Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-07-01

BigC'24 🔀 Allerlei - Sokkies 🧦

Wat's die nou?

Ek het my BigC'24 storie probeer vertel op 'n manier wat alles mooi op mekaar volg, maar party goeters pas net nie so lekker in nie, of sou die ander inskrywings onnodig lywig gemaak het. So, hier is 'n plekkie vir die goedjies wat ek tog wil vaslê.

Sokkies Besluit

Ek het met my Suid-Afrikaanse vlag sokkies gehardloop. Ek het met hulle vooraf "langes" gedoen - ek dink die 40km het ek met hulle gedoen. En die heel tyd voor die resies was ek in 'n worsteling oor watter sokkies om te gebruik.

Ek was baie lus om met my SA-vlag sokkies te hardloop, maar was bekommerd omdat hulle dunner is as my pienk (vrek gemaklike) Falke sokkies.

Pienk, vrek gemaklike, Falke sokkies


Aan die ander kant was daar 'n "lange" wat ek met die "hidden" sokkies gehardloop het, en hulle my bietjie kon bykom net bo die tong van my skoen en 'n bietjie rou geskaaf het. Iets wat NOG NOOIT met al my Falke sokkies gebeur het nie!

Dit was tot die aand voor die Comrades nog vir my onseker watter sokkies ek mee gaan hardloop. Ek kon alles baie mooi voor die tyd "uitfigure", maar die sokkies was 'n worsteling wat net nie op 'n punt kon kom tot op daai laaste oomblik nie.

Iedergeval, my patriotisme en pragmatisme het toe saam gewerk en ek het opgedaag met my Versus sokkies (amper soos dié).

Sokkies wat Grootword

Met die dat ek tot 'n besluit kon kom oor 🇿🇦 sokkies was ek een van baie die oggend van die resies. Maar dit het my glad nie gepla nie. Ek het vroeg-vroeg al gesien daar is hordes ander wat ook met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies hardloop. Ek wou graag vir iemand op die regte oomblik sê "Ek hou van jou sokkies" of "I like your socks"

Terwyl ek nog saam met my hardloopmaatjies gehardloop het dit soos 'n baie flou ding gevoel om te sê vir 'n vreemdeling terwyl ek sulke lekker geselskap om my gehad het. Maar toe ek alleen begin hardloop het die "drang" om dit vir iemand te sê al hoe sterker geword. Vir een of ander rede het ek net nie so ver gekom nie. Ek dink die oomblik het nooit reg gevoel nie, asof ek gedink het ek gaan nie die reaksie van die mede-moeg-kameraad kry vir so 'n flou opmerking nie.

Maar toe, êrens voor Inchanga het ek 'n vroutjie met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies ingehardloop. Maar hare was nie so kort soos myne nie. Dit was haar hele kuit se lengte. Met 'n baie ouliker ontwerp van die vlag.
(ek het nou hard gesoek, maar kon nie 'n voorbeeld van dit op die web gekry het nie)

Toe ek dit sien, weet ek hier is my kans... Ek het die pas bietjie aangedraai om op die regte oomblik by haar verby te wees dat sy my sokkies kon sien. Sy het verseker my flou grappie gevang, al is Engels ons albei se tweede taal.

"Oh, wow, that's great! Now I know what my socks will look like when they grow up".

My 🇿🇦 Sokkies