Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-11

Dankbaarheid

Laat ek begin deur vandag so bietjie kronologies hier neer te pen:
  • Wakkerword en opstaan êrens tussen 05h30 en 06h30
  • Anné so bietjie help met baba en ons eet gou 'n AllBran'tjie
  • Ry na die Lemmers toe om gewaarmerkte afskrif van baba se inentingsertifikaat te kry
  • Ry na PieterG toe om hom op te laai om vir my Philip se erf oop te sluit om Philip se sleepwa af te gee na gister se leen van die sleepwa om die hek en rame galvaniseerders toe te vat. Pieter pas Philip-hulle se brakke op die naweek wat hulle in Vryheid is.
  • Laai die sleepwa af by Philip se huis
  • Ry terug na PieterG toe om hom af te laai en loer gou die werk wat goed vorder aan hulle huis. Hulle is besig om die kombuis (en sommer alles wat deel is van daai oop plan) oor te doen. Hy is nie tevrede met die ou wat vir hom die "soliede" salignakaste gemaak het se werk nie.
  • Ry binnelandse sake toe om baba te registreer
  • Registreer vir Elsoné en kry 'n amptelike afskrif / uitdruk van ons huweliksertifikaat.
  • Dischem toe om pynpille te kry en te kyk vir yssakke vir Anné se seer borste.
  • Spar Meerensee om brood, melk en sap te kry.
  • Videowinkel om 'n DVD uit te neem (ek sal nie sê watter een nie ...)
  • Toe's dit maar 'n bietjie eet, 'n bietjie chill. Ons het selfs 'n goeie vroegmiddagslapie ingekry
  • Nog 'n eet-ens.-sessie en 15h30 het Elsoné weer geslaap en ons het besluit dis nou 'n kans om die DVD te begin kyk, maar kom eers hier by 16h30 daarby uit
  • 18h30 laai Mark en Amy vir ons aandete af
  • Ons eet en toe sê Anné sy het te seer, sy moet nou vir Elsoné wakker maak om te eet, dit was so 19h20
  • Sy is nou net klaar. Daar was twee doeke deel van die proses, wat ek geruil het en heen en weer vir sterilisasie en als so aan. Ek probeer maar om vir Anné toe te laat om net te sit in die rystoel en alles vir haar aan te dra. Dit is maar hoe ek kan help.
Dis ongelooflik hoeveel tyd alles vat, maar aan die anderkant gee Elsoné ons ook darem kans om by 'n paar ander goed uit te kom aangesien sy so lekker slaap. Maar sy is ook so oulik as sy wakker is, ek kan nie presies sê wat oulik is nie. Dit het iets te doen met die feit dat sy 'n klein petite dogtertjie is en myne is.

Nou die dankbaarheidgedeelte. Ons is dankbaar dat dit so goed gaan met ons en Elsoné op hierdie stadium en ek besef dit kan enige oomblik verander. Ek dink in plaas daarvan om te verwag dat dit enige oomblik kan verander moet ek eerder net elke goeie oomblik onvoorwaardelik geniet en vergeet dat dit dalk net tydelik kan wees.

'n Ander dankbaarheid is hoe maklik dinge geraak het vandat ek klein was. As ek moet dink ek sou moes probeer om 'n lapdoek om daai klein lyfie sit en 'n doekspeld. En dan nog doeke was en sulke nonsens, ai. En "wet wipes"! Wat het ons ouers gebruik, waslappe, wat weer gewas moes word? En 'n borspomp om te help dat die borste wat so stu verligting kan kry! En 'n babamonitor. En sterilisering van bottels met 'n bietjie water in 'n mikrogolf wat gou vir 6 minute kook en voila. Wie wil nou met Milton's sukkel? En so kan mens seker maar aangaan.

En dan is ons dankbaar vir die ongelooflike ondersteuningstelsel wat ons nou al hier in die Baai het. Ek dink aan hoe almal vir ons gesorg het i.t.v. sinvolle geskenke by Anné se ooievaarstee(s) en babagrootmaakgoed wat vir ons gegee is wat nie meer gebruik word nie. Ons het regtig nog nodig gehad wat ons moes koop. En dan nog die feit dat daar aandete vir ons gemaak word en ons nie oor dit hoef te worry nie. Ons hoef nie eers uiteetkos te gaan koop nie, wat sou beteken daar moet in 'n kar geklim word en ge-heen-en-weer word. Nou word ons kos afgelewer en dis alles so lekker en gebalanseerd en so bedagsaam omdat Anné borsvoed.

Ons is nog dankbaar vir hoe die wonderlike Skepper wat ons dien vir Elsoné vir ons gegee het. Hy seën ons die hele tyd!

No comments:

Post a Comment