Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")
2011-01-01
Fotos: Sommer net Elsoné
'n Paar van die Swart en Wit fotopogings
Fotos: Straatmuur en -hek werk
Die rooi huis is die foto wat ek geneem het van die huis net voor ons begin verf het aan die begin van die jaar. Die bruin huis is die foto wat ek Donderdag geneem toe alles klaar is - ek dink daar is dalk 'n mate van verbetering te bespeur.
En toe's dit 2011
Ons weet nie lekker wat die probleem is dat sy so die heel tyd wil eet. Anné wonder of sy dalk net haar dors geles kry, maar nie haar honger gestil kry nie - sy drink tog goed en haar maag word vol, maar sy raak nie rustig nie. Sy het nou al vir Manus gebel en hy wonder of sy nie dalk dehidreer weens die hitte nie en a.g.v. daarvan die heel tyd wil drink, m.a.w. dors bly. Rachelle kon ook nie regtig raad gee nie.
Maar ons is nie bekommerd nie, is maar net 'n bietjie teruggeruk aarde toe om te besef dit gaan nie altyd maklik wees nie. En Anné raak moeg. So ek probeer maar doen wat ek kan i.t.v. doeke ruil en baba aan die slaap probeer kry en sterilisering van babagereedskap en so aan, maar dit bly voel of dit nie genoeg is nie. Ek sou raai dat die hoofrede daarvoor is dat die situasie nog nie lyk of dit gaan verbeter nie. Wanneer sy weer goed slaap sal alles weer beter raak, en sy gaan weer goed slaap. Ons moet nou begin om 'n roetine te vestig en hierdie is seker maar net 'n klein deeltjie van daai proses.
In elk geval, ek is gister in die rede geval toe Elsoné aan die slaap geraak het, en ons moes eet. En toe begin die klappers... Maar nou is ek vir die eerste keer weer rustig (of dalk ledig) genoeg om my sê klaar te sê na gister se kortaf einde tot die inskrywing.
Daar is weer sprake van 'n Two Oceans avontuur. Ek het eergister vinnig gekyk wat die situasie rondom dit is. Daar is heelwat marathonne waarmee ek en Tim kan kwalifiseer - die Postnet PMB marathon is nie die eerste geleentheid nie. Die eerste geleentheid is al einde Januarie, maar dit is dalk 'n bietjie vroeg. Ons sal waarskynlik eerder vroeg in Februarie dit aanpak. Dit sal beteken dat daar dalk genoeg tyd sal wees om 'n inskrywing te kry en om vliegkaartjies vir 'n billike prys te kry. Eergister was daar nog net 1200 inskrywings vir die ultramarathon uit 11000. Die halfmarathon se inskrywings was feitlik vol - 11000 van die 11500 al klaar ontvang. En verder kon ek vliegkaartjies eergister koop vir die Donderdag voor Paasnaweek tot die Woensdag daarna vir ons drie teen R3000 retoer. So, Two Oceans kan nog gebeur. Ons moet net daai marathon gedoen kry en maklik oorleef.
Ek en Halvar het gister ook vir oulaas in 2010 'n rondte golf gaan speel by RBCC. Dit was regtig lekker al het ons 'n bietjie natgereën en die golf was nie te watwonders nie. Ons het lekker gekuier en daar was baie hoop vir 'n goeie 2011 golfseisoen. Ek het op 'n stadium 4 baansyfergate kon neerskryf en eindig toe die eerste 9 (eintlik 10 by RBCC) na dit met 'n enkelbrouhou - nie te sleg nie. Ek draai toe met 'n 48 en voel toe warm en reg vir die tweede rondte. Die eerste gat het oraaiterig gegaan, maar toe kom die wiele af en ek het nooit daarna weer 'n lekker gat gehad nie - eindig toe met 52 saam met die 48 wat beteken ek het weer nie 'n sub-honderd (nou die dag se Empangeni rondte) opgevolg met nog 'n sub-honder rondte nie. Maar dit was lekker.
Ek het toe vir Halvar gesê ek sal my damesbofskuld (ek het met twee houe nie by die 4e se damesbof verbygekom nie) by die huis betaal - ek had net die twee Nye op my brein omdat sy so sleg geslaap het die vorige aand. Toe ons by die huis kom was alles relatief rustig en het Elsoné selfs aan die slaap geraak. Ek en hy het baie lekker gekuier en hy is na die derde bier huis toe.
Ons drie het toe bietjie geslaap - dit was so 13h30, vermoedelik vir so twee ure. En soos ek gesê het had ons nog illusies oor jaareinde fier (weer daai 'f" waaroor ek nie seker is nie, maar niemand help my ook reg nie) op 'n manier - maar toe begin die sports wat ek so gesukkel het om hier neer te pen gisteraand.
Maar eintlik maak dit nie nou meer saak nie. Elsoné slaap nou rustig en die Kaap voel weer Hollands, Zoeloeland ook; maar vir hoe lank ... ?
2010-12-31
Kommin Meerenseeërs
Dankie Meerensee dr0l! Druk daai klappers eerder waar die son nie skyn nie en steek dit aan!
Regtig Net Ons op Oujaar
hierdie een gaan ook maar rof gaan. Die klappers raas om ons en Frodo
en Taggo is al om my en nie baie ingenome daarmee nie.
Daarbenewens is Elsoné omtrent al die hele dag wakker en drink die
hele tyd, dat haar pens daar staan, maar stel nie belang in slaap nie.
Ons had nog illusies om dalk êrens oujaar te gaan vier, maar dit is
uit die aard van die saak nie moontlik nie. En dit is goed ook, dan
kan ek darem bietjie probeer om die brakke rustiger te hou ook.
Wat die afgelope paar dae betref wat ek nie by blog uitgekom het nie
is my hoofverskoning die harde werk wat ek en Pappa ingesit het vir
die heining se drie houtraaminsette. Ek het gehoop dit sal so omtrent
'n dag vat om te doen. Ons was op die ou end daarmee besig van Maandag
tot Donderdagoggend voor hulle gery het. Presies 3.14 (Pi afgerond)
keer soveel tyd as wat ek geskat / begroot het dit sou. Ek het so sleg
daaroor gevoel, maar aan die ander kant ek en hy het darem lekker
gekuier so al werkend. En die resultaat is absoluut die moeite werd.
Hulle kuier hier was baie lekker en dit het ook, soos Skoonma se
kuier, baie vinnig verby gegaan. En dis hoekom ek sê ons is nou
alleen. Vandat Elsoné gebore is was daar vir ons gesorg met die
aandetes en daar was heelwat kuiergaste. Toe kom Ma Elize, wat vir ons
gesorg het en toe my ma'le wie ook vir ons gesorg het. Nou is dit die
werklikheid wat gaan inskop - ons moet nou vir onsself sorg.
Die Nye stoei al van Dinsdag se koers af met mekaar wat Elsoné nie wil
slaap soos ons dit gewoond is nie. Dit was vreeslik warm en Anné het
haar nie so toegedraai in 'n koekon nie, wat toe nou gemaak het dat sy
nie slaap soos sy kon / moes nie. Anné het toe begin om haar weer toe
te draai en dan in die studeerkamer met die klein effektiewe
lugversorger in haar stootkarretjie te sit om te slaap en dit het goed
gewerk. Maar vandag was anders. Sy het al gisteraand nie lekker
geslaap nie en Anné het amper niks slaap ingekry nie. Anné het gedink
sy het dalk dag en nag omgeruil, maar dit lyk nou nie meer vir my of
dit die geval is nie. Ek kan maar net hoop dat more beter sal gaan.
Ons het nog nie geëet nie. Anné voed nou. Ons probeer al van 19h30 af
om haar aan die slaap te kry - net na 'n voeding, wat haar pens soos
'n ballon gestaan het en die melk by haar mond uitgeloop het; iets wat
nog nooit gebeur het nie. So die afleiding wat ons maak is dat sy
genoeg gekry het...
(Anné het nou net gesê sy slaap ons moet probeer eet, so ek sal later
weer my sê kom sê.)
2010-12-30
Oor 'n Duisend!
2010-12-27
Slaapkous
2010-12-26
Goed ma' rof
uiters bedeesd. Ons het opgestaan toe Elsoné wou eet en ek het gou
geblog. Daarna het ons geskenke uitgedeel wat van Gauteng af gekom het
en wat terug gaan Gauteng toe. Elsoné het ook heelwat gekry en ek het
toe so 'n klein bietjie sleg gevoel dat ons nie vir haar iets gekry
net nie.
Ons het lekker skaap blad gebak in ons nuwe konveksie oondjie (geskenk
van Pappa en Mamma) en dit was 'n reuse sukses. Maar na ete het ons al
5 'n lekker middagslapie gevang.
Ek wou nog gister probeer om mooi swart en wit fotos van Elsoné sonder
klere neem, maar sy was nie in die bui nie.
Ons het vandag Mapelane toe en terug gery om net 'n bietjie uit te kom
en ook om die Honda bietjie te benut en om my ma-hulle 'n bietjie
Zoeloeland laat proe. Dit was net die ding. Ons het basies net soontoe
en terug gery, maar dit was baie lekker. Anné kon natuurlik nie
heeltemal ontsan nie en het soos die superma wat sy is op haar pos
gebly en vir Elsoné gevoed en gesorg soos nodig.
Anné het klaar gevoed toe ons by die huis kom en toe sy rustig was het
ek weer probeer om fotos te neem, maar sy was ne vir lank rustig nie.
Dit was duidelik dat sy so 'n bietjie oorstuur was met al die skud op
die pad en fotopogings. Anné het weer gevoer maar sy kon nie tot
bedaring kom na sy gevoer is nie. Anné het maar vasgebyt en haar gesus
tot sy slaap en sy slaap darem nou al so 2 ure.
Weereens maar net 'n bewys dat sy maar 'n klein baba is wat baie
afhanklik van ons doen en late is ten einde haar welvaart te bepaal.
Sy probeer darem haar bes om saam te speel so ver as wat dit vir haar
moontlik is. Maar ek is so trots op my vrou wat niks anders as
asemrowend is in die manier wat sy alles hanteer en benader nie. Ek
weet nie hoe sy dit doen nie, maar ander nuwe ma's kan maar by haar
kom leer.
2010-12-25
Oploop Tot Kersfees
Ons was so 10h30 terug by die huis en ek het toe mos 'n bietjie ingehaal met die blog en tred met tyd verloor. Anné wou nog 'n swemkostuum gaan omruil by Meerensee Mall maar sy het vir Elsoné 'n slag nog gevoed en 'n bietjie vir my gewag om klaar te maak met my skryfwerk en blogadmin. Ek het eers besef hoe laat dit is toe Nicolette my laat weet via vonkpos (sy het kommentaar gelewer op Stoutigheid) hulle werk tot gewone tyd al is dit Oukersdag, wat 13h30 is. Ek wou nog antwoord op haar vonkpos, toe sien ek met 'n skok dit is al 13h30.
Ons los toe vir Elsoné (aan die slaap) by Oupa en Ouma en ek en Anné is toe winkelsentrum toe maar sy kon nie presies kry wat sy wou hê i.t.v. die swemkostuum nie en die winkelares wou nie die geld teruggee nie (na aanleiding van winkelbeleid). Ons het eergister vinnig daar gestop want ons was haastig om by die huis te kom (Anné moes 14h00 by die huis wees vir haar rekenaaropstelling om te kan gebeur om van die huis af te kan werk volgende week). Sy het toe gou 'n swembroek gegryp wat sy al voorheen gesien het daar (hoewel hierdie nou 'n ander kleur was) en gevra of sy hom by die huis kan kom aanpas. Sy het verstaan dat sy hom sou kon terugbring vir 'n terugbetaling of kom omruil. So, Anné was ontstelt omdat sy toe nou nie haar geld kon terugkry na dit alles en sy steeds nie die swembroek kon kry wat sy wou hê nie. Sy het toe maar op haar tande gebyt en iets gekies om darem om te ruil en nie die geld te verloor nie. Ek moet sê ek hou van die swembroek wat sy gekoop het, maar sy is nou nie heeltemal tevrede nie. Ten minste kon sy swem in hierdie verskriklike Richardsbaaihitte. (Ons gebruik omtrent so 120 kWh per dag om net die huis se binnetemperatuur leefbaar te hou!)
In elk geval, ek het tred met tyd verloor, het self nie honger geword nie en het nie besef my ma'le sal dalk al honger wees nie. Voor ons gery het was al wat ek vra of hulle dalk iets wil drink. Anné was bietjie vies dat ek nie vir middagete (en aandete) gesorg het nie en ons moes toe Pick'nPay ook toe gaan! Aijaijai! Ek het dit nog nooit so daar gesien nie en ek hoop om nooit weer daar te wees as dit so lyk nie. Elsoné het verskriklik gedrink gister en Anné het op haar senuwees geraak in die klerewinkel en ek het op my senuwees geraak daaroor in Pick'nPay, toe dit my beurt was vir spoke opjaag. Ons bel toe maar huis toe, maar alles was dood rustig. Ek dink ons was 'n driekwartuur in Pick'nPay daar en ons emosies het hoog geloop. Ons het groente vir slaai gekoop en ons het broodjies, kouevleis en drinkgoed gekoop. Gewoonlik vat ons maandelikse inkopies so lank, nie 'n "brood-en-melk" oefeningtjie nie.
Maar toe ons by die huis kom (15h20) is Elsoné weer rasend van die honger en Anné voed haar toe. Maar sy het die heel dag nie goed geslaap nie, want sy wou omtrent die hele tyd eet.
Sy het selfs so gehuil dat daar vir die eerste keer trane te bespeur was. Anné het net vasgebyt en aanhou voed. En dan is Elsoné rustig vir so 'n halfuur en wil dan weer voed. Dit is seker maar 'n tipe van 'n snelgroeifase wat besig is om te gebeur.
Ons het haar gisteraand hier teen 20h00 in die bed gehad na 'n voedsessie en ek het nog vir haar goed aangevul met 30 ml se borsmelk wat gevries was daai tyd toe Anné so moes uitpomp om die seer te help beter maak. Die twee Nye het toe albei baie lekker geslaap tot 01h00 van 20h00 af, met die plan dat ek sal opstaan as sy weer so dringend wil eet na 'n voedsessie en vir haar nog met die bottel gee. Dit het nie gebeur nie en Anné het weer 05h00 opgestaan (soos gewoonlik) vir 'n vroegoggendvoed.
Maar nou is dit Kersdag en ek hoop alles gaan lekker rustig wees en dat dit nie so warm gaan wees nie. Ons gaan 'n skaapblad of -boud in die oond druk en die dag lekker rustig vat. Dit gaan net ons klomp Jouberts wees.
2010-12-24
Oupa Deon en Ouma Sophie
Ek en Tim het vir oulaas 'n lekker (lees moordende) 16 km vir oulaas hierdie jaar saam gaan hardloop. Dit was wonderlik om 'n regte egte "running partner" te kry op wie mens kan steun. Hierdie jaar se kilos wat ons saam gedoen het behou baie geselsies en baie swaarkry en baie lekkerkry. Ek het al lankal vir my Engelsmanpêl gesê hy is die drafgabba wat ek al my hele lewe lank na soek.
Ons het gister onsself begeef in die winkelsentrum om 'n paar laaste kersinkopies te doen. Ons was presies 09h00 daar en toe lyk dit al klaar soos mid-maand Saterdaglaatoggend. So teen 10h00 het dit al heelwat erger gelyk en teen 10h30 was Elsoné rasend van die honger. Anné is toe met haar Elephant & I toe en het in hulle een (van twee) toilet gaan sit en voed. Sy het toe nooit heeltemal rustig geraak terwyl haar pa en ma probeer ontbyt eet het nie en wou natuurlik poeding hê. Anné had gelukkig 'n bottel met 'n bietjie melk in byderhand. Sy wou eers nie daaraan drink nie, maar het dit toe verslint toe sy vir die eerste keer aan die huil gaan en ons weer die bottel vir haar gee. Daar was natuurlik ook die gebruiklike OEEEs en AAAAAs in die koffiewinkel.
Maar gister was weer 'n groot dag in Elsoné se lewe want sy het haar Oupa en Ouma Joubert ontmoet. Ons het nadat ons by die winkelsentrum was gou vir Anné 'n swembroek gekry (wat nie mooi sit nie, hy moet later vandag terug) en is toe huis toe vir 'n rustige middag tuis. Ek het nog bietjie met kersgeskenke gestoei en die twee Nye (Anné en Elsoné) het die "doughnut" getoetsbestuur op ons dubbelbed, maar ek dink nie Anné het veel slaap ingekry nie.
Toe Mamma my laat weet dat hulle Empangeni binnegaan is ek gou L.A.C. Sentrum toe om "brood en melk"en aandete by FishAways te gaan kry. Anné het opgesien om aandete te maak (heeltemal te verstane) en ek het gedag hulle sal van 'n vis en tjippie hou. Hulle het, ons het tog te lekker geëet toe hulle kom. (Ek het natuurlik calamariringe in plaas van vis geëet, maar dit was net die ding!)
Elsoné het geslaap toe hulle aankom maar het klokslag 22h00 wakker geword vir aandete. Haar trotse Oupa en Ouma kon toe darem 'n lekker kansie kry om haar te ontmoet. Hierbo is drie van die fototjies wat die oomblike probeer vaslê. Pa het vandag gesê sy laat hom dink aan Ouma Joey en ek het ook nou al 'n slag of wat self gedink Elsoné het 'n trek of wat na haar ouma-grootjie. Verder is die hoofkommentaar oor hoe klein Elsoné is, maar soos ek al voorheen gesê het, sy is vir my net die regte grootte.
Elsoné se naelstring het uiteindelik darem laat gisteraand ook afgeval, so ek wil êrens vandag of more nog bietjie probeer om mooi fotos van haar te neem.







