Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-11

Dankbaarheid

Laat ek begin deur vandag so bietjie kronologies hier neer te pen:
  • Wakkerword en opstaan êrens tussen 05h30 en 06h30
  • Anné so bietjie help met baba en ons eet gou 'n AllBran'tjie
  • Ry na die Lemmers toe om gewaarmerkte afskrif van baba se inentingsertifikaat te kry
  • Ry na PieterG toe om hom op te laai om vir my Philip se erf oop te sluit om Philip se sleepwa af te gee na gister se leen van die sleepwa om die hek en rame galvaniseerders toe te vat. Pieter pas Philip-hulle se brakke op die naweek wat hulle in Vryheid is.
  • Laai die sleepwa af by Philip se huis
  • Ry terug na PieterG toe om hom af te laai en loer gou die werk wat goed vorder aan hulle huis. Hulle is besig om die kombuis (en sommer alles wat deel is van daai oop plan) oor te doen. Hy is nie tevrede met die ou wat vir hom die "soliede" salignakaste gemaak het se werk nie.
  • Ry binnelandse sake toe om baba te registreer
  • Registreer vir Elsoné en kry 'n amptelike afskrif / uitdruk van ons huweliksertifikaat.
  • Dischem toe om pynpille te kry en te kyk vir yssakke vir Anné se seer borste.
  • Spar Meerensee om brood, melk en sap te kry.
  • Videowinkel om 'n DVD uit te neem (ek sal nie sê watter een nie ...)
  • Toe's dit maar 'n bietjie eet, 'n bietjie chill. Ons het selfs 'n goeie vroegmiddagslapie ingekry
  • Nog 'n eet-ens.-sessie en 15h30 het Elsoné weer geslaap en ons het besluit dis nou 'n kans om die DVD te begin kyk, maar kom eers hier by 16h30 daarby uit
  • 18h30 laai Mark en Amy vir ons aandete af
  • Ons eet en toe sê Anné sy het te seer, sy moet nou vir Elsoné wakker maak om te eet, dit was so 19h20
  • Sy is nou net klaar. Daar was twee doeke deel van die proses, wat ek geruil het en heen en weer vir sterilisasie en als so aan. Ek probeer maar om vir Anné toe te laat om net te sit in die rystoel en alles vir haar aan te dra. Dit is maar hoe ek kan help.
Dis ongelooflik hoeveel tyd alles vat, maar aan die anderkant gee Elsoné ons ook darem kans om by 'n paar ander goed uit te kom aangesien sy so lekker slaap. Maar sy is ook so oulik as sy wakker is, ek kan nie presies sê wat oulik is nie. Dit het iets te doen met die feit dat sy 'n klein petite dogtertjie is en myne is.

Nou die dankbaarheidgedeelte. Ons is dankbaar dat dit so goed gaan met ons en Elsoné op hierdie stadium en ek besef dit kan enige oomblik verander. Ek dink in plaas daarvan om te verwag dat dit enige oomblik kan verander moet ek eerder net elke goeie oomblik onvoorwaardelik geniet en vergeet dat dit dalk net tydelik kan wees.

'n Ander dankbaarheid is hoe maklik dinge geraak het vandat ek klein was. As ek moet dink ek sou moes probeer om 'n lapdoek om daai klein lyfie sit en 'n doekspeld. En dan nog doeke was en sulke nonsens, ai. En "wet wipes"! Wat het ons ouers gebruik, waslappe, wat weer gewas moes word? En 'n borspomp om te help dat die borste wat so stu verligting kan kry! En 'n babamonitor. En sterilisering van bottels met 'n bietjie water in 'n mikrogolf wat gou vir 6 minute kook en voila. Wie wil nou met Milton's sukkel? En so kan mens seker maar aangaan.

En dan is ons dankbaar vir die ongelooflike ondersteuningstelsel wat ons nou al hier in die Baai het. Ek dink aan hoe almal vir ons gesorg het i.t.v. sinvolle geskenke by Anné se ooievaarstee(s) en babagrootmaakgoed wat vir ons gegee is wat nie meer gebruik word nie. Ons het regtig nog nodig gehad wat ons moes koop. En dan nog die feit dat daar aandete vir ons gemaak word en ons nie oor dit hoef te worry nie. Ons hoef nie eers uiteetkos te gaan koop nie, wat sou beteken daar moet in 'n kar geklim word en ge-heen-en-weer word. Nou word ons kos afgelewer en dis alles so lekker en gebalanseerd en so bedagsaam omdat Anné borsvoed.

Ons is nog dankbaar vir hoe die wonderlike Skepper wat ons dien vir Elsoné vir ons gegee het. Hy seën ons die hele tyd!

Haar Plekkie in die SA Son

Ek het vanoggend vir Elsoné gaan registreer by "home affairs". Dit was relatief pynloos. Sy't nou haar eie ID nommer en oor 16 jaar het sy stemreg in hierdie land van ons.

Ek het sommer ook vir my en Anné weer 'n huweliksertifikaat laat druk - ons oorspronklike een is mos gesteel toe hulle daar in Rooibosrand by ons ingebreek het.
Posted by Picasa

Pajamadril

Ja, kyk hoe laat word hierdie geskryf. Anné het baie seer, maar soos 'n "trooper" byt sy vas en laat die "show" aangaan. Ek help maar waar ek kan, hol rond, doek ruil ens.

2010-12-10

"Sy is darem bitter klein"

Daar was nou al 'n paar mense wat genoem het dat sy maar klein is, maar ek besef nou net (en toe ek haar doek geruil het) dat dit nie saak maak nie. Daai "size" is al wat ek ken ...

Ek kan ôk!

Ek het nou net vir omtrent 'n uur lank redelik selfstandig vir Elsoné kon sorg. Ek het vir haar melk gegee, 80 ml. Anné het so baie sy kan vir my ook gee om te help met die voedery. Tracey het vir ons haar Medela pompie geleen en ek kan sien dit gaan baie werd wees in die dae en maande wat kom. 

Ek het vir Elsoné op my eie kon doek omruil. Dit was nogal 'n luidrigte een toe sy klaar is met die eerste bottel (40 ml), so ek het nie eers nodig gehad om te kyk of daar 'n vuile is nie. Ek het gekyk of sy nog wou drink en sy het toe nog so 'n klein bietjie gedrink, maar toe ek haar winde uitslaan en haar weer laat sak om te sien of sy tevrede is, was sy lekker slaperig ook. Ek het haar toe sommer in die bed ook gesit dus:
  • Voed (selfstandig) .......................... - Check
  • Winde uithelp (selfstandig) ................. - Check
  • Doek omruil (selfstand) ..................... - Check
  • Aan die slaap maak (o.k. bietjie verneuk) ... - Check
Ek moet ook bysê, Elsoné het dit so maklik as babamoontlik vir haar pa ook probeer maak, shot vir daai een Meisiekind.

Regtig Nou Seer

Anné het regtig nou seer met die melk wat so gekom het. Mens besef nie wat dit en hoe erg dit is as jy daarvan hoor nie. En vir my is die ergste dat daar nie veel is wat ek daaraan kan doen nie.

Glimlag

Ons mag dalk subjektiewe pa en ma wees, maar ons het al lankal gedink ons sien dat Elsoné glimlag, maar het vir onsself gesê dit kan nie wees nie. Dit het nou net weer gebeur terwyl sy besig is om wakker te raak. Ek sal bietjie probeer om die bewyse op kamera vas te lê.

Oor 'n jaar of wat sal ons vir onsself kan sien hoe subjektief ons was.

Frankenhek

Ek het toe nou vanoggend darem die nuwe hek by die galvaniseerders afgelewer. Ek hoop hulle kan dit vir my nog reg hê voor Woensdag.

Ek was so vies vir myself dat ek my dit ook nou nog op die hals gehaal het. Dit was seker nie nodig nie. Aan die ander kant, kyk hoe lyk die ou hek - dit is ook seker maar nodig. Met die dat mej. Joubert haarself tot dusver goed gedra het en ek 'n hele maand by die huis gaan wees, kan ek seker maar probeer om produktief ook te wees.

Ek kan nie wag vir die eindproduk nie, maar dit is nog ver baie moeite tussen hier en dan - ek moet nog die hout bestel.
Posted by Picasa

Fotos: Eerste Bad Tuis


'n Prentjie spreek 'n duisend woorde!
Posted by Picasa

2010-12-09

300 Hits!

Dit gaan nog goed met almal.

Sover is dit 'n luilekker dag. Ons was gou winkelsentrum toe vanoggend om 'n paar goed wat Anné nodig had vir die borsvoedery ensovoorts te kry. Elsoné het die hele tyd geslaap en het op die manier omtrent 4 ure ingekry voor sy weer lus was vir eet.

Ek het netnou 'n vonkpos gestuur vir almal wat dalk nog nie weet van Elsoné nie en die blog het nou net die 300 besigtigingsmerk bereik (Dankie almal!).

Ek gaan nou daai nuwe hek tackle - more is die laaste dag vir die jaar wat die galvaniseerders nog goed invat om te doen. Ek hoop maar ek kry dit voor hulle toe maak terug.