Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2021-08-16

Ons "Blogger" Nog

Ek was so lanklaas hier. Dinge hol met ons weg. Onlangse werklikhede:

  • 2020
  • 2021
  • Ons is nog in NRB
  • Anné se PhD vorder - sy samel data in
  • COVID-19
  • Suid-Afrika
  • Adriaan se hare moet groei - ek los hom, hy wil weer "groot" hare hê - dis sy laaste kans vir 13 jaar en ek doen dit saam met hom
  • Google is los en vas met die dienste wat hulle bied
  • Ek probeer 'n Google Cloud Certification kry
  • gedurende die proses doen ek 'n "LAB" wat 'n blog post doen
  • ek dog ek gaan oulik wees en gebruik nie hulle banner nie maar my eie banner van my eie blog
  • toe ek om-pa-te-word Google, kry ek dit nie
  • toe ek by Blogger inlog kry ek nie my blog nie
  • (en ek weet ek was onlangs "hier")
  • toe grou ek nog en sien hy's darem daar, maar daar's change of ownership sprake
  • toe dink ek dis tyd vir WordPress, maar grou nog en log toe maar net weer in en skep 'n nuwe "spas-foo-bar" blog en als is weer "myne"
  • maar vir hoe lank - hierdie inhoud van hierdie blog wil ek verseker nie verloor nie
  • ek het gesien meeste van wat ek geskryf het is ook vir my geGMail, so, dit sal nie heeltemal verdamp nie
  • MAAR - dit laat my so bietjie dink oor inhoud se verganklikheid in die cloud
ek vertrou nogsteeds op Google ...

2016-11-21

Teater Roep

Ek sit in die teater en wag om geroep te word.

Gisteraand, die 19e, het Anné gesê ons moet maar kyk hoe lyk dinge maar ons moet reg wees om hospitaal toe te gaan.

Ds Tertius het my laat weet watter liedjies ons vanoggend in die kerk met die nagmaal en doop-diens sou sing. Ek het hom laat weet van ons situasie en dat ek dit dalk nie sou maak nie.

Maar toe ek vanoggend wakker word, is ons steeds by die huis. Anné het 'n bietjie kon slaap en als het gedui daarop dat die naweek wat Dr. vd Walt uitstedig is ook sonder drama sou verloop. Ek het koffie gemaak, voorberei vir die kitaarspel in die kerk en was kerk toe. Anné en Elsoné het by die huis gebly.

Dit was 'n langerige diens, en toe ek by die huis kom is Elsoné en Anné aangetrek en Mooimooi vertel vir my sy gaan by Zanné kuier en Mamma gaan dokter toe.

Nou ja, ek maak toe nog koffie.

En dan ons bespreek dit en dis duidelik dat Anné nie lekker voel nie. Sy't seer en kan nie loop nie en daar is kontraksies so elke 15 of so minute. Nou wil sy by my weet of sy 'n sussie is en of dit nie onnodig hospitaal toe gaan wees nie. Sy't verduidelik dat sy nie in kraam wil wees en dis te laat om 'n keisersnee te doen nie.

So gesê en toe pak ons die laaste goed, gaan laai vir Mooimooi af en kom hospitaal toe. Dit was so 12:00.

By die host het een van die susters haar ondersoek om te kyk of sy al in kraam is en sy was toe nog nie 'n sentimeter ontsluit nie. Dr Pupuma het baie vinnig vir Anné kom sien en genoem dag haar geskiedenis beteken sy sal ten minste vir 24 uur onder observasie wees. Hy't ordentlike pyn medikasie voorgeskryf en is toe daar weg.

Toe die medisyne begin werk, toe gaan dit ook heelwat beter met Anné. Die kontraksies (volgens 'n masjien) was toe ook nie meer so opmekaar nie. En aan die hartklop kon ons nog sien dat boetie ook tevrede met die lewe is.

Ek het gaan Nando's kry en die dag by Anné deurgebring. Ons het ook lekker cappuccino met room gedrink.

So teen 19:30 het ek begin wonder of ek moet huis se kant toe staan. Ons het aanvaar dr vd Walt gaan ook nie 'n draai kom maak nie, want hy het nie 'n ander pasiënt in die saal nie. En toe, skielik is hy daar. Sommer baie vriendelik en besorg. Hy het verduidelik wat ons opsies is, dat daar 'n 5% kans is vir intensief vir baba weens long ontwikkeling wat dalk nou bietjie kortgeknip moet word. Maar as hy die goeters onderdruk, kan dit wees dat sy more oggend 2 uur in kraam gaan en dan is die klomp wat op roep is dalk vaak, maar die keisersnee moet gebeur.

En, ja, hier sit ek nou met Dr José se broek en Dr Kelling se hemp aan.

Anné is in die teater en hulle gaan my nounou roep.

2016-01-12

"Richardsbaai Skool"

Mooimooi noem Laerskool Richardsbaai hier in Meerensee "Richardsbaai Skool". Sy het einde laasjaar afskeid geneem van ons geliefde Muishuis (kleuterskool) en die wonderlike mense wat daar werk. Haar fokus het verskuif na waar sy nou uiteindelik Richardsbaai Skool toe kan gaan.

More breek daardie dag vir haar uiteindelik aan. Sy is in 'n stadium waar sy knaend wil weet hoe oud is die een en daai een en hou aan om ons te vertel hoe dinge gaan anders wees as sy "ses-jaar-oud" is en as sy "tien-jaar-oud" is sal sy die of daai nuwe vermoë hê. Sy wens haarself knaend ouer. Een van hierdie mylpale wat gepaardgaan met waargekome wense van "gevorderde" ouderdom breek more vir haar aan - sy gaan grootskool toe.

Graad R kwalifiseer seker nie regtig as grootskool in die volle sin van die woord nie, maar dis verpligtend en haar skoolloopbaan met uniform en strenger dissipline en alles wat daarmee gepaard gaan, begin more.

Dit is dalk ook 'n aanduiding dat sy nou heeltemal te oud daarvoor geword het dat haar pa meeste van die tyd aan haar dink as sy babadogtertjie. Ek is nie meer besig om 'n pa te word nie - teen die tyd IS ek nou al regtig Pa(ppa).

Ek kan nie anders as om cliché-agtig te raak en te sê dat ek nie kan glo hoe gou die tyd verbygegaan het nie. Dit is immers meer as 5 jaar vandat ek die eerste inskrywings in hierdie blog gemaak het. Daar is derduisende fotos van haar geneem, daar is duisende kere saam met haar gelag, daar is honderde kere saam met haar nuwe goed ontdek.

Dis 'n nuwe eratjie wat aanbreek vir die Jouberts, ek sien uit, want nog elke era saam met Mooimooi het sy eie lekker meegebring. Maar my en Anné se era saam met ons "baba"-dogtertjie is besig om te verstryk en dit gee my 'n knop in my keel.

2014-01-02

Babakamer Nie Meer

Mooimooi is nie meer 'n baba nie - so haar kamer kan nie meer 'n babakamer wees nie. Die dat ek en Anné besig is om in die hitte van die Richardsbaai Hel (onthou Richardsbaai het net 2 seisone, Somer en Hel) te werskaf om Elsoné se kot met 'n bed te vervang.

Ons was so twee weke terug by my ouers in Bronkhorstspruit en Elsoné het self besluit die kot is nie meer vir haar nie - sy wil op die dubbelbed, in die spaarkamer waar haar kot by Ouma se huis staan, slaap. Dit was toe bevestiging van wat ek en Anné toe nou al 'n ruk lank vermoed - Mooimooi kan nou maar 'n bed kry.

Ek moet nou nog die rakkies weer opsit in haar kamer nadat die huisverbeteringe tot gevolg gehad het dat die rakkies moes af. Toe ek vir die rakkies begin beplan en meet, onthou ek dat ek hulle andersom opgesit het as wat ek oorspronklik van plan was - maar presies hoe om, kon ek nie onthou nie. Ek weet toe darem daar is fotos wat ek op hierdie blog gesit het om na te verwys. Dit het my ook daaraan herinner dat "babakamer" een van die belangrikste sleutelwoorde is wat wildvreemdes na die blog to lei.

So, toe doen ek 'n Google-soektog vir "babakamer" om my eie fotos te sien - en ek sien Mooimooi se kamer is toe heel eerste. Maar ek weet dat Google weet ek is ek. Toe doen ek 'n In-Cognito (Jan-Alleman) soektog vir "babakamer" en die resultaat is steeds op die eerste ry nl. nommer 2 .

Nou ja, ek is 'n ingenieur en was nie tevrede met die "eensydige" resultate wat Jan-Alleman sien as hy 'n Google-soekdiens gebruik d.m.v. 'n Google-webblaaier om prentjies te kry wat op 'n Google-blogdiens bedien word nie. Toe doen ek dieselfde met Internet Explorer se Bing-prentjiesoektog gedurende 'n In-Private-Browsing sessie en die resultate is maar min of meer dieselfde.

Bing-pretjiesoektog vir "babakamer"

Google-prentjiesoektog vir "babakamer"


Eintlik is hierdie nou maar net 'n vrek-gekompliseerde kompliment aan my vrou dat haar handewerk met Mooimooi se babakamer die spyker op die kop geslaan het en dat haar babakamer klaarblyklik kers vashou by die Afrikaanse tydskrifte en webblaaie se impak op prentjie soektogte na babakamers.

Welgedaan my Liefste!

Intussen raak ons dogtertjie groot teen die spoed van Die Heilige Wit Eland...

Hier word gereëlderig varserige fotos van haar opgesit: Vars Mooimooi (Picasa Web Album)

2012-12-23

Let's Go Karting

Ek en Poen en Pa het gaan gokarts ry!
Hy't sy naam op die bord gekry!

2012-12-17

Fotos: Oppieplaas

Hierdie is nog 'n lui inskrywing ... net 'n paar fotos. Ons was vandag saam met Mooimooi by "Dayspring Farm" net 'n klipgooi vanaf Richardsbaai waar sy so bietjie eerstehands met die diere waarvoor sy so lief is kon leer ken.

Maar hierdies byt en is groot en beweeg vanself, so dit was nie NET sports nie. Tog dink ek dit was vir haar lekker en vir my was dit lekker om haar te sien gemaklik (en dom) wees met die diere.


 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Posted by Picasa

2012-12-09

Feestetyd

Die afgelope twee weke het die Jouberts van die een fees na die volgende gegaan. Daar was 'n lekker familie-ete in Pretoria, ons het dieretuin toe gegaan op my verjaardag. Mooimooi het self verjaar, ons was gister by 'n spit braai en vandag was haar verjaardagpartytjie.

(En daar KLAP nou net nog 'n ballon ... die goed klink soos 9 mm skote wat afgaan in die huis sonder meubels!)

Hier is fotos wat die stories moet probeer vertel:



2012-11-10

Vinnige Fotos

Ek het die week 'n draai by Jaco se pa-hulle gemaak en daar gebraai. Hulle wou fotos van Mooimooi sien en toe besef ek ek het nie baie onlangse fotos op die web beskikbaar nie. Hier is 'n paar wat my sommer toelaat om twee vlieë met een klap by te kom ... dit spreek sommer my skuldgevoel oor die swak waarneming van my blogpligte tot 'n mate aan.

 Hierdie een is sommer net 'n foto daar uit die lapa uit met die selfoon geneem toe sy verskriklik casual op die trap gesit het.





Tannie Suzette en Annette het laat September vir ons kom kuier en dit was groot bederf.
 Hier sit Elsoné in die lodge in Hluhluwe waar die tannies vakansie gehou het (en amper almal bosluiskoors gekry het) en speel met die vuurhoutjies waarmee ek moes vuur maak.







 Ons was die Sondag saam met die tannies Hluhluwe-Umfolozi toe. Daar was leeus aan die skerp kant van daai teleskoop.








 Ek het die probeer om dit te ontduik, want ek het geweet as Mooimooi gaan wil swem in die koue water is daar net een van die grootmense wat sou (moes) kanssien daarvoor. Ons het op die ou end lekker geswem in die koue water by die Hluhluwe lodge.



Sommer net 'n foto van Elsoné se eerste happie pizza.








 Sy het 'n smaak ontwikkel vir allerande snaakse goed. Hier sit sy en een 'n heel ui soos 'n appel!







 Ek het die vorige aand vir haar die badspeelgoed so in 'n ry gepak. Die volgende badsessie, toe doen sy dit self.





 Ook by Hluhluwe by die slangpark en Zoeloe "village" word daar in die bos gestap ... sy is gek oor stap.






 Hierdie het ek afgeneem op 'n stapsessie om die blok ... dit gebeur so twee keer 'n week.





Ek het vir haar 'n swaai opgesit in die koraalboom in die voorerf ... dit kom van die buurman af en sy geniet dit oor 'n honderd.






 En intussen is die kombuis nog nie klaar nie, wat beteken dis nog "af-seisoen" wat die hardloop betref.






Verder is Anné hard aan die swot vir haar eksamens (akademies) en hard aan die oefen vir haar eksamen (ballet). Daar is siektes wat kom en gaan maar ons is almal darem redelik gesond. Ek werk elke naweek regtig hard aan die kombuis en die laaste paar kaste wat ons nog terughou om te teël wil net nie klaar nie, maar dit voel of ons baie naby is.

Daar word hard gewerk ook nog in ons dagbetrekkinge ("dayjobs") en in die week is ons pootuit as Mooimooi uiteindelik slaap en dis moeilik om al hierdie ander verantwoordelikhede ook aan te spreek.

Maar ons mag nie kla nie, en ek doen ook nie, dit gaan goed.
Posted by Picasa

2012-09-02

Pragtig in Pers

Elsoné word groot ... sy praat al haar manier van praat wat net Pa en Ma verstaan.

Mocha is "Kokka", Taggo is "Aggo". "Mappa" en "Pamma" hoor ons elke nou en dan en "Pappa" en "Mamma" is wisselvorme. Sy probeer haar bes om stout te word en ons probeer ons bes om dit te keer.

Dit alles is aan't gebeur terwyl ek nog worstel om die kombuis op 'n punt te kry waar dit weer kontrakteurs sal kans gee om blaaie op te sit en teëls te lê. Anné swot verder om 'Onderwys en Admin' agter haar naam te kan skryf en ons span by die werk is baie besig.

Hier is 'n paar fotos van hoe Elsoné vandag lyk met haar pers kleertjies:




2012-06-06

18 maande later

Mooimooi is vandag presies 18 maande oud ... 'n jaar en 'n half. Kan jy glo!