Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-04-13

Fotos: Ma is terug en nog eerstes

Ek is al weer stadig gewees en het maar my tyd gevat om iets geblog te kry, maar hier is 'n paar fotos van die afgelope week en 'n bietjie.

Anné het toe vir Elsoné 'n regte egte Praagmarionet gekoop en sy lyk of sy mal is oor hom - sy kan haar oë nie van hom afhou nie. Ons het hom Kazzimir gedoop.




Die naweek wat verby is het sy twee eerstes beleef. Ons het haar vir die eerste keer in seewater gehad, maar sy was nie te opgewonde daaroor nie. Daar was darem 'n lekker foto of twee om te neem daarvan.



Anné het ook besluit dis tyd dat sy moet begin om te leer eet. Laas Vrydag het sy die eerste keer begin om vir Elsoné pappies gevoer. Dit is uit die aard van die saak 'n lekker gemors, maar dit het begin lyk of dit wil beter gaan. Al probleem is dat dit lyk of sy nou hardlywig is. Ons hoop dit klaar gou op dat sy weer verder kan leer om te eet.



Hierdie laaste twee fotos het ek geneem met 'n wit papier voor die kamera se flits om die flits se lig minder "harsh" te maak op die foto - dit werk besonder mooi vir daai doel.

Verder is die TwoOceans se voorbereiding feitlik klaar en ek begin nou regtig om daarna uit te sien.

2011-04-03

Fotos: Pa en Dogter wat grootword

Hierdie is nou nie net fotos van Anné se wegwees nie:

Ons was laf toe Ma nie hier was nie

Sommer net 'n lekker foto

Sy lê al die bad vol

Rustig aan die slaap terwyl Ma terugvlieg van Europa af

Het dit oorleef

Anné is nou nog nie terug nie, maar sy is al in die land. Sy is nou oppad Durban toe om so twee ure vroeër hier aan te kom as wanneer sy met die 16h00 vlug reguit Richardsbaai toe sou vlieg.

Elsoné slaap nou en alles is relatief rustig. Ons het die langnaweek in mekaar se geselskap oorleef. Dit was eintlik lekker.

Gister was besiger as wat ek verwag het. Ek het so vir 2 ure gaan gym en dit alleen was 'n "mission" om my en haar in rat te kry om daar te kom. Van die 2+ ure by die gym het ek net omtrent 'n uur en half spandeer aan sweet. Daar was admin om haar in te kry en om haar uit te kry en ek moes nog stort voor ons kon ry ook.

Na die gym is ons gou mall toe, 'n fout, want dit is maandeinde, maar ek moes gaan - haar kos is amper op, ek moes 'n tjek inbetaal wat al meer as 'n maand in my beursie is en Danie se verjaardag was gisteraand - ek moes kyk vir 'n persentjie. Nouja, ek het net so gou as moontlik probeer maak, maar dit was nog steed heeltemal te lank na my sin in daai malhuis.

Oppad huistoe het Eben my gebel om te sê hy is reg om die voëlhokke te gaan haal, terwyl Nicolette 'n ogie op Mooimooi hou. Hy het Vrydag met my gereël dat ek moet help. Ek het gou by die huis gestop om 'n onderbroek aan te trek - ek loop toe al sonder 'n onderbroek vandat uit die gym is - ek het vergeet om een in te pak!

Ons het toe vir Tim gaan haal om te help met die handearbeid van die hokke laaiery en dit was darem nie te harde werk nie - ek het myself net jammer gekry, want ek is deesdae so sleg as dit by "manual labour" kom. Ek kan vir 4 ure lank aanhoudend harldloop, maar as ek 'n bietjie fisiese werk moet doen gaan dit maar swaar, shame!

Ons het so bietjie die krieket gekyk en die Lemmers het lekker pannekoek gebak. Ek is omtrent 16h00 daar weg toe Elsoné wakker word. By die huis aangekom het ek 'n laptop aangesit met Radio 2000 streaming dat ek kan krieket luister. Ek het gestort en toe vir Elsoné gebad en probeer voer (dit was vroeg, so sy het nie so braait gedrink nie) en alles gepak vir Danie se verjaardagbraai (wat 17h00 saam met die Stormers-Sharks wedstryd sou begin).

Ek was toe eers so 18h20 daar en het toe vir Elsoné in Kara se kamer gaan sit dat sy kan slaap, maar slaap was min gisteraand. Toe ek wou sien of sy dalk iets wou drink kom ek agter dat die immerbelangrike doeksak nog by die huis is. Ek het die gou gaan haal, en sy het natuurlik niks uit hom nodig gehad nie - sy wou net deel van die geselskap wees, maar het darem later geslaap.

Sy het goed deur die nag ook geslaap, sy was eers 06h20 wakker vir haar eerste bottel (maar ek verbeel my ek het gedroom sy huil êrens nader aan die middel van die nag, ons sal nooit weet of sy wel gehuil het en of ek wel gedroom het nie)

Die uiteinde van die saak is dat ek dit oorleef het, sy het dit oorleef en oorlewing was nooit eers 'n kwessie nie. Dit gee mens net waardering vir wat dit is om die voorreg te hê om nie enkelouers te wees nie. Die kleinste goedjies wat Anné doen terwyl ek die grootste deel van die badwerk doen (of andersom) maak so 'n groot verskil - iets simpels soos om die waslap te gaan haal as jy hom vergeet het ensovoorts. En dis net die praktiese goed. Om die onophoudelike  verantwoordelikheid alleen te moet dra as enkelouer vat seersekerlik senuwees van staal.

2011-03-31

2011-03-30

O ja, in die arms aan die slaap raak

Ek het dit nou vanaand vir die eerste keer beleef dat Elsoné in my arms aan die slaap is. Van kleins af (sy is nog klein, ek weet) het ons haar neergesit net voor sy heeltemal slaap, so ek het haar nog nooit vasgehou terwyl sy slaap nie.

Toe ek haar netnou uit die stoeltjie uithaal het sy so bietjie wakker geword, maar toe gou weer so op my skouer aan die slaap geraak. Haar slap lyfie was ekstra slap, en ek het haar amper in haar eie bed laat val omdat sy so vreemd gevoel het.

Maar dit was lekker toe sy so rustig op my skouer geslaap het terwyl ek haar kamer toe gedra het.

Vyf Ure Later Leef Ons Nog

Ek het by die huis gekom en Elsoné het mos 'n bietjie geslaap sodat ek kan op datum kom met die blog en gemaklik hierdie meer gereëlde inskrywings kan maak. Ek het die vorige inskrywing gemaak en daarna begin om "Hitchhiker's Guide To The Galaxy" te luister op youtube, met my een oog op die Indië vs. Pakistan wedstryd.

Toe Mooimooi wakker maak het ons ons hardloop "kit" aangetrek en so ses kilos om die blok gehardloop. Sy moet baie fiks wees, want sy het nie eers vinnig asem gehaal nie. Terwyl ons besig was wou Tim per SMS weet hoe laat ons kom vir aandete. Dit was so rondom 17h15. Ek was onder die indruk dat die reëling was dat hulle vyfuur sal eet en ek na Elsoné se badsessie (so 18h30) kan kom. Maar ek en Tim had weer 'n kommunikasiegaping en hy het gedog ek kom voor ek vir Elsoné bad.

Ek het toe by die huis gekom, gou deur die swembad gespring om te probeer afkoel, Elsoné getroos en gebad. Sy het toe sommer maklik gedrink, omtrent 80 - 100 ml, maar die afspraak met die Ellii het op my senuwees gewerk.

Ek was toe op die ou end so 18h35 by hulle gewees en Elsoné was bietjie omgekrap. Ek het haar sommer so in die karstoeltjie op die stootkarretjie gelaai en met die fopspeen en haar spoegdoek getroos en sy het sommer gou rustig geraak en geslaap, iets wat Tim en Sue albei waardering voor uitgespreek het, want hulle twee kleingoed is blykbaar nie so maklik om rustig te kry vir slaaptyd nie.

Sue het baie lekker bobotie gemaak. Sy sê dis een van die min "Kook en Geniet" resepte wat sy nog maar net soos dit in die resepteboek staan maak. Ek wou nie te lank kuier nie, Tim en Mathew is albei siek en ek is ook heel moeg, maar dit was lekker om sommer gou daar te kon gaan kuier en aandete te eet.

Elsoné slaap nou, kom ons hoop maar dit gaan oraait - ek dink sy sal vroegoggend wakker word, want Anné reken sy het nie so goed vandag gedrink nie. Ek het met haar gepraat toe sy op die vliegtuig sit. Sy vlieg vanaand besigheidsklas in 'n A380 met Lufthanza na Frankfurt!

Fotos: Probeer Inhaal

Ek het agter geraak met die gebloggery. Heelwat het intussen gebeur, en ek praat nie net van die Proteas se poging om deur te dring na die halfeindrondte van Krieketwêreldbeker 2011 of die aardbewing en tsoenami in Japan nie.

Die fotos vertel nie so baie nie, maar tog 'n deel.

Sommer net iets wat ek moes afneem

 Belinda-hulle se twee dogtertjies (uit fokus, beweeg)

Lekker gekuier, al was dit net een aand.

Elsoné lag vir haar Ouma terwyl daar gebad word
More sê in Oupa en Ouma se bed
Baai- baai-sê-foto

Tussen Piet Retief en Pongola, 'n goeie deel van die pad

Ek en Tim het ook die naweek wat verby is 'n "kleedrepetisie" van die two oceans marathon gehou. Ons het in so 40 ure 'n bietjie meer as die marathon se totale afstand gedoen in drie sessies:
Deel I
Deel II
Deel III

En nou is ek en Mooimooi alleen by die huis. Ek het netnou vir Anné en DrC. by Richardsbaai lughawe gaan aflaai. Hulle gaan vir die naweek Praag toe vir 'n konferensie. Ek sien kans vir alles, ek weet net nie hoe ek geoefen gaan kry nie.

2011-03-14

Steeds 'n plesier

Ek het nou vir Elsoné gebad en sy pas amper nie meer in haar badjie in nie. Sy skop teen die "voet-en-ent" van die bad gedurende die proses en gaan een van die dae begin om haar kop te stamp teen die "kop-en-ent" met die geskoppery.

Sy het laas week ook begin om hardop te lag, nie net glimlag met 'n koer nie, lag. Dis wonderlik. Sy lag nog nie so gereëld nie, maar dit maak dit ekstra lekker as sy wel lag.

Die naweek was mal warm gewees. Saterdag het die kwik gedraai by 38 °C en Sondag toe ek bietjie gaan golf speel het was dit bewolk tot so 09h30 se koers, maar toe die son daar uitkom was dit weer iets verskrikliks - so ongemaklik as wat ek al op 'n golfbaan was, dit laat my dink aan die eerste rondte wat ek Anné en MarkK by Empangeni gaan speel het toe ons net hier in Zoeloeland aangekom het.

Na die golf het Halvar en Chantel sommer hier kom help braai aan 'n hoender in die Weber en ons het baie lekker gekuier. Elsoné was so in en uit by ons onder die lapa soos sy wakker was en geslaap het. Ek is nog steeds baie dankbaar dat sy ons tot 'n groot mate toelaat om aan te gaan met ons lewens soos ons dit geken het. Maar dit moet dalk net bygesê word dat Anné dit seker nie heeltemal so beleef nie - sy is permanent met Elsoné besig, al is dit so natuurlik en ongesiens.

Ek is maar tog 'n bietjie onseker oor die naweek wat Anné Praag toe gaan en ek en Elsoné na mekaar moet kyk - die laaste ruk was ek nie so fluks met haar gewees nie. Sy was nou-nou niks lus vir haar bottel toe ek haar klaar gebad het nie; wou net haar fopspeen hê en slaap. Ons het haar neergesit dat sy maar kan slaap, maar Anné wou haar net gou toedraai voor sy haar neerlê. Ek het gedag ek moet gou iets hier kom skryf en het kom sit. Anné is nou nog daar, so sy het seker weer probeer om bottel te gee en Elsoné is nou rustiger, so sy drink. Ek hoop nie sy was onrustig omdat sy maar vreemderig vir my is as sy moet bottel vat na badtyd nie - maar ek dink darem nie so nie.

Sy's pragtig en 'n plesier om te sien. Ek kan nie glo watse uitwerking sy op my het nie.

2011-03-07

Fotos: Ditjies en Datjies








Ons het sommer saam met 'n paar maters Saterdagoggned brekfis op Naval Eiland gehou - baie lekker.