Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2012-02-18

Hier is sommer net 'n klomp fotos wat al lankal moes op wees:




































2012-02-17

Oorkom die slegtigheid (Klink of ek kla)

Ek is veronderstel om vliegkaartjies te koop vir die OMTOM2012 - ek het nou net geregistreer vir hierdie jaar se resies. Maar die geld-uitgee-deel daarvan werk op my senuwees, so nou stel ek dit uit - het dit al vir meer as vier maande uitgestel, so nog 'n bietjie sal nie saak maak nie.

En dis omtrent hoe lank al ek dit uitstel om 'n ordentlike blog inskrywing te maak. Daar is allerhande verskonings. Nommer een is dat ek nie op datum is met die fotos se admin nie en dus nie "reg" is om te blog nie want 'n bloginskrywing het 'n foto nodig. Ek het omtrent 1500 fotos wat nog ge-admin moet word vanaf Desember 2011!

Dis 'n flou verskoning wat niemand wil lees nie!

Die ander een is dat dit regtig rof gaan met die Jouberts. Ek weet nie of ons sussies geword het of wat nie, maar van die eerste naweek in Oktober tot nou kan ek die naweke wat daar niks gebeur het nie waarskynlik op my een hand tel. Ek het op 'n stadium gedink ek sal daaroor blog (wat elke naweek gebeur het), maar dit is eenvoudig nou te veel en eintlik buite die bestek van hierdie blog.

Dit is nie 'n verskoning nie - dit is 'n rede, maar wel 'n flou rede (as daar so iets bestaan).

So wat is daar te sê wat wel val binne die bestek van die blog nl. "Om Pa Te Word"?

Dis seker moeilik om te nou glo, maar ek dink gereëld in spesiale of moeilike oomblike aan wat ek sou skryf oor op die blog. Die goed is maar wat in die gewone verloop van 'n om-pa-te-word-lewe saam met sy dogtertjie gebeur, maar partykeer spesiaal of moeilik. Op 'n stadium het ek gedink om te skryf oor hoe die lewe maar soos normaal vir haar aangaan terwyl pa en ma hulle bene afhol. Maar op hierdie stadium sou dit nou al afgesaagd geraak het - so dis goed dat ek nie daaroor geskryf het nie.

En toe het ek begin agterkom hoeveel ouliker en hoeveel meer mens sy word - dit het my laat dink dat ek moet begin om te skryf oor haar repertoire.

Goed soos die woordjies wat sy definitief begin sê het (en ons nie net verbeel het nie).
Goed soos die feit dat sy ons so goed begin verstaan het.
Goed soos dat waneer sy in die wildtuin saamry agterkom dat daar diere om haar is en dat sy kan dophou en geniet.
Goed soos dat sy nou self afklim vanaf ons hoë dubbelbed.
Goed soos haar sterk kruipery en omdraai by 'n trap om voete eerste af te kruip - iets wat nou al so vanselfsprekend is, maar dit was op 'n dag, nie te lank terug nie, 'n wonderlike oomblik.
Goed soos haar liefde vir water wat net aanhou groei, soveel so dat sy skof skop in heelwat ouer kinders wat al langer as sy swemlesse kry.
Goed soos dat sy haarself vir ure kan besig hou buite omdat sy regtig begin speel het en dit geniet om buite te wees en die wêreld te verken.
Goed soos dat sy agtergekom het my bene is alewig 'n bietjie souterig en as sy 'n kansie kry gou liggies daaran lek, vir my kyk en dan glimlag (wonderlik).
Goed soos dat sy nie meer gevoer wil word nie en self wil eet (al is dit nie naastenby so produktief as wat ons dit sou wou hê nie, en eintlik 'n bron van moerderlike hoofbrekens is)
Goed soos die feit dat daar maatjies ook is met die twee Lemmertjies wat gereëlder maatjies word en dit lyk my sy kuier lekker by Marli ook.
Goed soos haar manier om aan Pappa se baard te voel of dit lank of kort is.
Goed soos om gerantsoneerde soentjies uit te deel met 'n oop mond, elke een is spesiaal
Goed soos om stil te sit as daar rekkies (wat daai lekker in toom hou) uit die hare uitgehaal word voor 'n badsessie
Goed soos om self haar eie fopspeen te bestuur, insit, uithaal, wys met die vinger om te vra vir hom ensovoorts
Goed soos om al op haar eie te staan as sy nie kyk waarmee sy besig is nie
Goed soos om self water en Oros uit 'n waterbottel uit te drink
Goed soos om 'n strootjie te kan suig vir haar sappies
Goed soos om te klouter teen enige struktuur wat homself daartoe leen.
Goed soos om seesand en die speelopsies wat dit bied te kan benut.
Goed soos om vinnige afleidings te maak oor hoe 'n taak verrig word en dan te wil "self" ... die tandeborsel is 'n goeie voorbeeld.

In die begin van my blog-slegtigheid was dit 'n paar goeters wat sy begin doen het waarvan 'n kort lysie opgestel sou kon word en haar repertoire genoem sou kon word. Nou, vier of vyf maande later is dit 'n lange lysie wat nie meer gehou moet word nie, want dit begin net wys hoe wonderlik die mens geskape is. Laas jaar hierdie tyd het ons haar vir die eerste keer in 'n groot bad gebad en sy was totaal aan ons oorgelewer. Dit vang my nou nog uit as ek dink hoeveel sy in die afgelope jaar verander het. Sy is eintlik al 'n mensedogtertjie al wil ek haar hoe graag nog my babatjie hê (en haar nog gereeld so noem).

Ek vermoed die loopaksies is ook nie te ver nie, maar ek hou maar elke dag duim vas dat dit nog uitgestel sal word.

Op hierdie stadium is dinge nog regtig mal en ek wil tog 'n paar goed, in geen spesifieke volgorde, wat die afgelope ruk die lewe interessant gemaak het noem (ek gaan nie eers praat oor hoe besig ons by "dayjobs" is nie):

  • Skottelgoedwasser breek (nog steeds stukkend)
  • Tuimeldroeër breek
  • Wasmasjien breek
  • Honda agterruit gestamp met groot skade
  • Inbreek by die Mazda
  • Elsie se ma oorlede
  • Elsie siek
  • Elsoné siek genoeg met farangites vir haar eerste antibiotikakursus
  • Ons begin bou en breek vir die kombuis
  • Geyserskade by Mollerstraat
  • Geyserfaling hier by Maasbanker
  • Studeerkamer lugversorgerfaling
  • Groot daklek by Mollerstraat
  • Mazda rathefboom slytasie
  • Tuinjong (Justice) al vir 3 weke nêrens te sien
  • Ek op 3 besigheidsreise (waarvan die eise al amper 3 maande uitstaande is)
  • Anné weg vir besigheid
  • Lekker baie kuiermense Desembermaand
  • Marathon voorbereiding
  • Balletkonsertvoorbereiding
  • Ek wil onthou daar was 'n stukkende strykyster ook daar êrens
Ek kan seker nog aangaan, maar dit is al klaar afgesaagd. Op 'n stadium kon ek dit nie meer hou nie, en my "gaskets" was op blaaspunt, maar Anné het dit reggekry om my te oortuig dat die goed wat gebeur eintlik maar normale dele van die lewe is - so nou kry ek dit op 'n manier dit maar reg om die goed af te lag.

Ek en Elsoné is op hierdie stadium weer bietjie alleen - Anné is in die Kaap tot Maandag vir 'n kursus. Ek het geveg om bietjie kos in haar lyf te kry, en heelwat minder geveg as wat ek verwag het om die medisyne (haar eerste antibiotika) in haar lyf te kry. Tot nou toe het ek en Anné teen haar opge-"team" om die medisyne in te kry, wat my laat verwag het dat ek vreeslik sou sukkel op my eie.

More gaan ons twee na die Lemmer-tweeling se verjaardagpartytjie toe en die res van die naweek beplan ek niks nie - net om maar lekker baie tyd saam met Mooimooi te spandeer en eintlik die naweek aan haar te wy. Dis eintlik maar hoe Anné se lewe by die huis daaruitsien want mens moet al jou tyd daaraan wy om Elsoné te sorg en te probeer voorsien dat sy goed genoeg eet ensovoorts. Ek hoop my ou vroutjie kry darem so 'n bietjie rus in die naweek wat sy nie oor my of Mooimooi hoef te komkommer nie.

2012-01-12

Skande

Kan jy glo ek het so lank laas iets oor ons WONDERLIKE bondeltjie Mooimooi gesê op die "interweb" ... dis 'n skreiende skande.

Mag die situasie gou weer beredder word...

2011-11-03

Fietsry

Ons het vir Elsoné 'n stoeltjie gekry om agter op die fiets saam te ry en het vanaand vir die eerste keer gaan ry... Daar is fotos: http://t.co/iIny3lpI

2011-10-25

Verhoogde Intensiteit

Nee, dit is glad nie soos jy dink nie, maar dit ook ja. Soos wat Elsoné al hoe meer en meer haar eie mensie raak hoe meer voel 'n mens betrokke by haar - en dit het die laaste ruk verskriklik momentum opgetel.

Maar dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel eintlik maar dit tong in die kies want ons betrokkenheid by haar gebeur met liefde en vanself.

Ek probeer eintlik sê: "Dit was 'n paar weke want intensgeid..."

Tannies Kuier
Tannie Annette en -Suzette het mos die week van 23 September tot 1 Oktober in Durban kom vakansie hou en sommer 'n draai hier by ons kom maak die eerste Vrydag en Saterdag. Dit was baie lekker om hulle hier te hê.
Elsoné  sit by Ta'Zet en maak 'n "forty-days"
Een van die eerste kere wat Elsoné nie net slaap as ons uitgaan (Thai Wok)
nie, maar saam kuier vir die eerste twee ure. Die hoenderbeen
het haar darm vir 'n rukkie besig gehou. Kyk daai blou oë!

Ek het sommer 'n "groepfoto" geneem voor ek Saterdag weg is
om die Tonevale resies te gaan hol



Maratonnaweek
Toe Lizzanne laas jaar omtrent hierdie tyd by 'n klubdraffie ons vertel van haar laaste maraton waarin sy 'n 3h43m (as ek reg onthou) gehardloop het en dat dit die Suidkus maraton is en dat daar 'n trein betrokke is het ek gevoel ek moet dit ook hardloop.

En so het ek vir Tim oorreed dat ons moet mik om voor die einde van die jaar nog 'n "M" deur the werk. Hy het so 'n bietjie geprotesteer maar toe later help planne maak om te sorg dat ons voorbereid is daarop. Dit het soos 'n ewigheid gevoel, maar eindelik breek die maratondag van 2 Oktober 2011 toe aan ('n week voor die groot familie makietie: Elsoné se Doop).

Ons klim toe in ons wa oppad na Amanzimtoti vir die resies met 'n vae hoop op 'n rustige naweek (met die naderende doop in ons gedagtes). Ek kan getuig dat dit  darem soortvan rustig was, behalwe dat die muskiete Elsoné verskriklik in haar gesig gebyt het - die merke sit NOU nog. Ons het die Vrydagaand weer 'n kans gekry om vir Ta'Zet en Ta'Annette te sien en by ZANZIbar baie lekker gekuier terwyl ons probeer kyk of ons die wange van Oom Wikus se kredietkaart kon induik...

Die Saterdag toe ek gaan inskryf vir die "M", het Mooimooi kans gekry om vir die eerste keer 'n glyplank te ry en het dit natuurlik vreeslik geniet:


Ons het na die inskrywery ook by Clearwater Spur gaan "ontbyt" eet en Elsoné het vir die eerste keer in 'n babastoeltjie by die tafel in 'n restaurant gesit. Ek het ook vir die eerste keer haar linker pinkie tussen 'n babastoeltjie en 'n tafel in 'n restaurant vasgeknyp - daar is nou nog net 9 vingers wat nog nie so deurgeloop het nei. Maar wat meer opmerklik was is die feit dat sy daar in Spur op 1 Oktober 2011 vir my die eerste keer regtig soos 'n dogtertjie begin lyk het en ek het besef my babaMooimooi is besig om groot te word.


Die maraton het ook goed afgeloop - ek sou graag drie en 'n kwart minute vinniger wou wees, maar nou ja. Gedurende die maraton het ek 'n vreemdeling, Ross, langs die pad gekry en ons het mekaar gehelp om die resies 'n  bietjie korter te laat voel 15 en 30 km d.m.v. goeie geselskap. Ek was lekker sterk en kon die laaste 12 km in net oor 'n uur gedoen kry deur alles te gee en hard te werk:
Vir die eerste keer in 'n lang tyd kon ek ook darem 'n resies bietjie voor my hoogs-gewaardeerde en waardevolle hardloopmaat voltooi.


Doopnaweek
Dit voel soos 'n ewigheid vandat ons begin het om die doop te reël maar die tyd het toe aangebreek en verby gesnel. Dinsdag 27 September het ons heen-en-weer King Shaka lughawe toe gery om vir Skoonma te haal en voor ons weer ons oë uitvee is die doopnaweek verby en is dit die volgende Maandag vir die volgende heen-en-weer. Ek kon nie glo dat so 'n groot week so gou kon om wees nie.

Dit was vreeslik lekker om almal hier te hê. Ons het almal baie lekker gekuier maar arme Anné het baie hard gewerk om almal se mae vol te probeer hou.

Elsoné is natuurlik die oggend gedoop toe die Springbokke daardie berugte toets teen die Aussies gespeel het met 'n sekere mnr. "BL" as skeidsregter. Daar was sekerlik net vriende en familie van die dooppare in die erediens, maar dit pla glad nie. Dit was tog baie spesiaal. Een ding wat ek seker nie sal onthou nie en moet neerskryf was my gevoel van hoe die lewe en tyd onverpoosd aanstap - met of sonder jou.

Die uitnodiging wat ek vir almal gestuur het om "saam te kom
doop"

Saterdagoggend terwyl Mamma besig is met die blomme het
van die vroumense agter saam gekuier.

Anné se kermiskerrie word opgedien

Elsoné wys vir haar Ouma een van daai duur geskenke
wat so lekker speel.

Doopoggend: Ons gaan nou aantrek

Doopoggend: Die oomblik van die Teken

Doopoggend: My Gesin

Doopoggend: Pragtig

Doopoggend: Pa en dogter

2011-09-26

Kruiperigheid

Sy het nou net vir die heel eerste keer regte vorentoe resulterende bewegings gemaak wat in party kringe as "kruip" beskryf kan word.