Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-08

Onstuimigheid

Anné het gisteraand vir die laast keer geborsvoed. Dit mag dalk goed wees vir Elsoné maar ek dink nie dit het haar ma te goed gedoen nie. Ek kan met sekerheid sê dat ons alles prakties binne ons vermoë gedoen het om dit te laat uitwerk, maar die uiteinde van die saak is dat die melk nie genoeg was nie en dat Anné begin het om op te sien na voedings - dit het tot drie ure op 'n slag geduur en dan wil Elsoné steeds nog opgetop word met aanmaakmelk. Ek verstaan en ek ondersteun Anné in haar besluit. Ek het ook lank genoeg haar probeer aanmoedig om vas te byt, maar genoeg is genoeg.

En Elsoné kon darem vir amper 'n maand goed vorder op moedersmelk en die voordele wat dit inhou. Sy is gesond, sterk en vorder goed. En ek weet dit gaan ook nie nou skielik verander nie. Anné voel natuurlik skuldig daaroor en dalk 'n bietjie hartseer ook. Sy wonder of sy nie dalk selfsugtig is om te staak nie. Sy is ongemaklik en ontevrede met hoe haar borsvoedervaring was en daarom die wonder oor die selfsugtigheid; oorweeg sy Elsoné se kant van die saak sterk genoeg is haar vraag. Maar ek dink sy het dit ver genoeg gedruk en kans gegee en ek glo dit is die regte besluit.

Ek sal jok as ek nie erken dat dit my 'n bietjie onkant gevang het nie, want ons het gisteraand nog planne beraam om hopelik weer melkproduksie op voldoende vlakke te probeer kry. Maar Anné sê sy het gisteraand baie opgesien na 'n voeding en net besef en besluit dat genoeg nou eenmaal genoeg is. Ek het maar net vanoggend terloops gehoor toe sy vir Surika vertel dat sy besluit het. Dis waarom dit my onkant gevang het. Maar aan die ander kant het ek nooit verwag dat Anné borsvoed in die eerste plek 'n kans sou gee nie. So, in my opinie het sy al meer as genoeg gedoen om haarself te oortref met wat sy bereik het die afgelope maand in die verband.

Ek het toe vroeg vanoggend in die pad geval, 04h20 om die lang draf saam met Tim en die klub aan te pak. Ons het op die ou end 33 km gedoen en ek is baie trots daarop. Dit het eintlik baie goed gegaan - ek het nooit gekramp nie en kon eintlik relatief maklik die kilos doen. Dit was definitief baie moeilik; my vorige verste afstand was 'n hele 12 kilometer minder. Maar die moeilike deel was soos die cliché sê 80 % in my kop en 20 % in my bene. Ons het 5 kilometer gehardloop voor ons aangesluit het by die klub by Shell Meerensee soos gewoonlik. Die beplande afstand vir die klubdraf was 18 km, so ons plan was om so 28 km te hardloop vandag. Maar op die ou end was die klubdraf 22 km. Toe ons by Shell aankom wou Tim weet of ons reguit huis toe gaan en of ons nog 5 km gaan doen. Op daai stadium het ons totaal vir die dag al klaar op 27 km gestaan - een minder as die beplande afstand vir die dag. Net voordat hy gevra het het ek daaraan gedink dat dit soveel vat om mens se lyf in daai toestand te kry; dis 3 ure se hardloop. Ek het toe geredeneer dat dit goed sal wees om maksimaal die toestand van ons lywe en gemoedstoestande te verken en nog 5 km te doen. Dit het ons net soveel nader gebring aan 'n volle marathon afstand en ek glo ons kon heelwat van onsself leer in die ekstra 5 km. Ek sou so ver gaan om te sê dat dit amper maklik was voor ons daai laaste ekstra deel aangepak het, wat beteken dat die ekstra 5 km ekstra waardevol was.

Maar een ding is seker, ek was bitter moeg toe ek by die huis kom. Die ergste was my seer voete. Die pyn het eers net my voete verswelg, maar gou opgeskiet in my kuite tot by my knieë. Ek het vir omtrent 'n halfuur eers net in die swembad deurgebring en rondgedryf om stramming van my ledemate af te kry. Maar toe ek daar uitklim oorval die moegheid my en moes ek in die bed gaan klim. Ek het twee bierglase Rehidrat gehad en 'n glas water, maar kon net nie rustig raak om te slaap nie. Ek het toe op die ou end so 12h30 opgestaan en kon toe voel my bene is nog baie seer en styf. Maar na 'n sitrosoda en pynpille het ek weer sterk gevoel en ek dink die herstel gaan vinnig genoeg wees om 'n normale week se oefening in te kry.

Al hierdie goed is goeie nuus vir die kwalifiserende marathon wat ons die einde van die maand in Empangeni wil gaan hardloop.

Ons het vir Eben en Nicolette genooi om 16h00 te kom koffie drink so ons is toe  so twee-uur se koers gou gaan Spar en Clicks toe. Ons moes nog NAN koop, maar dit het eers gebeur na 'n bietjie debat oor die duurder hipo-allergeniese weergawe teenoor die gewone. Anné se redenasie was dat ons albei allergië het wat waarskynlik beteken dat Elsoné ook 'n allergie van een of ander aard sal hê. Sy wou as voorsorg die hip-allergeniese weergawe aanskaf. In beginsel het ek nie heeltemal saamgestem nie, aangesien ons nog nie tekens gesien het dat iets in die melk haar aantas nie, maar stem toe in dat ons kan kyk daarna na aanleiding van die prys. Ek het verwag dat dit so 5 tot 15 % duurder sou wees, maar NAN-HA is toe nou die helfte duurder as NAN. Ek dink toe ons voor die waarheid staan het Anné ook begin saam stem en ons het toe besluit ons gaan maar eers kyk hoe gaan dit met die "cheap & nasty" aanmaakmelk; kom ons hou duim vas.

Ek het toe ons klaar is by Spar gou vir haar sommer met die kar gaan wys waar ons oral gery het. Dit was 'n pragtige dag en sou 'n sonde wees om die hele dag in die huis deur te bring. Daar is soveel weggesteekte oulike plekke hier in Richardsbaai en ek het nou al heelwat van hulle ontdek met die hardlopery. Ek kon vandag vir Anné twee plekke gaan wys wat sy nog nooit gesien het nie. Ek het vir haar die paadjie aan die dorp se kant van die kanaal gewys wat daar by die staalbrug wegdraai en ek het vir haar Ferelli Alley gaan wys.

Ons het lekker saam met die Lemmers koffie gedrink en gekuier, maar hulle tweeling wou nie te lank kuier nie en het moeilikerig begin raak wat hulle laat besluit het om maar huis toe te gaan. Ons het toe daarna maar vir Elsoné gebad en begin voer, wel Anné het, terwyl ek byderhand probeer bly het om te help met wat te helpe is.

Maar sy het vir my vies geraak omdat ek nie dinge uit my eie uit aanpak en doen t.o.v. die huishouding nie - ek het nie aan kos gedink nie en toe ons besef ons is honger was dit al laterig. Aan die ander kant probeer ek om reg te wees as sy my hulp met iets nodig het. Ons was maar net op verskillende golflengtes wat dit betref en hopelik is ons golflengtes nou 'n bietjie nader aanmekaar wat die goed betref.

Ek het toe maar gou Kentucky toe gery en vir ons 'n streetwise 5 gaan kry. Ons het geëet en gou besef ons is moeg en toe in die bed kom klim. Die dae gaan baie gou verby. Ek kan nie glo dit is nou al 22h00 nie.

Dinge bly maar interessant met 'n derde mensie in 'n huishouding wat al vir sewe jaar lank gewoond is om net uit twee mense te bestaan. Maar ek moet sê - ek verruil die nuwe dinamiek vir niks. Daai mensie in daai houtkot is bitter spesiaal en tog te pragtig en sy is ons s'n!

2011-01-07

Oja, 1500

En natuurlik is ons vandag êrens by 1500 trefslae al verby!

Niks is maklik nie

En borsvoed tel definitief onder die moeilikes, oftewel, dis ons ervaring daarmee. Hierdie naweek gaan 'n draaipunt wees in Elsoné manier van kos kry. Of die tekens gaan kom dat borsvoed gaan makliker word en dat dit al die moeite werd was en gaan wees, of ons gaan dit opgee vir 'n bêd job en begin om met die bottel te voer.

Anné het netnou teenoor my erken dat sy al sou ophou as ek haar nie so gedruk het om aan te hou nie. Ek het vir haar probeer verduidelik dat ek nie wou druk op haar sit nie, maar net wou aanmoedig en dit hopelik op die manier makliker probeer maak. Sy het dit nie so ervaar nie, maar dit lyk of sy darem verstaan dat ek dit so bedoel het, al het sy dit anders ervaar.

Die feit van die saak is dat die moeite wat nou daarin ingaan nie sin maak nie. Sy sê dit behoort nou al vinnig te gaan, twintig minute per voeding, maar sy is nog steeds op 'n uur of selfs meer. Ek sou seersekerlik ook al gatvol gewees het en waarskynlik my man wat so druk op my gesit het om aan te hou probeer in sy mai in gestuur het en vertel het hoe dit van nou af gaan werk. Maar nie my supervrou en Elsoné se superma nie, nee, sy byt vas en op haar tande en sit alles in om dit te maak werk.

Op 'n ander noot; ek en Tim pak more oggend 04h20 die pad aan - ons gaan ons oggendroete hardloop tesame met die klub se 18 km wat beteken ons sal so omtrent 27 km more hardloop. Dit lyk of ons plan nou is om 30 Januarie die Langasun Marathon in Empangeni te hardloop om te probeer kwalifiseer vir die Two Oceans. Jô, Jô, Jô, Jô, Jô!

Cheese

Anné het nou net gebel om te sê dat Elsoné geglimlag het, regtig. Ek
is so spyt ek het dit gemis.

2011-01-06

Eerste Midweekbraai

Ons het nou net terug gekom by die huis na die eerste midweekbraai by JohnT vandat ons ouers geword het. Dit was sonder veel drama en nie veel vroeger as wat ons andersins sou huis toe kom nie. Dit was nou regtig lekker gewees om nog so 'n bietjie vryheid in die sin te hê. Maar ek weet dit was vir Anne maar 'n bietjie van 'n mission. Dit nog nadat sy seg hulle had 'n besige dag. Sy dink sy gaan nou maar net een keer 'n week ingaan werk toe vir vier ure in plaas van twee keer 'n week vir twee ure elk. Op die manier is dit net een dag wat in sy mai in is.

2011 in Alle Erns

Nou ja, daar is nou nie meer wegrkruipkans nie. Ek het toe nou maar gaan werk vandag en dit was darem nie te rof nie. Ek kon nog by 'n bietjie meer uitkom as om net koffie te drink en my vonkposse uit te vee of in te haal.

Gister was regtig lekker met die dat ek 'n ekstra daggie af kon hê as wat verwag was. Die Nye het gevoed en geëet en toe is ons hospitaal toe om te kan weeg. Elsoné het 3.2 kg geweeg en 51 cm gemeet wat beteken sy vorder goed, volgens plan.

Maar Anné se melk probleempie wil net nie lekker opklaar nie en daar is ook geen kwiekfieks nie. Sy het uit 'n paar oorde gehoor dat een of ander anti-deprisant die melk sommer gou sal laat vloei, maar uit die aard van die saak sien sy eenvoudig net nie daarvoor kans nie. So, sy is nog maar op die alkoholvrye bier en van more af dalk 'n bietjie Maxalon en die Jungle Juice. Maar ek kan sien haar moed, maar veral die geduld, is besig om min te raak wat heeltemal te verstane is. Ek is so tevrede met - en trots op my vrou dat sy dit 'n goeie voluit kans gee, en dit is nou een ding wat nie twee is nie, sy gee haar alles. Dit wil lyk of daar lig aan die einde van die tonnel mag wees maar ons is nog nie seker nie.

Ons het gister huis toe gekom, ek het nog 'n poging aangewend om ons trouvideo te verdigitaal om iets sinvols daarvan te maak en het lekker krieket gekyk. Hier rondom 15h30 het Anné vir Elsoné na my toe gebring om nog 'n les van krieketkyk te kry en dalk 'n bietjie te slaap. Sy het nie mooi geluister na wat ek haar probeer leer het nie, maar het darem lekker geslaap en dit het gelyk of sy meer daarby gebaat het as my krieketkykles. Ek kan haar dit vergewe - daar is baie mense wat al jare toegang tot toetskrieketkyk het en nog steeds dit vervelig vind. Dit vat maar 'n ruk om die fyner nuanse onder die knie te kry en die intriges op die veld te kan waardeer. Haar slapery het haar ma ook 'n gapingtjie gegee om haar gegaap so bietjie teë te werk en sy kon ook so twee ure geslaap kry.

Elsoné was vroegerig weer gevoed en aan't slape en ons kon selfs 'n bietjie Fringe kyk.

Anné moes weer 'n slag opstaan gisteraand voor die vroegoggendvoeding maar dit is darem heel billik. Die probleem is dat Elsoné se ingewande die heel dag vandag met winde geveg het en nooit lekker geslaap het nie. Anné was heel uitgeput toe ek by die huis kom van werk af.

John het sy rolsaag kom haal maar dit het uitgeloop op 'n kuiertjie en hy het toe sommer saamgeëet aan een van Anné se hoenderpastye wat sy gebak het voor Elsoné gekom het. Terwyl die Nye gebad het, het ek hom so bietjie gehelp met sy trapidee by sy kombuisdeur / garagedeur nadat ek hom mooi gewys het wat ons idee vir ons voordeurtrappe is. Dit het hom aan die dink gesit en hy het dalk ook nou 'n opplossing vir sy trapprobleem.

Elsoné het nie goed en vas aan die slaap geraak nie, maar sy slaap darem nou nogsteeds en Anné kry darem nou 'n goeie slapie in.

Oja, en dan is daar nog die "tegniese probleem" op die blog waar ek al die fotos tot niet gemaak het. So dit is 'n gemors wat ek ook nog een of ander tyd moet uitsorteer. En, nog 'n kantaantekening, Theuns reken die ontvanger gaan ons more darem so 'n paar rand teruggee wat sal help met die dat Anné nou vir 'n ruk nie salaris verdien nie. Ons sal dit in elk geval spaar, maar dit is goed om te weet daai ekstra geldjie is daar vir 'n reëndag. (Gepraat van reent, SA spoel lekker en ons het vandag ook goed reën gehad)

Ek hou duim vas vir die Proteas more - dis 'n grote!

2011-01-04

Terug Skool toe se Gai

Ek was nie baie seker daaroor in elk geval nie, maar ek het toe eintlik nog vir vandag verlof ingesit. Net toe ek vir Anné groet om te ry dink ek weer oor die datums en besef dat ek waarskynlik vandag ook verlof het. Ek het toe gou vir Eben gebel om te bevestig en ja, nog 'n laaste daggie by die huis is my voorland.

 So, al daai goed wat ek gesê het om my self op te saaik vir die jaar wat voorlê hoef nog nie vandag te geld nie.

J I P P I E !

"Back2School"

Ek sit voor die lugversorger met my werksklere aan en drink gou my koffie voor ek vir die eerste keer in 2011 moet werk toe gaan. Ek moet sê dat dit nie vandag my top 10 lys sou haal van toedoes as ek self oor hulle sou kon kies nie. Maar aan die ander kant weet ek 2011 gaan 'n groot jaar wees vir Bell en ook vir ons afdeling en ek is lus vir die uitdagings wat dit gaan bring.

Ek en Tim het nog gou ons oggenddraffie deurgewerk ook vanoggend nadat ek hom heeltemal in die steek gelaat het gister toe ek verslaap het omdat ek nie my wekker gestel gehad het vit gister nie, al was ek hoe seker daarvan.

Ek het toe gister 7 van die 14 sporte se straataansigte op die hek geverf. Dit het reënerig begin word en ek het ook besef 'n mens moet dit ordentlik doen en hulle maar een vir een afhaal en dit doen.

Ek het darem ook heelwat krieket gekyk en Elsoné het die hele laatmiddagsessie by my deurgebring en Anné kon so 'n bietjie slaap. Sy het toe so 18h00 wakker geword om te eet en toe vat ek haar vir Anné. Dit was 'n marathonsessie want ons het toe eers 20h30 by eet uitgekom. Ek in daai tyd darem gou die ergste moeilikheid in die garage opgeruim.

Op 'n stadium gister het ek gedink ek moet bietjie probeer neerskryf wat ek hierdie afgelope maand "bereik" het, maar sal nog 'n bietjie daaroor dink. Daar is darem nog twee dae oor voor Elsoné 'n maand oud is, kan jy glo!

2011-01-03

Te Min Tyd te Vinnig

Vandag is die laaste dag van my verlof en my groot kennismakingsessie met die nuwe dame in my lewe. Ek kan regtig nie glo sy is al amper 'n maand oud nie, en nog meer, ek kan nie glo ek is al amper 'n maand lank 'n pa nie (en daar is darem al 'n rondte golf ingewerk). Ek weet nie regtig waarvoor ek so "bang" was nie. Al wat net nog moet regkom is dat my golfmater (Anné) weer moet fiks genoeg wees om om 'n golfbaan te stap en my gat te skop - dan is alles soos dit was, net STUKKE beter.

Op nuwejaarsdag het ek probeer om een van daai maklike resepte aan te pak in die "Nie vir Ma's Nie" resepteboek wat Ma'le vir Kersfees vir my gegee het. Ek het omtrent vyf resepte oorweeg maar die bestandele was nie almal in die huis nie en die een waarop ek toe besluit, het ook nie al die bestandele gehad nie, maar ek het toe maar 'n plan gemaak. Toe sukkel ek in daai sogenaamde "kombuis" om oor die weg te kom. Elke keer as ek bietjie meer doen as om koffie te maak daar, wil ek weghol. Ek hoop die "argitek" wat dit gedoen het het darem al besluit om mandjieweef,  leerlooiery of houtwerk te doen of iets anders meer sinvol met sy lewe. Of hopelik was hy 'n groentjie argitek op daai stadium wat nou weet waarmee hy besig is want op daai stadium toe hierdie kombuis (en huis se interieur) ontwerp is had hy nie 'n kloe nie. Ironies genoeg hou ons van die huis se dop, dis net die binnekant wat ons spoed so breek. Die aanbouings was nie veel meer werd nie, maar alles het darem baie potensiaal.

Dis hoekom hierdie jaar as Die Jaar van die Kombuis en Leefarea bekend sal staan. Ek sal my vinger uit my oor uit moet kry as ek 'n sukses van Die Jaar van die Kombuis en Leefarea wil maak, aangesien ek nog steeds glo ek moet en kan dit self doen.

En dan is daar nog al die ander goed op my hooivurk. Ek moet aanhou probeer om 'n goeie pa en eggenoot te wees (of dalk een word as ek nie is nie). Elsoné gaan seker meer en meer aandag verg, al sal ons dalk bietjie beter kan slaap.

Wat die slaap en melk situasie betref, ons het die probleem geïdentifiseer maar nog nie na wense opgelos nie. Ek het so te kere gegaan oor haal vol pens en dan is sy nog steeds nie tevrede om te slaap nie; dit mag so wees dat sy haar pens kon vol kry na drie ure maar die vermoede bestaan dat sy maar honger gebly het. Met die dat ons 'n borspomp tot ons beskikking het kon Anné eergister die een bors leeg pomp toe Elsoné aan die slaap geraak het toe sy klaar is met die ander en die skok was maar groot toe ons sien dat daar maar bittermin uitkom - omtrent net 'n derde van wat dit in die heel begin was. Anné was natuurlik ontstelt daaroor wat te verstane is. Sy is deur baie pyn en ongemak en nou nog dit ook. Sy hou aan wonder of dit die moeite werd is - heeltemal te verstane. Borsvoed was in die eerste plek nie haar eerste keuse nie. En op die ou end gaan dit oor Elsoné. Dis baie belangrik dat sy genoeg kos kry op hierdie vroeë stadium.

Maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Party mense wat dink hulle opinie is iets werd en dit op die internet publiseer voer aan dat min melk nie 'n probleem is sonder 'n oplossing nie en dat dit selfs maklik is om aan te help. So, ons glo dit en probeer nou maar die bekombare rate. Blykbaar is hops 'n goeie aanhelper, so ons het vir haar 'n bietjie alkoholvrye bier gekry en ek gaan vir haar Guineuss ES ook soek om een keer 'n dag te drink. Groen groente is ook blykbaar goed vir dit, so ons sal maar weer net gesond en gebalanseerd moet begin eet op 'n manier (ek weet nog nie heeltemal hoe ons dit gaan regkry nie). En dan is daar nog vitamines en pille vir die tipe ding ook. Ons het nou maar om die fort te hou begin om so nou en dan 'n bietjie NAN te gee as ons sien sy kry nie genoeg in nie. Maar ek glo vas dit gaan nie vir te lank nodig wees nie.

Ons het gister gou Mall toe gegaan (wat op die ou end amper 4 ure was) om 'n draai by Elephant & I te maak en 'n paar goed by PnP en Clicks te kry. Ons kon toe darem bietjie rustig kom krieket kyk ook.

Vandag moet ek nog 'n laag Woodoc op die hek sit en die garage regpak. Ons sal maar sien of dit gebeur ...