Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2024-07-14

BigC'24 7️⃣ Comrades Kamerade

Diep in die Lewe

Daar is seker nou al genoeg gewag gemaak van my ervaring van die BigC'24 as 'n harde resies. Dit was nie (soos verwag) net 'n "lange" wat aanhou en aanhou nie. In die omgewing van Cato Ridge/Camperdown het ek begin besef vandag hol ek 'n resies wat blykbaar nie einde kan kry nie. 

Tog, as ek eerlik is, was ek nooit op 'n punt in die resies waar ek myself ontmoet het soos wat BruceF sê nie; iets wat ek verwag het om te gebeur.

MAAR
As ek eerlik bly, moet ek ook erken (en erken en erken en erken) die Comrades het my ordentlik getoets. Miskien is die "ontmoet" ding iets wat gebeur as mens 'n jonger "novice" (groentjie)  is en jouself nog nie voorheen ontmoet het nie. 
(terwyl ek nou tik lyk die my lettertjies soos dié van 'n vreeslike slimjan; ek was nie; ek was erg op my limiete)

Comrades 2024, die BigC'24, was 'n magtige, groot, spesiale oomblik in my lewe...

Kamerade

DawieA was nie net op die dag daar by Camperdown deel van my eie eerste Comrades-storie nie. Hy't saam geoefen vir die resies wat hy self al 3 maal gedoen het. Ongelukkig, in 2024 het 'n besering so 2 maande voor die tyd hom ontneem van 'n poging op die groot dag. Feit is, daai paar treë wat hy (kaalvoet🦶🏻?) saam met my met gehardloop het was as volwaardige Comrades-kameraad

En Dawie was allermins die enigste...

My maters saam met wie ek in Blok G begin het en honderde kilos in voorbereiding mee saam gehardloop het: Comrades-kamerade.

Die groen nommers langs die pad wat ek nog voor Fields Hill al begin "opchat" het om te hoor of hulle plan vir die dag versoenbaar is met myne: Comrades-kamerade.

Die vreemde hardlopers op die pad wat ek my flou grappies op losgelaat het so nou en dan 'n laggie terug gekry het: Comrades-kamerade

Al die gesels en beplan en saam oefen vir BigC'24 wat ek en AndréM gedeel het, het 'n kersie op die koek gekry toe ons mekaar op die dag kon sien op die Harrioson Flats en toe later weer net voor Umlaas Road. Ek mag nou vir André 'n Comrades-kameraad noem.

'n Groot bron van kameraadskap is al die Zoeloelanders met bekende klubkleure (RBAC, ZMSC, Mtunzini, Umhlathuze, NRB Harriers, RBM ens.) wat ek elke nou en dan gesien het. Ek groet dan oordadig deur hulle klub-naam uit te skree, 'n ou gewoonte van my op 'n resies. Dit word altyd met 'n glimlag (partykeer deur pyn) begroet as hulle die RBAC kleure sien: Comrades-kamerade.

Ek en Comrades-kameraad Lebogang by Umlaas Road

Bo op die brug wat oor die N3 gaan by Umlaas het ek vir Lebogang Thole van Soweto[1] raakgehardloop. Hy was toe nou die eerste hardloper in 68 km saam met wie ek meer as 'n paar treë kon hardloop. Ons het sommer lekker aan die kuier geraak en gesels oor sy huidige en vorige Comrades en my groentjie status. 'n Ent later het hy by familie van hom gestop langs die pad, maar toe was hy klaar 'n Comrades-kameraad.

Ek wonder of dit 500 meter verder was wat ek vir Zakhe Qwabe raakhardloop. Hy werk ook al jare by BELL. Ons is kollegas wat redelik gereëld met mekaar te doen kry, maar nou kon ons óók 'n kilo of so saam hardloop: kollega en Comrades-kameraad.

Almal wat al Comrades gedoen het, hierdie jaar of voriges, voel vir my soos Comrades-kamerade. Selfs die wat ek nie eers van notisie geneem het nie, Comrades-kamerade. Ek kan dit ook selfs sê van die Engelsman-busdrywer wat êrens in Pinetown vir my/ons geskree het ons moet ons hande opsteek as ons begin stap. Al die Comrades hardlopers van Richardsbaai, Empangeni en Zini saam met wie ek al 'n paar kilos gehardloop het of duisende kilos, julle is veral spesiale Comrades-kamerade

En so kan ek aangaan en aangaan ... 



VOETNOTAS
[1]
Die wonder daarvan om in 2024 is al die data en inligting wat beskikbaar is rondom die resies. Ek kon vir Lebogang opsoek op die Comrades webblad omdat ek sy nommer kon kry op die YouTube video van ons twee wat by die Umlaas Road tydhou punt verby hardloop.
What a time to be alive!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking