Dis net voor 3 uur die oggend van 9 Junie 2024 in 'n Durban Noord AirBnB kothuis. Drie verskillende alarms raas 5 minute van mekaar af, maar ek is eintlik al lankal wakker. Om die waarheid te sê, ek het bittermin geslaap. Vandag gaan ek my heel eerste Comrades hardloop. Ek het vir 15 jaar van langafstande hardloop aanhou sê ek gaan dit nooit doen nie, maar mens mag mos van plan verander?
| Oppad Blok-F toe |
Die minute gaan verby en ek het net begin moed opgee dat ek op my eie gaan moet wegspring, toe ek iemand hoor roep "Deon!". Met die rondkyk word ek nog 'n paar keer geroep, want ek kon nie bepaal waar die geroep vandaan gekom het nie. Ek staan toe op om beter te sien en hoor en sien toe regs voor in blok-G vir Melinda wat my aandag probeer kry. Toe ek na haar stap verduidelik sy dat sy seker gemaak het dat dit reg is om 'n blok terug te skuif vir die wegspring (daar was onsekerheid daaroor met van die inligting wat van die organiseerders gepubliseer was). Sy wys my toe waar al die ander maters bymekaar is. Dit was 'n hele klompie van ons wat saam geoefen het… Piet, Pieter, Melinda, Rialine, Francois, Fred en Hendrik was ook by, so ook Dirk.
![]() |
| In Blok-G, saam my maters |
Die tyd het toe eintlik vinnig verby gegaan en dit was nie lank nie toe speel en sing ons die volkslied (nog voordat die lyne tussen die blokke laat sak is - anders as gewoonlik blykbaar, maar slim dink ek, staan stil en sing die volkslied met respek). Na die volkslied is die "danger tape" tussen die blokke weggevat en ons begin nader aan die wegspring beweeg as 'n massa mense. Shosholoza word gespeel en almal sing vrek lekker saam. Die opwinding bou… Met die speel van Chariots of Fire, voel ek hoe ek begin haastig raak om hierdie ding nou te begin. Die opgeneemde haan kraai en ek hoor 'n "BOOM!" en besef 2 of 3 sekondes later die resies het begin en my horlosie begin om die "op"-tog Pietermaritzburg toe te log.


.jpg)

