Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-06

2011 in Alle Erns

Nou ja, daar is nou nie meer wegrkruipkans nie. Ek het toe nou maar gaan werk vandag en dit was darem nie te rof nie. Ek kon nog by 'n bietjie meer uitkom as om net koffie te drink en my vonkposse uit te vee of in te haal.

Gister was regtig lekker met die dat ek 'n ekstra daggie af kon hê as wat verwag was. Die Nye het gevoed en geëet en toe is ons hospitaal toe om te kan weeg. Elsoné het 3.2 kg geweeg en 51 cm gemeet wat beteken sy vorder goed, volgens plan.

Maar Anné se melk probleempie wil net nie lekker opklaar nie en daar is ook geen kwiekfieks nie. Sy het uit 'n paar oorde gehoor dat een of ander anti-deprisant die melk sommer gou sal laat vloei, maar uit die aard van die saak sien sy eenvoudig net nie daarvoor kans nie. So, sy is nog maar op die alkoholvrye bier en van more af dalk 'n bietjie Maxalon en die Jungle Juice. Maar ek kan sien haar moed, maar veral die geduld, is besig om min te raak wat heeltemal te verstane is. Ek is so tevrede met - en trots op my vrou dat sy dit 'n goeie voluit kans gee, en dit is nou een ding wat nie twee is nie, sy gee haar alles. Dit wil lyk of daar lig aan die einde van die tonnel mag wees maar ons is nog nie seker nie.

Ons het gister huis toe gekom, ek het nog 'n poging aangewend om ons trouvideo te verdigitaal om iets sinvols daarvan te maak en het lekker krieket gekyk. Hier rondom 15h30 het Anné vir Elsoné na my toe gebring om nog 'n les van krieketkyk te kry en dalk 'n bietjie te slaap. Sy het nie mooi geluister na wat ek haar probeer leer het nie, maar het darem lekker geslaap en dit het gelyk of sy meer daarby gebaat het as my krieketkykles. Ek kan haar dit vergewe - daar is baie mense wat al jare toegang tot toetskrieketkyk het en nog steeds dit vervelig vind. Dit vat maar 'n ruk om die fyner nuanse onder die knie te kry en die intriges op die veld te kan waardeer. Haar slapery het haar ma ook 'n gapingtjie gegee om haar gegaap so bietjie teë te werk en sy kon ook so twee ure geslaap kry.

Elsoné was vroegerig weer gevoed en aan't slape en ons kon selfs 'n bietjie Fringe kyk.

Anné moes weer 'n slag opstaan gisteraand voor die vroegoggendvoeding maar dit is darem heel billik. Die probleem is dat Elsoné se ingewande die heel dag vandag met winde geveg het en nooit lekker geslaap het nie. Anné was heel uitgeput toe ek by die huis kom van werk af.

John het sy rolsaag kom haal maar dit het uitgeloop op 'n kuiertjie en hy het toe sommer saamgeëet aan een van Anné se hoenderpastye wat sy gebak het voor Elsoné gekom het. Terwyl die Nye gebad het, het ek hom so bietjie gehelp met sy trapidee by sy kombuisdeur / garagedeur nadat ek hom mooi gewys het wat ons idee vir ons voordeurtrappe is. Dit het hom aan die dink gesit en hy het dalk ook nou 'n opplossing vir sy trapprobleem.

Elsoné het nie goed en vas aan die slaap geraak nie, maar sy slaap darem nou nogsteeds en Anné kry darem nou 'n goeie slapie in.

Oja, en dan is daar nog die "tegniese probleem" op die blog waar ek al die fotos tot niet gemaak het. So dit is 'n gemors wat ek ook nog een of ander tyd moet uitsorteer. En, nog 'n kantaantekening, Theuns reken die ontvanger gaan ons more darem so 'n paar rand teruggee wat sal help met die dat Anné nou vir 'n ruk nie salaris verdien nie. Ons sal dit in elk geval spaar, maar dit is goed om te weet daai ekstra geldjie is daar vir 'n reëndag. (Gepraat van reent, SA spoel lekker en ons het vandag ook goed reën gehad)

Ek hou duim vas vir die Proteas more - dis 'n grote!

No comments:

Post a Comment