Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2012-05-06

Kittels in die Bad

Ek het êrens gehoor/gedink daar is net twee tipes babas:
  1. Die wat al 'n kittleglips in die bad gehad het
  2. Die wat nog 'n kittelglips in die bad gaan hê
Ek het begin dink Mooimooi gaan 'n derde kategorie skryf, maar nee, sy het vanaand opgegradeer uit kategorie #2  na kategorie #1 hierbo.

Ek was besig om vir Mamma wyn in te gooi toe hoor ek net iets in die lyn van "Mooimooi!" uit die badkamer. Teks kan dit nie beskryf nie maar Anné se tone-of-voice het die eintlike storie vertel. Maar ek was toe nog nie seker dat dit drama was nie, dit het self geklink of Elsoné iets ouliks gedoen het. En toe hoor ek, "Pappa" soos wat Anné en ek mekaar deesdae noem (bietjie corny, ek weet) ... asof ek gou iets moet kom kyk of dalk met iets moet kom help. En toe, "... kom help gou hier".

Op daai oomblik het ek geweet dis nie iets ouliks nie, en toe ek in die badkamer kom, is Elsoné buite die bad, die meerderheid kittels in die bad en een verlore een op die badmatjie.

Nouja, dit het beteken vars badwater moes getap word voor vanaand se badsessie suksesvol afgehandel kon word.

Op 'n heel ander noot ... Elsoné se oulikheid het skeinbaar geen perke nie, veral nie vir 'n subjektiewe Pa en Ma nie. Sy is nou op die punt om te besef dat alles wat vier bene het nie honde is nie en het vanaand haar ma nagepraat toe ons die softtoy kat vir haar wys en sê wat dit is. Tot nou toe is alle diere se geluide nagemaak as 'n diep binnesmondse "wmf! wmf!". Maar witkat maak 'n "mienauw, mienauw" geluid blykbaar .. haar enigste katverwysing op hierdie stadium is Matewissie uit "Liewe Heksie".

Laat ek maar 'n paar fotos ook hier byvoeg:

















2012-03-29

Mooimooi se Lopie

My rekenaar kan weer aanskakel na al die chaos hier in die studeerkamer met die bou en brekery. Ek het ook 'n kansie gekry om Mooimooi se eerste treetjies wat ek afgeneem het op te laai.


From Om Pa Te Word




Toe ek nou weer daarna kyk het ek weer die gevoel gekry van die spesiale oomblikke wat dit was.

2012-03-13

Loop

Dit het so 'n bietjie gouer gebeur as wat ek verwacht het, maar dit is wonderlik dat ek hier was om dit te die. Mooimooi het haar eerste treetjies gegee so driekwartuur gelede!!!!

2012-02-19

Mooimooi maak 'n Plan

Ek en Elsoné had maar 'n dag van oppe en affe - sy is definitief nog nie 100% gesond nie en voel ook nie altyd so lekker nie, maar hierdie het my dag gemaak...

Ek en sy het die normale geveg geveg om kos in haar lyfie te probeer kry (wat gepaard gaan met heelwat spelery en rondbeweeg). Toe sy genoeg geëet het besef ek dat sy waarskynlik dors sal wees na al die gespook en los haar toe in die lapa om nog 'n bietjie te speel terwyl ek vir haar 'n "Pump"-bottel gaan voorberei met 'n bietjie water.

Toe ek "uiteindelik" (45 sekondes later) by haar kom met die bottel water het dit wat ek gesien het my my kop laat skud en my mond laat oophang. Sy het in daai kort rukkie gekruip vanaf die lapa na die trap oppad na die leefareaskuifdeur waar ek vroeër die gewasde joghurtbakkie gelos het. Sy het die bakkie gevat, water uit die swembad geskep en haar dors begin les! Ek kon dit nie glo nie en een van die gedagtes wat by my opgekom het is die wonder van die skepping.

Ek was gelukkig genoeg om van dit so bietjie op beeld vas te lê:

Die oomblik toe sy sien ek sien hoe
oulik sy is.

Oppad swembad toe om die volgende sluk te kry

Die volgende sluk word onttrek

Hier is 'n bietjie video van die hele storie ook:

2012-02-18

Hier is sommer net 'n klomp fotos wat al lankal moes op wees:




































2012-02-17

Oorkom die slegtigheid (Klink of ek kla)

Ek is veronderstel om vliegkaartjies te koop vir die OMTOM2012 - ek het nou net geregistreer vir hierdie jaar se resies. Maar die geld-uitgee-deel daarvan werk op my senuwees, so nou stel ek dit uit - het dit al vir meer as vier maande uitgestel, so nog 'n bietjie sal nie saak maak nie.

En dis omtrent hoe lank al ek dit uitstel om 'n ordentlike blog inskrywing te maak. Daar is allerhande verskonings. Nommer een is dat ek nie op datum is met die fotos se admin nie en dus nie "reg" is om te blog nie want 'n bloginskrywing het 'n foto nodig. Ek het omtrent 1500 fotos wat nog ge-admin moet word vanaf Desember 2011!

Dis 'n flou verskoning wat niemand wil lees nie!

Die ander een is dat dit regtig rof gaan met die Jouberts. Ek weet nie of ons sussies geword het of wat nie, maar van die eerste naweek in Oktober tot nou kan ek die naweke wat daar niks gebeur het nie waarskynlik op my een hand tel. Ek het op 'n stadium gedink ek sal daaroor blog (wat elke naweek gebeur het), maar dit is eenvoudig nou te veel en eintlik buite die bestek van hierdie blog.

Dit is nie 'n verskoning nie - dit is 'n rede, maar wel 'n flou rede (as daar so iets bestaan).

So wat is daar te sê wat wel val binne die bestek van die blog nl. "Om Pa Te Word"?

Dis seker moeilik om te nou glo, maar ek dink gereëld in spesiale of moeilike oomblike aan wat ek sou skryf oor op die blog. Die goed is maar wat in die gewone verloop van 'n om-pa-te-word-lewe saam met sy dogtertjie gebeur, maar partykeer spesiaal of moeilik. Op 'n stadium het ek gedink om te skryf oor hoe die lewe maar soos normaal vir haar aangaan terwyl pa en ma hulle bene afhol. Maar op hierdie stadium sou dit nou al afgesaagd geraak het - so dis goed dat ek nie daaroor geskryf het nie.

En toe het ek begin agterkom hoeveel ouliker en hoeveel meer mens sy word - dit het my laat dink dat ek moet begin om te skryf oor haar repertoire.

Goed soos die woordjies wat sy definitief begin sê het (en ons nie net verbeel het nie).
Goed soos die feit dat sy ons so goed begin verstaan het.
Goed soos dat waneer sy in die wildtuin saamry agterkom dat daar diere om haar is en dat sy kan dophou en geniet.
Goed soos dat sy nou self afklim vanaf ons hoë dubbelbed.
Goed soos haar sterk kruipery en omdraai by 'n trap om voete eerste af te kruip - iets wat nou al so vanselfsprekend is, maar dit was op 'n dag, nie te lank terug nie, 'n wonderlike oomblik.
Goed soos haar liefde vir water wat net aanhou groei, soveel so dat sy skof skop in heelwat ouer kinders wat al langer as sy swemlesse kry.
Goed soos dat sy haarself vir ure kan besig hou buite omdat sy regtig begin speel het en dit geniet om buite te wees en die wêreld te verken.
Goed soos dat sy agtergekom het my bene is alewig 'n bietjie souterig en as sy 'n kansie kry gou liggies daaran lek, vir my kyk en dan glimlag (wonderlik).
Goed soos dat sy nie meer gevoer wil word nie en self wil eet (al is dit nie naastenby so produktief as wat ons dit sou wou hê nie, en eintlik 'n bron van moerderlike hoofbrekens is)
Goed soos die feit dat daar maatjies ook is met die twee Lemmertjies wat gereëlder maatjies word en dit lyk my sy kuier lekker by Marli ook.
Goed soos haar manier om aan Pappa se baard te voel of dit lank of kort is.
Goed soos om gerantsoneerde soentjies uit te deel met 'n oop mond, elke een is spesiaal
Goed soos om stil te sit as daar rekkies (wat daai lekker in toom hou) uit die hare uitgehaal word voor 'n badsessie
Goed soos om self haar eie fopspeen te bestuur, insit, uithaal, wys met die vinger om te vra vir hom ensovoorts
Goed soos om al op haar eie te staan as sy nie kyk waarmee sy besig is nie
Goed soos om self water en Oros uit 'n waterbottel uit te drink
Goed soos om 'n strootjie te kan suig vir haar sappies
Goed soos om te klouter teen enige struktuur wat homself daartoe leen.
Goed soos om seesand en die speelopsies wat dit bied te kan benut.
Goed soos om vinnige afleidings te maak oor hoe 'n taak verrig word en dan te wil "self" ... die tandeborsel is 'n goeie voorbeeld.

In die begin van my blog-slegtigheid was dit 'n paar goeters wat sy begin doen het waarvan 'n kort lysie opgestel sou kon word en haar repertoire genoem sou kon word. Nou, vier of vyf maande later is dit 'n lange lysie wat nie meer gehou moet word nie, want dit begin net wys hoe wonderlik die mens geskape is. Laas jaar hierdie tyd het ons haar vir die eerste keer in 'n groot bad gebad en sy was totaal aan ons oorgelewer. Dit vang my nou nog uit as ek dink hoeveel sy in die afgelope jaar verander het. Sy is eintlik al 'n mensedogtertjie al wil ek haar hoe graag nog my babatjie hê (en haar nog gereeld so noem).

Ek vermoed die loopaksies is ook nie te ver nie, maar ek hou maar elke dag duim vas dat dit nog uitgestel sal word.

Op hierdie stadium is dinge nog regtig mal en ek wil tog 'n paar goed, in geen spesifieke volgorde, wat die afgelope ruk die lewe interessant gemaak het noem (ek gaan nie eers praat oor hoe besig ons by "dayjobs" is nie):

  • Skottelgoedwasser breek (nog steeds stukkend)
  • Tuimeldroeër breek
  • Wasmasjien breek
  • Honda agterruit gestamp met groot skade
  • Inbreek by die Mazda
  • Elsie se ma oorlede
  • Elsie siek
  • Elsoné siek genoeg met farangites vir haar eerste antibiotikakursus
  • Ons begin bou en breek vir die kombuis
  • Geyserskade by Mollerstraat
  • Geyserfaling hier by Maasbanker
  • Studeerkamer lugversorgerfaling
  • Groot daklek by Mollerstraat
  • Mazda rathefboom slytasie
  • Tuinjong (Justice) al vir 3 weke nêrens te sien
  • Ek op 3 besigheidsreise (waarvan die eise al amper 3 maande uitstaande is)
  • Anné weg vir besigheid
  • Lekker baie kuiermense Desembermaand
  • Marathon voorbereiding
  • Balletkonsertvoorbereiding
  • Ek wil onthou daar was 'n stukkende strykyster ook daar êrens
Ek kan seker nog aangaan, maar dit is al klaar afgesaagd. Op 'n stadium kon ek dit nie meer hou nie, en my "gaskets" was op blaaspunt, maar Anné het dit reggekry om my te oortuig dat die goed wat gebeur eintlik maar normale dele van die lewe is - so nou kry ek dit op 'n manier dit maar reg om die goed af te lag.

Ek en Elsoné is op hierdie stadium weer bietjie alleen - Anné is in die Kaap tot Maandag vir 'n kursus. Ek het geveg om bietjie kos in haar lyf te kry, en heelwat minder geveg as wat ek verwag het om die medisyne (haar eerste antibiotika) in haar lyf te kry. Tot nou toe het ek en Anné teen haar opge-"team" om die medisyne in te kry, wat my laat verwag het dat ek vreeslik sou sukkel op my eie.

More gaan ons twee na die Lemmer-tweeling se verjaardagpartytjie toe en die res van die naweek beplan ek niks nie - net om maar lekker baie tyd saam met Mooimooi te spandeer en eintlik die naweek aan haar te wy. Dis eintlik maar hoe Anné se lewe by die huis daaruitsien want mens moet al jou tyd daaraan wy om Elsoné te sorg en te probeer voorsien dat sy goed genoeg eet ensovoorts. Ek hoop my ou vroutjie kry darem so 'n bietjie rus in die naweek wat sy nie oor my of Mooimooi hoef te komkommer nie.