Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-31

Regtig Net Ons op Oujaar

Ek het nou al twee keer probeer om 'n inskrywing te maak vandag en
hierdie een gaan ook maar rof gaan. Die klappers raas om ons en Frodo
en Taggo is al om my en nie baie ingenome daarmee nie.

Daarbenewens is Elsoné omtrent al die hele dag wakker en drink die
hele tyd, dat haar pens daar staan, maar stel nie belang in slaap nie.
Ons had nog illusies om dalk êrens oujaar te gaan vier, maar dit is
uit die aard van die saak nie moontlik nie. En dit is goed ook, dan
kan ek darem bietjie probeer om die brakke rustiger te hou ook.

Wat die afgelope paar dae betref wat ek nie by blog uitgekom het nie
is my hoofverskoning die harde werk wat ek en Pappa ingesit het vir
die heining se drie houtraaminsette. Ek het gehoop dit sal so omtrent
'n dag vat om te doen. Ons was op die ou end daarmee besig van Maandag
tot Donderdagoggend voor hulle gery het. Presies 3.14 (Pi afgerond)
keer soveel tyd as wat ek geskat / begroot het dit sou. Ek het so sleg
daaroor gevoel, maar aan die ander kant ek en hy het darem lekker
gekuier so al werkend. En die resultaat is absoluut die moeite werd.
Hulle kuier hier was baie lekker en dit het ook, soos Skoonma se
kuier, baie vinnig verby gegaan. En dis hoekom ek sê ons is nou
alleen. Vandat Elsoné gebore is was daar vir ons gesorg met die
aandetes en daar was heelwat kuiergaste. Toe kom Ma Elize, wat vir ons
gesorg het en toe my ma'le wie ook vir ons gesorg het. Nou is dit die
werklikheid wat gaan inskop - ons moet nou vir onsself sorg.

Die Nye stoei al van Dinsdag se koers af met mekaar wat Elsoné nie wil
slaap soos ons dit gewoond is nie. Dit was vreeslik warm en Anné het
haar nie so toegedraai in 'n koekon nie, wat toe nou gemaak het dat sy
nie slaap soos sy kon / moes nie. Anné het toe begin om haar weer toe
te draai en dan in die studeerkamer met die klein effektiewe
lugversorger in haar stootkarretjie te sit om te slaap en dit het goed
gewerk. Maar vandag was anders. Sy het al gisteraand nie lekker
geslaap nie en Anné het amper niks slaap ingekry nie. Anné het gedink
sy het dalk dag en nag omgeruil, maar dit lyk nou nie meer vir my of
dit die geval is nie. Ek kan maar net hoop dat more beter sal gaan.

Ons het nog nie geëet nie. Anné voed nou. Ons probeer al van 19h30 af
om haar aan die slaap te kry - net na 'n voeding, wat haar pens soos
'n ballon gestaan het en die melk by haar mond uitgeloop het; iets wat
nog nooit gebeur het nie. So die afleiding wat ons maak is dat sy
genoeg gekry het...

(Anné het nou net gesê sy slaap ons moet probeer eet, so ek sal later
weer my sê kom sê.)

No comments:

Post a Comment