s'n.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking