Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-07-14

BigC'24 8️⃣ Kameraad Rudi

Dit voel of daar vreeslik baie gebeur het wat ek kan onthou rondom Umlaas Road. Dis hier waar ek vir AndreM weer gesien het, vir Lebogang ontmoet het en 'n ent saam met Zakhe gehardloop het. Dis ook hier, rondom die 17-km-om-te-gaan-merker wat ek weer 'n groen nommer sien. Een met 29 wedlope agter die blad. Hy is dus besig met sy 30e Comrades!

Ek het nog nie op daai stadium saam met 'n groen nommer gehardloop nie en al lankal gewens ek hoef nie alleen te hardloop nie. En toe probeer ek vir Rudi van Hartbeespoort "opchat" met my flou "chatup-lines" wat tot dusver nie gewerk het nie...
Deon: "Middag Rudi"
(van agter af waar hy nog nie kan sien wie hom groet nie)

Rudi: "Middag" 
(teen die tyd is ek al langs hom dat hy kan sien ons ken mekaar nie)

Deon: "Hoe gaan dit so ver?"

Rudi: [Iets soos] "Dit gaan oraait, begin net moeg raak."

Deon: [Iets soos ] "Janee, ek kry ook swaar. Maar, gaan dinge vir jou darem nog volgens plan?"

Rudi: [Iets soos] "Jawat, alles nog darem volgens plan."

Deon: "Dis goed! So, wat is die plan?"
(met die hoop om te hoor dat daar 'n versoenbare teikentyd met myne is)

Rudi: "Om klaar te maak."

Deon: "Julle groen nommers is almal die selfde. Ek het nou al seker 'n halfdosyn groennommers gevra en almal antwoord so."
Nou ja, ek weet regtig nie hoekom dit ge-"stick" het nie, maar ek en Rudi het saam begin hardloop. Uiteindelik het ek 'n groennommer saam met wie ek gemaklik kon hardloop wie nie van my (kon/wou?) ontslae raak nie.

Rudi Rabe en Ek

Ons het nog so bietjie ontmoet-praatjies gemaak, maar dit was nie lank nie toe die volgende uitglip:
Deon: "Hoekom sal ek volgende jaar terugkom?"
(ek wou eintlik vra hoe kry mens dit reg om 30 keer terug te kom, maar toe glip daai uit)

Rudi: "Natuurlik moet jy terugkom om jou back-to-back te kry. Maar dan stap jy weg."

Hoedehel stry mens nou met dit?

Vir feitlik die res van die resies het ek en hy saam gehardloop. Dit was regtig 'n voorreg. Ek het genadiglik kon ophou kyk na my pace-chart want hy ken die roete so goed en ek kon vra wat is volgende en hoe om elke stuk aan te pak. Hy't sommer raad gegee al vra ek nie. Rudi het elke waterpunt se strategie voorgestel en ek kon net saam hardloop. Dit was wonderlik om so bietjie te "ontspan" en op hom te steun.

Maar ek was eintlik bietjie in die moeilikheid; my eie tweede pakkie Rehidrat het ek al rondom halfpad moes opgebruik. Ek kan nie onthou waaroor presies ons gepraat het nie, maar ek het blykbaar geklink of ek swaar genoeg kry dat Rudi een van sy sakkies Rehidrat (waarvan hy heelwat saamdra) vir my gegee het. Dit was PRESIES wat ek op daai stadium nodig gehad het. 'n Bietjie later, het hy ook vir my twee Crampblock tablette gegee by 'n waterpunt. Ek is oortuig sonder hierdie hulp ek êrens op die laaste 15 km sou kramp. Dit was waarskynlik op die nippertjie wat hy my só kon help.

Rudi se pas en my pas en moegheid en kans sien en vasbyt was gelukkig versoenbaar vir die laaste groot stoot. Ons het gehardloop/loop oor Little Polly's met sy raad wat sinvol en geduldig aanhou kom het. Ons is deur die 10-km-om-te-gaan-merker, waaroor ons albei bly was. Die manne van Love Your Nuts  het by ons aangesluit (of het ek en Rudi by hulle aangesluit?). Teen Polly Shortts op het ons klompie saamgestap en kuier soos mense wat mekaar al jare ken. Ek het met die stappery bietjie agter geraak, want die hammies was immerteenwoordig, maar ons het aanhou vorder.

Rudi en die manne van Love Your Nuts met my net 'n paar treë agter

Kyk nou net! Ons het sowaar dit gemaak tot die bokant van Polly Shortts. 

Ek onthou duidelik dat, toe ons deur die Thirsti waterpunt gaan ek gedink het, ah, nou gaan ek uiteindelik 'n Thirsti Isofit te drinke kry. Dis iets wat ek die heel pad voor uitgekyk het; ek was vrek lus daarvoor, maar hier was ook niks van dit nie. Van dit wat daar wel was, wou ek net water hê. 

Moelik om te glo, maar vir alle praktiese doeleindes was dit nou regtig afdraende tot die einde. Elke tree was seer, veral my voete, en elke X-km-om-te-gaan merker het nie getroos nie. Rudi het seker ook goed swaargekry, want hy't 'n slag of wat gesê ek moet gaan as ek kan/wil. Hy't gepraat in die rigting van dat ek nie te veel op hom moet staatmaak nie. Daar was twee of drie keer wat ek gesê het ek sal by hom bly, seker omdat ek hom ook bietjie wou help.

Met so een of twee kilometer oor wil hy weer stap wat ek nie "nodig" gehad het nie en hy het ook gesê hy moet in elk geval by Comrades House stop om iets op te tel. Ek het besef ek moet tatta sê en het hom so mooi as moontlik en, natuurlik, innig dankie gesê vir al sy hulp. Super dankbaar!

Hier waar ek nou sit en skryf oor dit, is daar geen twyfel by my dat ek volgende jaar Die Af wil doen nie. Die feit is dat Comrades-Kameraad Rudi se aansporing 'n faktor is. Hy't dan met groot insig gesê ek moet terugkom vir my back-to-back. 

'n Ander feit is dat hy ook met insig gesê het ek moet "wegstap" na ek my back-to-back gekry het. Dít terwyl hy self besig was met sy eie vyftiende back-to-back, sy 30ste Comrades maraton. 

Rudi Rabe; Legendaries!

Rudi, heel regs, met die "iets" wat hy by Comrades House moes kry.
(vanaf YouTube)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking