Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-25

Oploop Tot Kersfees

Ek en Pa het gister vir John gaan help om deure te gaan koop met Philip Nel se sleepwa (ja, sy sleepwa staan nog steeds by my - Dankie Philipus!). Ons het gou by Cashbuild gestop om te sien of hulle het wat John van sal hou wat hulle wel toe gehad het. Ek het gesê ons moet gou Build-It toe gaan ook, want ek weet hulle het gereëld spesiale aanbiedinge op deure. John was gelukkig, hulle het 'n spesiale aanbieding gehad en hy kon toe op die vier deure wat hy moes koop R260 spaar vergeleke met Cashbuild se deurpryse.

Ons was so 10h30 terug by die huis en ek het toe mos 'n bietjie ingehaal met die blog en tred met tyd verloor. Anné wou nog 'n swemkostuum gaan omruil by Meerensee Mall maar sy het vir Elsoné 'n slag nog gevoed en 'n bietjie vir my gewag om klaar te maak met my skryfwerk en blogadmin. Ek het eers besef hoe laat dit is toe Nicolette my laat weet via vonkpos (sy het kommentaar gelewer op Stoutigheid) hulle werk tot gewone tyd al is dit Oukersdag, wat 13h30 is. Ek wou nog antwoord op haar vonkpos, toe sien ek met 'n skok dit is al 13h30.

Ons los toe vir Elsoné (aan die slaap) by Oupa en Ouma en ek en Anné is toe winkelsentrum toe maar sy kon nie presies kry wat sy wou hê i.t.v. die swemkostuum nie en die winkelares wou nie die geld teruggee nie (na aanleiding van winkelbeleid). Ons het eergister vinnig daar gestop want ons was haastig om by die huis te kom (Anné moes 14h00 by die huis wees vir haar rekenaaropstelling om te kan gebeur om van die huis af te kan werk volgende week). Sy het toe gou 'n swembroek gegryp wat sy al voorheen gesien het daar (hoewel hierdie nou 'n ander kleur was) en gevra of sy hom by die huis kan kom aanpas. Sy het verstaan dat sy hom sou kon terugbring vir 'n terugbetaling of kom omruil. So, Anné was ontstelt omdat sy toe nou nie haar geld kon terugkry na dit alles en sy steeds nie die swembroek kon kry wat sy wou hê nie. Sy het toe maar op haar tande gebyt en iets gekies om darem om te ruil en nie die geld te verloor nie. Ek moet sê ek hou van die swembroek wat sy gekoop het, maar sy is nou nie heeltemal tevrede nie. Ten minste kon sy swem in hierdie verskriklike Richardsbaaihitte. (Ons gebruik omtrent so 120 kWh per dag om net die huis se binnetemperatuur leefbaar te hou!)

In elk geval, ek het tred met tyd verloor, het self nie honger geword nie en het nie besef my ma'le sal dalk al honger wees nie. Voor ons gery het was al wat ek vra of hulle dalk iets wil drink. Anné was bietjie vies dat ek nie vir middagete (en aandete) gesorg het nie en ons moes toe Pick'nPay ook toe gaan! Aijaijai! Ek het dit nog nooit so daar gesien nie en ek hoop om nooit weer daar te wees as dit so lyk nie. Elsoné het verskriklik gedrink gister en Anné het op haar senuwees geraak in die klerewinkel en ek het op my senuwees geraak daaroor in Pick'nPay, toe dit my beurt was vir spoke opjaag. Ons bel toe maar huis toe, maar alles was dood rustig. Ek dink ons was 'n driekwartuur in Pick'nPay daar en ons emosies het hoog geloop. Ons het groente vir slaai gekoop en ons het broodjies, kouevleis en drinkgoed gekoop. Gewoonlik vat ons maandelikse inkopies so lank, nie 'n "brood-en-melk" oefeningtjie nie.

Maar toe ons by die huis kom (15h20) is Elsoné weer rasend van die honger en Anné voed haar toe. Maar sy het die heel dag nie goed geslaap nie, want sy wou omtrent die hele tyd eet.

Sy het selfs so gehuil dat daar vir die eerste keer trane te bespeur was. Anné het net vasgebyt en aanhou voed. En dan is Elsoné rustig vir so 'n halfuur en wil dan weer voed. Dit is seker maar 'n tipe van 'n snelgroeifase wat besig is om te gebeur.

Ons het haar gisteraand hier teen 20h00 in die bed gehad na 'n voedsessie en ek het nog vir haar goed aangevul met 30 ml se borsmelk wat gevries was daai tyd toe Anné so moes uitpomp om die seer te help beter maak. Die twee Nye het toe albei baie lekker geslaap tot 01h00 van 20h00 af, met die plan dat ek sal opstaan as sy weer so dringend wil eet na 'n voedsessie en vir haar nog met die bottel gee. Dit het nie gebeur nie en Anné het weer 05h00 opgestaan (soos gewoonlik) vir 'n vroegoggendvoed.

Maar nou is dit Kersdag en ek hoop alles gaan lekker rustig wees en dat dit nie so warm gaan wees nie. Ons gaan 'n skaapblad of -boud in die oond druk en die dag lekker rustig vat. Dit gaan net ons klomp Jouberts wees.

No comments:

Post a Comment