Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-03

Te Min Tyd te Vinnig

Vandag is die laaste dag van my verlof en my groot kennismakingsessie met die nuwe dame in my lewe. Ek kan regtig nie glo sy is al amper 'n maand oud nie, en nog meer, ek kan nie glo ek is al amper 'n maand lank 'n pa nie (en daar is darem al 'n rondte golf ingewerk). Ek weet nie regtig waarvoor ek so "bang" was nie. Al wat net nog moet regkom is dat my golfmater (Anné) weer moet fiks genoeg wees om om 'n golfbaan te stap en my gat te skop - dan is alles soos dit was, net STUKKE beter.

Op nuwejaarsdag het ek probeer om een van daai maklike resepte aan te pak in die "Nie vir Ma's Nie" resepteboek wat Ma'le vir Kersfees vir my gegee het. Ek het omtrent vyf resepte oorweeg maar die bestandele was nie almal in die huis nie en die een waarop ek toe besluit, het ook nie al die bestandele gehad nie, maar ek het toe maar 'n plan gemaak. Toe sukkel ek in daai sogenaamde "kombuis" om oor die weg te kom. Elke keer as ek bietjie meer doen as om koffie te maak daar, wil ek weghol. Ek hoop die "argitek" wat dit gedoen het het darem al besluit om mandjieweef,  leerlooiery of houtwerk te doen of iets anders meer sinvol met sy lewe. Of hopelik was hy 'n groentjie argitek op daai stadium wat nou weet waarmee hy besig is want op daai stadium toe hierdie kombuis (en huis se interieur) ontwerp is had hy nie 'n kloe nie. Ironies genoeg hou ons van die huis se dop, dis net die binnekant wat ons spoed so breek. Die aanbouings was nie veel meer werd nie, maar alles het darem baie potensiaal.

Dis hoekom hierdie jaar as Die Jaar van die Kombuis en Leefarea bekend sal staan. Ek sal my vinger uit my oor uit moet kry as ek 'n sukses van Die Jaar van die Kombuis en Leefarea wil maak, aangesien ek nog steeds glo ek moet en kan dit self doen.

En dan is daar nog al die ander goed op my hooivurk. Ek moet aanhou probeer om 'n goeie pa en eggenoot te wees (of dalk een word as ek nie is nie). Elsoné gaan seker meer en meer aandag verg, al sal ons dalk bietjie beter kan slaap.

Wat die slaap en melk situasie betref, ons het die probleem geïdentifiseer maar nog nie na wense opgelos nie. Ek het so te kere gegaan oor haal vol pens en dan is sy nog steeds nie tevrede om te slaap nie; dit mag so wees dat sy haar pens kon vol kry na drie ure maar die vermoede bestaan dat sy maar honger gebly het. Met die dat ons 'n borspomp tot ons beskikking het kon Anné eergister die een bors leeg pomp toe Elsoné aan die slaap geraak het toe sy klaar is met die ander en die skok was maar groot toe ons sien dat daar maar bittermin uitkom - omtrent net 'n derde van wat dit in die heel begin was. Anné was natuurlik ontstelt daaroor wat te verstane is. Sy is deur baie pyn en ongemak en nou nog dit ook. Sy hou aan wonder of dit die moeite werd is - heeltemal te verstane. Borsvoed was in die eerste plek nie haar eerste keuse nie. En op die ou end gaan dit oor Elsoné. Dis baie belangrik dat sy genoeg kos kry op hierdie vroeë stadium.

Maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Party mense wat dink hulle opinie is iets werd en dit op die internet publiseer voer aan dat min melk nie 'n probleem is sonder 'n oplossing nie en dat dit selfs maklik is om aan te help. So, ons glo dit en probeer nou maar die bekombare rate. Blykbaar is hops 'n goeie aanhelper, so ons het vir haar 'n bietjie alkoholvrye bier gekry en ek gaan vir haar Guineuss ES ook soek om een keer 'n dag te drink. Groen groente is ook blykbaar goed vir dit, so ons sal maar weer net gesond en gebalanseerd moet begin eet op 'n manier (ek weet nog nie heeltemal hoe ons dit gaan regkry nie). En dan is daar nog vitamines en pille vir die tipe ding ook. Ons het nou maar om die fort te hou begin om so nou en dan 'n bietjie NAN te gee as ons sien sy kry nie genoeg in nie. Maar ek glo vas dit gaan nie vir te lank nodig wees nie.

Ons het gister gou Mall toe gegaan (wat op die ou end amper 4 ure was) om 'n draai by Elephant & I te maak en 'n paar goed by PnP en Clicks te kry. Ons kon toe darem bietjie rustig kom krieket kyk ook.

Vandag moet ek nog 'n laag Woodoc op die hek sit en die garage regpak. Ons sal maar sien of dit gebeur ...

No comments:

Post a Comment