Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-20

Sewe Jaar, Twee Weke

Ek en Anné is vandag sewe jaar getroud! Dit was wonderlik sover en met die dat daar nou 'n pragtige dogtertjie deel is van hierdie huishouding ook beteken waarskynlik dat die volgende sewe jaar net so wonderlik gaan wees. Ek sal egter nie verbaas wees as dit selfs nog meer genot teweegbring nie.


Dankie liewe Vader vir hoe U vir my en Anné (en Elsoné) seën en bly seen!


En soos ek al voorheen genoem het, die tyd met Elsoné gaan ook verskriklik vinnig verby - sy is vandag twee weke oud!

Gister was weer baie rustig, al het ek alleen na haar gekyk. Ek het vanoggend vir oom Anton-hulle gesien op my oggenddraffie en hulle vra toe of ek al Pa geword het. Ek sê toe dat dit nou al vandag twee weke is, wat hulle nie kan glo nie, want hulle hoor dan nooit 'n babatjie huil nie. Wel, ons hoor ook nooit 'n babatjie huil nie

Ek moet weer in die W.V.F. rye gaan staan vandag, hopelik is al die papierwerk uitgesorteer en kan ons eis begin vorder.

Intussen kan ek voel hoe die jaar tot 'n einde snel!

Elsoné se Gauteng-grootouers kom Donderdag, ek weet nog nie hoe lank nie, maar dit sal lekker wees om hulle ook hier te hê. Ma Elize gaan more huis toe, ek kan nie glo haar week hier by ons is so gou verby nie!

Dis badtyd vir baba, so miskien is daar nou-nou 'n nuwe foto by die opskrif.

PS.: O, ja. Amper vergeet ek, dis nou redelik maklik om kommentaar te lewer op wat ek hier skryf, dis nie nodig om in te teken as 'n gebruiker van een of ander aard nie. So, die van julle wat nog lees is welkom om sommer kommentaar by die inskrywings te maak. Laat weet net asseblief wie jy is. Ek is nogsteeds nuuskierig om te weet wie vasbyt en die blog lees.

No comments:

Post a Comment