Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-07-16

Fotos: Lekker Baie Fotos

Sommerfotos

Sommer net 'n oulike fototjie van 'n oulike Mooimooi

Lê lekker by Mamma voor sy begin regmaak vir werk

Elwica en Herman se Kuier

By Mapelane 'wyl ons regmaak vir piekniek
Elwica en Herman het voorlaasweek vir ons kom kuier. Hulle was Vrydag al hier en het lekker hier gekuier tot Woensdag (6 Julie). Ons het die naweek so bietjie Mapelane toe gegaan op die Saterdag om te gaan piekniek hou en die Sondag was ons wildtuin toe. Dit was Elsoné se eerste regte blootstelling aan buiteliglewe wat ons so geniet.

Oom Herman en Tannie 'Wica kuier bietjie saam met Mooimooi  - Pa  braai eier en spek

In die Wildtuin

Betyds vir sonop in die wildtuin

By Mpila kamp het ons koffie gedrink. Maar dit was koud en die son wou nie lekker skyn nie.

Middagete (worsbroodjies) by die piekniekplek reglangs die Hluhluwe-rivier
Sommer nog 'n "bosfoto"


Dit lyk of ons die dag geniet het...
 Die dag was eintlik nogal heel produktief. Ons het nie verskriklik baie wild gesien nie, maar Anné was gelukkig genoeg om 'n luiperd te sien toe ons oppad uit die park is. Ons het vroegerig die oggend al leeus ook gekry. Daar was heelwat witrenosters te sien en ons het 'n hele paar keer buffels ook gesien. Ons het net uitgemis op Oom Olifant, ai.
Hierdie drie zebra's was baie op hulle senuwees
waar Anné die luiperd gewaar het.
Kyk die wond op die vulletjie se
agterbeen ... is dit deel van die storie?

Sprinkaanvoëls en Buffels oppad uit die wildtuin uit naby die boonste hek van Hluhluwe kant

Lang Hare

Lawwe gesig  met woeste babahare
Pa en Mooimooi se hare het begin rof raak. Hierdie twee fotos is geneem die dag voordat myne (en Elsoné s'n sou ook) gesny is.

Pappa en Mooimooi se krullebosse





Net Pappa en Mooimooi

Die nadrag van 'n eerste Pappa-voersessie
Ek het laasnaweek so bietjie te sê gehad hier op die blog oor die feit dat ek en Elsoné weer 'n naweek net mekaar se geselskap gehad het - Anné was mos Johannesburg toe vir 'n konferensie (klink meer of dit 'n geveg was).

Ek en Elsoné het lekker rustig naweek gehou, maar ek het weer besef dat dit eintlik 'n voltydse ding is om na haar te kyk - nie dat 'n mens omgee nie.

Ek het kans gehad om haar te voer, iets wat ek eintlik nog nooit gedoen het tot laas naweek toe nie en dit was uit die aard 'n bietjie van 'n leerkurwe maar ook lekker op 'n manier.
Ek het haar aan die koei voorgestel,
en sy het dit nou geniet...

Anné was darem al 11h25 terug Sondagoggend en die Weichs was die afgelope twee weke op vakansie in Ballito, so hulle het Sondag ook 'n bijetjie vir ons kom kuier.

Die Weichs het ook kom kuier en Riechard en Ruan kon 'n
nuwe maatjie maak.



En Verder?

Die maan het mooi kringe gemaak Maandagaand - ek kon
darem 'n gawe foto daarvan maak.

Met die dat Elsoné se hare toe nie saam met myne gesny
is nie, het Anné dit toe maar self 'n bietjie ge-"trim".

Sy sit te oulik in die bad, haar bene maak'n
diamant "<>" onder haar en sy sit al
lekker sterk so.
Hoe kon ek nie hierdie foto oplaai nie...



Daashy, ons albei se hare 'n bietjie ge-"trim"...

2011-07-08

Okay, nee, niks slaap nie

Sy was blykbaar nie so moeg as wat ek gedag het nie...

Gevoer

Ek het gou my hare by Ange laat sny - Mooimooi s'n moes ook gesny word, maar daar was 'n kommunikasiegaping.

By die huis gekom was dit tyd om haar te voer - ek het haar gevoer gekry, maar natuurlik nie sonder sukkel nie - sy was nie baie lus vir die hoender en wortel nie, maar het geen probleem met jogurt nie. Sy het seker goed genoeg geëet. Daar was 'n paar benoude oomblike met vreemde proes geluide en gesigte wat haar onervare pa laat wonder het of hy in 'n noodtoestand-mode moet ingaan. Dit was gelukkig nie nodig nie.

Ek het haar in die bed gesit om hopelik 'n bietjie te slaap voor badtyd - sy het gister 'n koekskoot geslaap hierdie tyd so ons sal maar sien.

Weer net Ek en Mooimooi

Ek het nou net vir Anné by die lughawe gaan aflaai. Sy gaan vir die naweek Gauteng toe vir werk. Ek en Mooimooi sal mekaar maar geselskap hou. Ek is hierdie keer 'n bietjie meer uit my diepte as laas toe dit net ons twee was. Nou moet daar gevoer word met vaste kos en sy slaap heelwat minder deesdae, so ons sal maar sien hoe dit gaan.

Maar dit gaan lekker wees om so baie van haar te hê - die afgelope week het ek haar maar minnerig gesien.

2011-06-22

Ek wou nog sê

Golf


Dis nou al Woensdag en ek wou al laas Donderdag hierdie inskrywing gemaak het. Dit verduidelik hoekom dit voel of die tyd so gou verbygaan - dit doen...

Al wat ek toe wou sê is dat ek en Anné gaan golf speel het Donderdag. Dit was nou al die derde poging gewees om dit gereël te kry, maar hierdie keer het die planete in 'n ry gestaan dat dit uiteindelik kan gebeur.

Dit was die eerste keer wat ek en Anné saam kon gaan golf speel sedert laas jaar die 13e Julie toe ons op vakansie was. Dit was ook die eerste keer wat ons vir so lank saam sonder Mooimooi was - nie dat ons dit nodig gehad het nie.

Dit was baie lekker. Anné het my 'n goeie "go" gegee op die eerste agt gate - daar was net een punt in dit. Maar sy was baie moeg gewees by die halfpadpunt en haar wiele het heeltemal afgekom met die tweede nege. Daar was nie 'n karretjie te huur vir die tweede nege nie so sy moes maar stap.

Ons het so bietjie skuldig gevoel oor ons vir Elsoné so op haar eie los, maar aan die ander kant was dit baie lekker om so bietjie ons eie ding te doen.

Raak nou Erg

Ek besef elke nou en dan hoe erg ek oor haar raak amper tasbaar. Ek kan dit nie regtig beskryf nie, so ek gaan nie eers probeer nie.


Stoutigheid

Dis dalk 'n bietjie gou om te sê maar daar is tekens dat sy al begin om die uiterstes te beproef om te sien hoe ver sy met ons gaan wegkom op 'n paar goed. Ek wonder hoe ons dit gaan hanteer as ons besef sy is regtig besig om stout te wees.

Vordering

Sy raak by die dag meer seker met haar hande en haar nek raak sterker en haar spiere word al sterker en slimmer om te balanseer as mens haar ronddra. As mens haar op haar maag neersit wil-wil sy al haar boude lig om op haar knieë te kom en in 'n kruipposisie te kom. Maar die tande bly darem nog steeds weg en sy vorder nie te vinnig dat 'n pa en ma nie kan byhou nie.

2011-06-19

Video: Vadersdag handewerk

Anné het my omgepraat om die spaarkamer se vloer ook te tackle en te doen soos Elsoné se kamer. Ons het toe maar vandag ingespring en dit gedoen. Ek het 'n videotjie gemaak om te wys hoe dit gevorder het:

From Om Pa Te Word

Fotos: Vadersdag ens.

Ek is so stadigaan besig om 'n ateljeetjie aanmekaar te slaan vir bietjie kameraspeletjies. Die eerste fotos is die week daar geneem en dis ongelooflik watse verskil 'n swart agtergrond maak...




Elsoné is nog bietjie dom in die Jolly-jumper maar dit sal kom. Anné het haar gister sommer in hom gevoer en daar is allerhande joligheid wat daarmee gepaard gaan...




Sy het nou ook al haar badraampie waarin sy lê gedurende badtyd begin ontgroei en sy moet nou leer sit in die bad op haar nuwe mat wat keer dat sy so gly in die bad. Die eerste sessie het haar wel gesig-vooroor in die water laat beland, maar sy sal regkom
Voor die "faceplant"
Na die "faceplant"





Sy het dit toe darem nog kon geniet na die "faceplant

Anné het vir ons albei T-hemde gegee vir vadersdag. Hare het 'n foto van my agter op en die woorde "Pa se Mooi-mooi" voor op en myne 'n foto van haar met die woorde "Mooi-mooi se Pa" voorop. Flippen cool!


2011-06-14

Fotos: Allerlei (Beterskap)

Elsoné se siekgeid het toe darem nooit regtig gekom nie. Die uitslag het amper so gou verdamp as wat dit gekom het en sy is weer ons "chillpil".

Sommer net 'n paar fotos:

Cowmooi

Ons drie in die wildtui

Lekker laf wees in die Bumbo - sy speel "vlermuis"

Sommer net 'n groeifoto

Sy kyk wild in die wildtuin...

2011-06-11

Mooimooi voel nie lekker nie

Vanoggend voel Elson'e nie soos haarself nie. Ons wonder maar of dit
tande is en of dit is dat sy ook nou begin siek word. Sy het maar
sleggerig gedrink gisteraand maar eintlik nie te sleg geslaap nie.
Daar is 'n bietjie van 'n uitslag op haar lyfie ook. Ons sal maar
dophou en duimvashou dat sy more weer haarself sal wees...

2011-06-09

Bang ek gaan NIE dood nie

Die afgelope drie dae was maar rof. Ek het erge verkoue maar het gaan
werk en nog elke aand kitaar gespeel by die pinksterdienste.

Ek het gister gespot en gesê ek het die stadium waar mens hoop jy gaan
eerder maar dood heeltrmal oorgeslaan. Ek het sommer reguit na die
"bang wees ek gaan nie dood nie" gevorder.

Ek hoop net Anné en Elsoné spring dit vry...