Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-08

Onstuimigheid

Anné het gisteraand vir die laast keer geborsvoed. Dit mag dalk goed wees vir Elsoné maar ek dink nie dit het haar ma te goed gedoen nie. Ek kan met sekerheid sê dat ons alles prakties binne ons vermoë gedoen het om dit te laat uitwerk, maar die uiteinde van die saak is dat die melk nie genoeg was nie en dat Anné begin het om op te sien na voedings - dit het tot drie ure op 'n slag geduur en dan wil Elsoné steeds nog opgetop word met aanmaakmelk. Ek verstaan en ek ondersteun Anné in haar besluit. Ek het ook lank genoeg haar probeer aanmoedig om vas te byt, maar genoeg is genoeg.

En Elsoné kon darem vir amper 'n maand goed vorder op moedersmelk en die voordele wat dit inhou. Sy is gesond, sterk en vorder goed. En ek weet dit gaan ook nie nou skielik verander nie. Anné voel natuurlik skuldig daaroor en dalk 'n bietjie hartseer ook. Sy wonder of sy nie dalk selfsugtig is om te staak nie. Sy is ongemaklik en ontevrede met hoe haar borsvoedervaring was en daarom die wonder oor die selfsugtigheid; oorweeg sy Elsoné se kant van die saak sterk genoeg is haar vraag. Maar ek dink sy het dit ver genoeg gedruk en kans gegee en ek glo dit is die regte besluit.

Ek sal jok as ek nie erken dat dit my 'n bietjie onkant gevang het nie, want ons het gisteraand nog planne beraam om hopelik weer melkproduksie op voldoende vlakke te probeer kry. Maar Anné sê sy het gisteraand baie opgesien na 'n voeding en net besef en besluit dat genoeg nou eenmaal genoeg is. Ek het maar net vanoggend terloops gehoor toe sy vir Surika vertel dat sy besluit het. Dis waarom dit my onkant gevang het. Maar aan die ander kant het ek nooit verwag dat Anné borsvoed in die eerste plek 'n kans sou gee nie. So, in my opinie het sy al meer as genoeg gedoen om haarself te oortref met wat sy bereik het die afgelope maand in die verband.

Ek het toe vroeg vanoggend in die pad geval, 04h20 om die lang draf saam met Tim en die klub aan te pak. Ons het op die ou end 33 km gedoen en ek is baie trots daarop. Dit het eintlik baie goed gegaan - ek het nooit gekramp nie en kon eintlik relatief maklik die kilos doen. Dit was definitief baie moeilik; my vorige verste afstand was 'n hele 12 kilometer minder. Maar die moeilike deel was soos die cliché sê 80 % in my kop en 20 % in my bene. Ons het 5 kilometer gehardloop voor ons aangesluit het by die klub by Shell Meerensee soos gewoonlik. Die beplande afstand vir die klubdraf was 18 km, so ons plan was om so 28 km te hardloop vandag. Maar op die ou end was die klubdraf 22 km. Toe ons by Shell aankom wou Tim weet of ons reguit huis toe gaan en of ons nog 5 km gaan doen. Op daai stadium het ons totaal vir die dag al klaar op 27 km gestaan - een minder as die beplande afstand vir die dag. Net voordat hy gevra het het ek daaraan gedink dat dit soveel vat om mens se lyf in daai toestand te kry; dis 3 ure se hardloop. Ek het toe geredeneer dat dit goed sal wees om maksimaal die toestand van ons lywe en gemoedstoestande te verken en nog 5 km te doen. Dit het ons net soveel nader gebring aan 'n volle marathon afstand en ek glo ons kon heelwat van onsself leer in die ekstra 5 km. Ek sou so ver gaan om te sê dat dit amper maklik was voor ons daai laaste ekstra deel aangepak het, wat beteken dat die ekstra 5 km ekstra waardevol was.

Maar een ding is seker, ek was bitter moeg toe ek by die huis kom. Die ergste was my seer voete. Die pyn het eers net my voete verswelg, maar gou opgeskiet in my kuite tot by my knieë. Ek het vir omtrent 'n halfuur eers net in die swembad deurgebring en rondgedryf om stramming van my ledemate af te kry. Maar toe ek daar uitklim oorval die moegheid my en moes ek in die bed gaan klim. Ek het twee bierglase Rehidrat gehad en 'n glas water, maar kon net nie rustig raak om te slaap nie. Ek het toe op die ou end so 12h30 opgestaan en kon toe voel my bene is nog baie seer en styf. Maar na 'n sitrosoda en pynpille het ek weer sterk gevoel en ek dink die herstel gaan vinnig genoeg wees om 'n normale week se oefening in te kry.

Al hierdie goed is goeie nuus vir die kwalifiserende marathon wat ons die einde van die maand in Empangeni wil gaan hardloop.

Ons het vir Eben en Nicolette genooi om 16h00 te kom koffie drink so ons is toe  so twee-uur se koers gou gaan Spar en Clicks toe. Ons moes nog NAN koop, maar dit het eers gebeur na 'n bietjie debat oor die duurder hipo-allergeniese weergawe teenoor die gewone. Anné se redenasie was dat ons albei allergië het wat waarskynlik beteken dat Elsoné ook 'n allergie van een of ander aard sal hê. Sy wou as voorsorg die hip-allergeniese weergawe aanskaf. In beginsel het ek nie heeltemal saamgestem nie, aangesien ons nog nie tekens gesien het dat iets in die melk haar aantas nie, maar stem toe in dat ons kan kyk daarna na aanleiding van die prys. Ek het verwag dat dit so 5 tot 15 % duurder sou wees, maar NAN-HA is toe nou die helfte duurder as NAN. Ek dink toe ons voor die waarheid staan het Anné ook begin saam stem en ons het toe besluit ons gaan maar eers kyk hoe gaan dit met die "cheap & nasty" aanmaakmelk; kom ons hou duim vas.

Ek het toe ons klaar is by Spar gou vir haar sommer met die kar gaan wys waar ons oral gery het. Dit was 'n pragtige dag en sou 'n sonde wees om die hele dag in die huis deur te bring. Daar is soveel weggesteekte oulike plekke hier in Richardsbaai en ek het nou al heelwat van hulle ontdek met die hardlopery. Ek kon vandag vir Anné twee plekke gaan wys wat sy nog nooit gesien het nie. Ek het vir haar die paadjie aan die dorp se kant van die kanaal gewys wat daar by die staalbrug wegdraai en ek het vir haar Ferelli Alley gaan wys.

Ons het lekker saam met die Lemmers koffie gedrink en gekuier, maar hulle tweeling wou nie te lank kuier nie en het moeilikerig begin raak wat hulle laat besluit het om maar huis toe te gaan. Ons het toe daarna maar vir Elsoné gebad en begin voer, wel Anné het, terwyl ek byderhand probeer bly het om te help met wat te helpe is.

Maar sy het vir my vies geraak omdat ek nie dinge uit my eie uit aanpak en doen t.o.v. die huishouding nie - ek het nie aan kos gedink nie en toe ons besef ons is honger was dit al laterig. Aan die ander kant probeer ek om reg te wees as sy my hulp met iets nodig het. Ons was maar net op verskillende golflengtes wat dit betref en hopelik is ons golflengtes nou 'n bietjie nader aanmekaar wat die goed betref.

Ek het toe maar gou Kentucky toe gery en vir ons 'n streetwise 5 gaan kry. Ons het geëet en gou besef ons is moeg en toe in die bed kom klim. Die dae gaan baie gou verby. Ek kan nie glo dit is nou al 22h00 nie.

Dinge bly maar interessant met 'n derde mensie in 'n huishouding wat al vir sewe jaar lank gewoond is om net uit twee mense te bestaan. Maar ek moet sê - ek verruil die nuwe dinamiek vir niks. Daai mensie in daai houtkot is bitter spesiaal en tog te pragtig en sy is ons s'n!

No comments:

Post a Comment