Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2011-01-23

Kerk Toe Gewees

Elsoné word more sewe weke oud en ons het onsself so ver gekry om reg
te maak vir kerk. Dit was lekker.

Fotos: Hottie(s)!

'n Paar fotos van my HOT vrou en my pragtige dogtertjie.
Ek help ook so nou en dan, regtig ...

Aksiefoto van die afloop van 'n 18h00 roetine.

Een van daai tone, haar ma reken dis my tone wat sy gekry het.

Sy het definitief nie haar ma se reguit styl hare gekry nie.
Ek weet ek is subjektief, maar daai is 'n
mooi dogtertjie!
Dit lyk altyd of sy dit geniet as daar hare geborsel word



Eerste keer wat sy die bybieghrou aan het.




Daai dag het die aanvoelbare temperatuur gedraai
by 41 grade C. Dis hoekom mens toegang tot 'n
swembad MOET hê hier in Richardsbaai. Die dat
Elsoné die eerste keer swem as sy nog nie eers
ses weke oud is nie.









2011-01-19

Goeie Nuus

Geen nuus is goeie nuus en dit is van toepassing op die blog vir die
afgelope paar dae wart ek skaars was. Elsoné gedra haar nog baie goed
behalwe dat sy te vinnig na ons sin (hoewel dit 'n gesonde pas is)
groei.

Haar gesiggie is al lekker rond, want sy drink tog te lekker aan die
blikmelk. Sy is die begin van die week weer geweeg en gemeet en sy
staan nou op 3.8 kg en 54 cm.

Anné moes net bontstaan om elke twee ure te sorg dat sy 'n bottel kry.
Ek wonder of sy nie nou warm kry met die dat ons net die waaier aansit
daar by haar nie. Ons sal dit maar dop hou.

Ek sal maar moet fotos opsit.

2011-01-16

Rustige Sondag Middag

Anné en John kuier in die huis terwyl hulle besig is om brood te bak
en slaai te maak terwyl ek en Elsoné die vuur oppas. Daar is 'n
hoendertjie en 'n varkfillet op die vuur...

Ek het gister weer 'n lekker ent gaan hardloop - 26 km en dit het
heelwat beter gegaan as laas week. Maar toe ek terug by die huis kom,
was ek maar weer kisboude en het ek in die swembad afgekoel, gestort
en ons al drie (saam met die brakke, so dis dalk "ons al ses") het toe
nog 'n bietjie gedut tot so 10h30 se koers.

Ons was gou daarna winkelsentrum toe, Anné moes 'n pilletjie kry vir
die borsmelk om op te hou - ons het waaiers gaan kry om te probeer om
weg te kom van die konstante lugversorgergebruik en ons het vir my nog
'n stel hardloopklere gekry. Ons het lekker rustig gaan middagete eet
by E&I en sien toe vir Lizaan en Eben. Hulle kan ook nie oor Elsoné se
kleingeid kom nie. Ds. Tertius het ook gou kom hallo sê.

Ons het toe huis toe gekom om te sien hoe om NIE 'n teiken van 190
lopies by Wanderers te jaag nie (ek het vir Anné gesê hier kom
moeilikheid toe AB uit is en ons nog 7 paaltjies gehad het om 120 odd
lopies te kry). Sy was baie teleurgesteld, maar ek is bly daar is 'n
lekker wake-up-call gewees voor die wêreldbeker. Kom ons hoop Kallis
maak die verskil. Maar die feit bly staan dat ons Proteas se balans in
die span nie so goed is sonder hom nie.

Elsoné was weer baie soet gisteraand. Sy het geslaap van 19h30 tot so
00h30 en toe eers weer 05h40 wakker geword. Sy het vanoggend lekker
laat by ons kom slaap in die bed en van kerk-toe-gaan-planne het daar
toe niks gekom nie...

2011-01-13

Slaaptyd

Baie "ervare" ouers het gesê mens moet slaap as Baba slaap. Vir een of ander rede is dit makliker gesê as gedaan en dit is 'n definitiewe doelbewuste ding wat mens jouself moet voorneem en dwing om te doen. Ek en Anné begin so stadigaan self besef dat dit nie slegte raad is of was nie.

Sy sukkel so bietjie daarmee. Ek het êrens gelees dat een van die groot raaisels van vroeë ouerskap die feit is dat 'n ma feitlik vir vier en twintig uur 'n dag besig bly al slaap baba omtrent agttien daarvan. Elsoné slaap nou nie meer so baie nie, maar die argument staan nog. Anné het gisteraand sigbaar êmps getreke maar het darem gisteraand 'n goeie 5 ure geslaap gekry. Ek het Elsoné teen so 19h30 in die bed gehad en ons het gaan krieket kyk en eet waarna Elsoné weer so teen 20h00 wakker geword het vir "poeding". Van daar af het sy geslaap tot vanoggend 01h00 en toe weer van 02h00 af tot 05h00.

Al wat nog sleg is is die feit dat Anné se slaap nie heeltemal korreleer met daai tye nie, aangesien sy nog borsmelk pomp om verligting te bring soos wat dit nodig is, m.a.w. omtrent met elke voeding. Maar sy het dit nou sou stelselmatig minder en minder laat word en gaan more heeltemal stop tesaam met 'n medikasie wat die laktasie ook sal begin terughou. Dit sal haar omtrent twee tot drie ure 'n dag gee om meer slaap in te kry - wat sy seker nie alles sal gebruik vir slaap nie. Die feit is dat die pompery 'n bietjie lastig begin raak het aangesien dit nie genoeg melk was vir Elsoné nie en dit was ook sommer sigbaar dat dit nie die voedingswaarde gehad het wat dit moes nie. Maar dit is nou amper verby en die volgende uitdaging lê sekerlik êrens om die draai.

My verskoning vir slaperigheid is maar net in 'n klein deel my aandeel tot opstanery teen lawwe ure vir Elsoné. My opstanery teen lawwe ure is om tyd te maak vir ahierdie lawwe hardlopery. Om nie te praat van al die woema wat die hardloop self uit 'n mens se dag uithaal nie. Soos dinge nou staan is my lopende week se afstand al 73 km en ek glo nie dit sal gou weer gebeur nie. Ek kan dit voel en ek kan ook voel dat daai tipe week-in-en-week-uit toewyding by my ontbreek, wat beteken dat ek waarskynlik (en dank Vader tog) nie 'n Comrades in my lewe sal doen nie. Maar mens moet seker nooit "nooit" sê nie.

En die een belangrike ding wat alles onderstreep is dat dit eintlik goed gaan met die twee belangrikste meisies in my lewe. Elsoné is verseker gelukkig en tevrede en dit maak haar wonderma ook gelukkig en tevrede.

la vita è bella

2011-01-09

Fotos: Die Tyd Stap Aan

Die tyd stap aan - dis duidelik as ek kyk hoe vol die blog se opskrifcollage al is. Ek dink dit was die laaste keer vandag wat ek 'n dag-vir- dag foto kon bysit. Van nou af sal dit maar week-vir-week moet wees.

Ons het vandag weer lekker rustig gevat. Onder andere het ek gekyk wat kos Medela Swing onderdele hier teenoor oorsee. 'n Stel onderdele kos hier so R1000 terwyl ons dit hier kan land van Amazon.com af vir R500 waarvan R200 koerierdienste sal wees! Belaglik!

Ons almal was daar bo om te sien hoe die Indiërs ons verniel in die T20 "krieket", maar dit pla my nie - ek het verwag dat ons ver gaan verloor. Morné van Wyk se beurt het my ook hoop gegee, ja. Maar toe hy vir AB uithardloop sê ek vir Anné dis verby, en dit was. Maar ek moet sê dit was nou 'n lekker gepaste afskeidspartytjie vir ou Ntini en ek had ook 'n knop of twee in my keel.

Daarna het ek vir Elsoné gaan bad en gevoer, gewind en in die bed gesit terwyl Anné vir ons kos gemaak het. Toe ek haar in die bed sit sê ek vir Anné: "Easy game, straight up and down". Elsoné is regtig nie 'n moeilike babatjie nie. En ons is dankbaar daarvoor.

Ek wens net sy wil ophou om saam met haar ma vir my te lieg en vir my ook 'n regte egte smile gee dat ek haar kan glo en dit dalk afneem dat die blog my ook kan glo.

Hier is 'n paar ander fototjies intussen sommer net ...







Melksnor

Eerste Medisyne

Fotos: Regte Doek Ramp

Ek het net wakker geword met die kreet "Deon!" daar uit Elsoné se kamer...

Die poeffies het by die doek se rek verbygekom en by 'n Elsoné been afgeloop. Van daar af het sy dit verder versprei dat daar selfs van die kaboenkleurige goed op haar wang gesit het. Sy moes gou gebad word, maar dit het haar die keer glad nie ontstig - sy was seker tevrede met haarself en die persentjie wat sy vir ons gereël het.

Ek grap net met die inskrywing se opskrif, ek gaan nie fotos hier sit nie ek het nie eers fotos daarvan geneem nie. 'n Mens se maag is dalk nie so sterk as hy hierdie later lees as wat ons twee s'n nou was gedurende die rampbestuurproses nie.

2011-01-08

Onstuimigheid

Anné het gisteraand vir die laast keer geborsvoed. Dit mag dalk goed wees vir Elsoné maar ek dink nie dit het haar ma te goed gedoen nie. Ek kan met sekerheid sê dat ons alles prakties binne ons vermoë gedoen het om dit te laat uitwerk, maar die uiteinde van die saak is dat die melk nie genoeg was nie en dat Anné begin het om op te sien na voedings - dit het tot drie ure op 'n slag geduur en dan wil Elsoné steeds nog opgetop word met aanmaakmelk. Ek verstaan en ek ondersteun Anné in haar besluit. Ek het ook lank genoeg haar probeer aanmoedig om vas te byt, maar genoeg is genoeg.

En Elsoné kon darem vir amper 'n maand goed vorder op moedersmelk en die voordele wat dit inhou. Sy is gesond, sterk en vorder goed. En ek weet dit gaan ook nie nou skielik verander nie. Anné voel natuurlik skuldig daaroor en dalk 'n bietjie hartseer ook. Sy wonder of sy nie dalk selfsugtig is om te staak nie. Sy is ongemaklik en ontevrede met hoe haar borsvoedervaring was en daarom die wonder oor die selfsugtigheid; oorweeg sy Elsoné se kant van die saak sterk genoeg is haar vraag. Maar ek dink sy het dit ver genoeg gedruk en kans gegee en ek glo dit is die regte besluit.

Ek sal jok as ek nie erken dat dit my 'n bietjie onkant gevang het nie, want ons het gisteraand nog planne beraam om hopelik weer melkproduksie op voldoende vlakke te probeer kry. Maar Anné sê sy het gisteraand baie opgesien na 'n voeding en net besef en besluit dat genoeg nou eenmaal genoeg is. Ek het maar net vanoggend terloops gehoor toe sy vir Surika vertel dat sy besluit het. Dis waarom dit my onkant gevang het. Maar aan die ander kant het ek nooit verwag dat Anné borsvoed in die eerste plek 'n kans sou gee nie. So, in my opinie het sy al meer as genoeg gedoen om haarself te oortref met wat sy bereik het die afgelope maand in die verband.

Ek het toe vroeg vanoggend in die pad geval, 04h20 om die lang draf saam met Tim en die klub aan te pak. Ons het op die ou end 33 km gedoen en ek is baie trots daarop. Dit het eintlik baie goed gegaan - ek het nooit gekramp nie en kon eintlik relatief maklik die kilos doen. Dit was definitief baie moeilik; my vorige verste afstand was 'n hele 12 kilometer minder. Maar die moeilike deel was soos die cliché sê 80 % in my kop en 20 % in my bene. Ons het 5 kilometer gehardloop voor ons aangesluit het by die klub by Shell Meerensee soos gewoonlik. Die beplande afstand vir die klubdraf was 18 km, so ons plan was om so 28 km te hardloop vandag. Maar op die ou end was die klubdraf 22 km. Toe ons by Shell aankom wou Tim weet of ons reguit huis toe gaan en of ons nog 5 km gaan doen. Op daai stadium het ons totaal vir die dag al klaar op 27 km gestaan - een minder as die beplande afstand vir die dag. Net voordat hy gevra het het ek daaraan gedink dat dit soveel vat om mens se lyf in daai toestand te kry; dis 3 ure se hardloop. Ek het toe geredeneer dat dit goed sal wees om maksimaal die toestand van ons lywe en gemoedstoestande te verken en nog 5 km te doen. Dit het ons net soveel nader gebring aan 'n volle marathon afstand en ek glo ons kon heelwat van onsself leer in die ekstra 5 km. Ek sou so ver gaan om te sê dat dit amper maklik was voor ons daai laaste ekstra deel aangepak het, wat beteken dat die ekstra 5 km ekstra waardevol was.

Maar een ding is seker, ek was bitter moeg toe ek by die huis kom. Die ergste was my seer voete. Die pyn het eers net my voete verswelg, maar gou opgeskiet in my kuite tot by my knieë. Ek het vir omtrent 'n halfuur eers net in die swembad deurgebring en rondgedryf om stramming van my ledemate af te kry. Maar toe ek daar uitklim oorval die moegheid my en moes ek in die bed gaan klim. Ek het twee bierglase Rehidrat gehad en 'n glas water, maar kon net nie rustig raak om te slaap nie. Ek het toe op die ou end so 12h30 opgestaan en kon toe voel my bene is nog baie seer en styf. Maar na 'n sitrosoda en pynpille het ek weer sterk gevoel en ek dink die herstel gaan vinnig genoeg wees om 'n normale week se oefening in te kry.

Al hierdie goed is goeie nuus vir die kwalifiserende marathon wat ons die einde van die maand in Empangeni wil gaan hardloop.

Ons het vir Eben en Nicolette genooi om 16h00 te kom koffie drink so ons is toe  so twee-uur se koers gou gaan Spar en Clicks toe. Ons moes nog NAN koop, maar dit het eers gebeur na 'n bietjie debat oor die duurder hipo-allergeniese weergawe teenoor die gewone. Anné se redenasie was dat ons albei allergië het wat waarskynlik beteken dat Elsoné ook 'n allergie van een of ander aard sal hê. Sy wou as voorsorg die hip-allergeniese weergawe aanskaf. In beginsel het ek nie heeltemal saamgestem nie, aangesien ons nog nie tekens gesien het dat iets in die melk haar aantas nie, maar stem toe in dat ons kan kyk daarna na aanleiding van die prys. Ek het verwag dat dit so 5 tot 15 % duurder sou wees, maar NAN-HA is toe nou die helfte duurder as NAN. Ek dink toe ons voor die waarheid staan het Anné ook begin saam stem en ons het toe besluit ons gaan maar eers kyk hoe gaan dit met die "cheap & nasty" aanmaakmelk; kom ons hou duim vas.

Ek het toe ons klaar is by Spar gou vir haar sommer met die kar gaan wys waar ons oral gery het. Dit was 'n pragtige dag en sou 'n sonde wees om die hele dag in die huis deur te bring. Daar is soveel weggesteekte oulike plekke hier in Richardsbaai en ek het nou al heelwat van hulle ontdek met die hardlopery. Ek kon vandag vir Anné twee plekke gaan wys wat sy nog nooit gesien het nie. Ek het vir haar die paadjie aan die dorp se kant van die kanaal gewys wat daar by die staalbrug wegdraai en ek het vir haar Ferelli Alley gaan wys.

Ons het lekker saam met die Lemmers koffie gedrink en gekuier, maar hulle tweeling wou nie te lank kuier nie en het moeilikerig begin raak wat hulle laat besluit het om maar huis toe te gaan. Ons het toe daarna maar vir Elsoné gebad en begin voer, wel Anné het, terwyl ek byderhand probeer bly het om te help met wat te helpe is.

Maar sy het vir my vies geraak omdat ek nie dinge uit my eie uit aanpak en doen t.o.v. die huishouding nie - ek het nie aan kos gedink nie en toe ons besef ons is honger was dit al laterig. Aan die ander kant probeer ek om reg te wees as sy my hulp met iets nodig het. Ons was maar net op verskillende golflengtes wat dit betref en hopelik is ons golflengtes nou 'n bietjie nader aanmekaar wat die goed betref.

Ek het toe maar gou Kentucky toe gery en vir ons 'n streetwise 5 gaan kry. Ons het geëet en gou besef ons is moeg en toe in die bed kom klim. Die dae gaan baie gou verby. Ek kan nie glo dit is nou al 22h00 nie.

Dinge bly maar interessant met 'n derde mensie in 'n huishouding wat al vir sewe jaar lank gewoond is om net uit twee mense te bestaan. Maar ek moet sê - ek verruil die nuwe dinamiek vir niks. Daai mensie in daai houtkot is bitter spesiaal en tog te pragtig en sy is ons s'n!

2011-01-07

Oja, 1500

En natuurlik is ons vandag êrens by 1500 trefslae al verby!

Niks is maklik nie

En borsvoed tel definitief onder die moeilikes, oftewel, dis ons ervaring daarmee. Hierdie naweek gaan 'n draaipunt wees in Elsoné manier van kos kry. Of die tekens gaan kom dat borsvoed gaan makliker word en dat dit al die moeite werd was en gaan wees, of ons gaan dit opgee vir 'n bêd job en begin om met die bottel te voer.

Anné het netnou teenoor my erken dat sy al sou ophou as ek haar nie so gedruk het om aan te hou nie. Ek het vir haar probeer verduidelik dat ek nie wou druk op haar sit nie, maar net wou aanmoedig en dit hopelik op die manier makliker probeer maak. Sy het dit nie so ervaar nie, maar dit lyk of sy darem verstaan dat ek dit so bedoel het, al het sy dit anders ervaar.

Die feit van die saak is dat die moeite wat nou daarin ingaan nie sin maak nie. Sy sê dit behoort nou al vinnig te gaan, twintig minute per voeding, maar sy is nog steeds op 'n uur of selfs meer. Ek sou seersekerlik ook al gatvol gewees het en waarskynlik my man wat so druk op my gesit het om aan te hou probeer in sy mai in gestuur het en vertel het hoe dit van nou af gaan werk. Maar nie my supervrou en Elsoné se superma nie, nee, sy byt vas en op haar tande en sit alles in om dit te maak werk.

Op 'n ander noot; ek en Tim pak more oggend 04h20 die pad aan - ons gaan ons oggendroete hardloop tesame met die klub se 18 km wat beteken ons sal so omtrent 27 km more hardloop. Dit lyk of ons plan nou is om 30 Januarie die Langasun Marathon in Empangeni te hardloop om te probeer kwalifiseer vir die Two Oceans. Jô, Jô, Jô, Jô, Jô!