Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")

For those preferring English
"The aim with the 'Om Pa Te Word' (to become Dad) blog is to keep record of what transpires in Elsoné and our lives while the adjustment to her arrival still is extremely fresh and great. Let us see where this will take us ..." There is a translation facility lower on the page ("Other Languages")

2010-12-24

Oupa Deon en Ouma Sophie

Dinsdag het ons weer 'n koekonnetjie om ons toegedraai vir die dag en rustig weggekruip vir die Richardsbaai hitte. Ek kan nie onthou presies waarmee ons ons besig gehou het nie, maar ek kan onthou dit was luilekker.

Ek en Tim het vir oulaas 'n lekker (lees moordende) 16 km vir oulaas hierdie jaar saam gaan hardloop. Dit was wonderlik om 'n regte egte "running partner" te kry op wie mens kan steun. Hierdie jaar se kilos wat ons saam gedoen het behou baie geselsies en baie swaarkry en baie lekkerkry. Ek het al lankal vir my Engelsmanpêl gesê hy is die drafgabba wat ek al my hele lewe lank na soek.

Ons het gister onsself begeef in die winkelsentrum om 'n paar laaste kersinkopies te doen. Ons was presies 09h00 daar en toe lyk dit al klaar soos mid-maand Saterdaglaatoggend. So teen 10h00 het dit al heelwat erger gelyk en teen 10h30 was Elsoné rasend van die honger. Anné is toe met haar Elephant & I toe en het in hulle een (van twee) toilet gaan sit en voed. Sy het toe nooit heeltemal rustig geraak terwyl haar pa en ma probeer ontbyt eet het nie en wou natuurlik poeding hê. Anné had gelukkig 'n bottel met 'n bietjie melk in byderhand. Sy wou eers nie daaraan drink nie, maar het dit toe verslint toe sy vir die eerste keer aan die huil gaan en ons weer die bottel vir haar gee. Daar was natuurlik ook die gebruiklike OEEEs en AAAAAs in die koffiewinkel.

Maar gister was weer 'n groot dag in Elsoné se lewe want sy het haar Oupa en Ouma Joubert ontmoet. Ons het nadat ons by die winkelsentrum was gou vir Anné 'n swembroek gekry (wat nie mooi sit nie, hy moet later vandag terug) en is toe huis toe vir 'n rustige middag tuis. Ek het nog bietjie met kersgeskenke gestoei en die twee Nye (Anné en Elsoné) het die "doughnut" getoetsbestuur op ons dubbelbed, maar ek dink nie Anné het veel slaap ingekry nie.


Toe Mamma my laat weet dat hulle Empangeni binnegaan is ek gou L.A.C. Sentrum toe om "brood en melk"en aandete by FishAways te gaan kry. Anné het opgesien om aandete te maak (heeltemal te verstane) en ek het gedag hulle sal van 'n vis en tjippie hou. Hulle het, ons het tog te lekker geëet toe hulle kom. (Ek het natuurlik calamariringe in plaas van vis geëet, maar dit was net die ding!)



Elsoné het geslaap toe hulle aankom maar het klokslag 22h00 wakker geword vir aandete. Haar trotse Oupa en Ouma kon toe darem 'n lekker kansie kry om haar te ontmoet. Hierbo is drie van die fototjies wat die oomblike probeer vaslê. Pa het vandag gesê sy laat hom dink aan Ouma Joey en ek het ook nou al 'n slag of wat self gedink Elsoné het 'n trek of wat na haar ouma-grootjie. Verder is die hoofkommentaar oor hoe klein Elsoné is, maar soos ek al voorheen gesê het, sy is vir my net die regte grootte.

Elsoné se naelstring het uiteindelik darem laat gisteraand ook afgeval, so ek wil êrens vandag of more nog bietjie probeer om mooi fotos van haar te neem.

1 comment: