Engelsmanne en -Vroue ("For those preferring English")
2024-07-14
BigC'24 8️⃣ Kameraad Rudi
BigC'24 7️⃣ Comrades Kamerade
Diep in die Lewe
(terwyl ek nou tik lyk die my lettertjies soos dié van 'n vreeslike slimjan; ek was nie; ek was erg op my limiete)
Kamerade
My maters saam met wie ek in Blok G begin het en honderde kilos in voorbereiding mee saam gehardloop het: Comrades-kamerade.
Die groen nommers langs die pad wat ek nog voor Fields Hill al begin "opchat" het om te hoor of hulle plan vir die dag versoenbaar is met myne: Comrades-kamerade.
Die vreemde hardlopers op die pad wat ek my flou grappies op losgelaat het so nou en dan 'n laggie terug gekry het: Comrades-kamerade.
Al die gesels en beplan en saam oefen vir BigC'24 wat ek en AndréM gedeel het, het 'n kersie op die koek gekry toe ons mekaar op die dag kon sien op die Harrioson Flats en toe later weer net voor Umlaas Road. Ek mag nou vir André 'n Comrades-kameraad noem.
'n Groot bron van kameraadskap is al die Zoeloelanders met bekende klubkleure (RBAC, ZMSC, Mtunzini, Umhlathuze, NRB Harriers, RBM ens.) wat ek elke nou en dan gesien het. Ek groet dan oordadig deur hulle klub-naam uit te skree, 'n ou gewoonte van my op 'n resies. Dit word altyd met 'n glimlag (partykeer deur pyn) begroet as hulle die RBAC kleure sien: Comrades-kamerade.
Ek en Comrades-kameraad Lebogang by Umlaas Road |
Bo op die brug wat oor die N3 gaan by Umlaas het ek vir Lebogang Thole van Soweto[1] raakgehardloop. Hy was toe nou die eerste hardloper in 68 km saam met wie ek meer as 'n paar treë kon hardloop. Ons het sommer lekker aan die kuier geraak en gesels oor sy huidige en vorige Comrades en my groentjie status. 'n Ent later het hy by familie van hom gestop langs die pad, maar toe was hy klaar 'n Comrades-kameraad.
Ek wonder of dit 500 meter verder was wat ek vir Zakhe Qwabe raakhardloop. Hy werk ook al jare by BELL. Ons is kollegas wat redelik gereëld met mekaar te doen kry, maar nou kon ons óók 'n kilo of so saam hardloop: kollega en Comrades-kameraad.
Almal wat al Comrades gedoen het, hierdie jaar of voriges, voel vir my soos Comrades-kamerade. Selfs die wat ek nie eers van notisie geneem het nie, Comrades-kamerade. Ek kan dit ook selfs sê van die Engelsman-busdrywer wat êrens in Pinetown vir my/ons geskree het ons moet ons hande opsteek as ons begin stap. Al die Comrades hardlopers van Richardsbaai, Empangeni en Zini saam met wie ek al 'n paar kilos gehardloop het of duisende kilos, julle is veral spesiale Comrades-kamerade.
En so kan ek aangaan en aangaan ...
[1] Die wonder daarvan om in 2024 is al die data en inligting wat beskikbaar is rondom die resies. Ek kon vir Lebogang opsoek op die Comrades webblad omdat ek sy nommer kon kry op die YouTube video van ons twee wat by die Umlaas Road tydhou punt verby hardloop.
What a time to be alive!
2024-07-01
BigC'24 🔀 Allerlei - Sokkies 🧦
Wat's die nou?
Sokkies Besluit
Ek het met my Suid-Afrikaanse vlag sokkies gehardloop. Ek het met hulle vooraf "langes" gedoen - ek dink die 40km het ek met hulle gedoen. En die heel tyd voor die resies was ek in 'n worsteling oor watter sokkies om te gebruik.
Ek was baie lus om met my SA-vlag sokkies te hardloop, maar was bekommerd omdat hulle dunner is as my pienk (vrek gemaklike) Falke sokkies.
Aan die ander kant was daar 'n "lange" wat ek met die "hidden" sokkies gehardloop het, en hulle my bietjie kon bykom net bo die tong van my skoen en 'n bietjie rou geskaaf het. Iets wat NOG NOOIT met al my Falke sokkies gebeur het nie!Dit was tot die aand voor die Comrades nog vir my onseker watter sokkies ek mee gaan hardloop. Ek kon alles baie mooi voor die tyd "uitfigure", maar die sokkies was 'n worsteling wat net nie op 'n punt kon kom tot op daai laaste oomblik nie.
Iedergeval, my patriotisme en pragmatisme het toe saam gewerk en ek het opgedaag met my Versus sokkies (amper soos dié).
Sokkies wat Grootword
Met die dat ek tot 'n besluit kon kom oor 🇿🇦 sokkies was ek een van baie die oggend van die resies. Maar dit het my glad nie gepla nie. Ek het vroeg-vroeg al gesien daar is hordes ander wat ook met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies hardloop. Ek wou graag vir iemand op die regte oomblik sê "Ek hou van jou sokkies" of "I like your socks".Terwyl ek nog saam met my hardloopmaatjies gehardloop het dit soos 'n baie flou ding gevoel om te sê vir 'n vreemdeling terwyl ek sulke lekker geselskap om my gehad het. Maar toe ek alleen begin hardloop het die "drang" om dit vir iemand te sê al hoe sterker geword. Vir een of ander rede het ek net nie so ver gekom nie. Ek dink die oomblik het nooit reg gevoel nie, asof ek gedink het ek gaan nie die reaksie van die mede-moeg-kameraad kry vir so 'n flou opmerking nie.
Maar toe, êrens voor Inchanga het ek 'n vroutjie met 🇿🇦 SA-vlag-sokkies ingehardloop. Maar hare was nie so kort soos myne nie. Dit was haar hele kuit se lengte. Met 'n baie ouliker ontwerp van die vlag.
(ek het nou hard gesoek, maar kon nie 'n voorbeeld van dit op die web gekry het nie)
Toe ek dit sien, weet ek hier is my kans... Ek het die pas bietjie aangedraai om op die regte oomblik by haar verby te wees dat sy my sokkies kon sien. Sy het verseker my flou grappie gevang, al is Engels ons albei se tweede taal.
"Oh, wow, that's great! Now I know what my socks will look like when they grow up".
My 🇿🇦 Sokkies |
2024-06-22
BigC'24 6️⃣ Alleen in die Onbekende
Met Inchanga agter my en die 30 km om te gaan merk voor my was ek op 'n goeie plek in die resies. Ek het geweet die heel ergste klim is verby en ek is nog binne my vermoëns. Nog so 10 km, dan is ek verder as wat ek al ooit gehardloop het...
Dis nou die Harrison Flats gedeelte, veronderstel om platter en makliker te raak. Vir my is dit nie 'n plek om regtig probeer druk nie - daar is nog amper 'n hele maraton oor! My voete is seer, al van 30 km af, en my hamstrings pla, ook omtrent so lank. Op 'n stadium het dit gevoel of daar los goed rondskuif in my skoene - ek wonder toe of ek op los velle en blase hardloop, maar die gevoel het gelukkig weer weggegaan. Van die seer voete kan ek nie dieselfde sê nie - hulle was enduit moeg en seer.
Dit is hier rond wat ek ook besluit het ek het genoeg met pyn gehardloop en toe maar wel 2 pynpille gedrink. Terwyl ek hier skryf, is alles wollerig na die tyd, maar ek dink dis rondom die tyd wat ek die lekker-poepe ophou vertrou het en 'n Immodium of twee gedrink het.
(SPOILER: Toe die resies verby is het ek nie 'n enkele bio-breuk nodig gehad nie)
Ek wil wil onthou dat ek dalk myself meer stap-kans gegun het as wat ek dalk moes, maar waar daar 'n ligte opdraende was daar 'n bietjie verligting in hardloop omdat my hamstrings dan nie so seer was nie en ek het aanhou goed vorder. Ek het selfs begin om verlore tyd op te maak, maar nie naastenby genoeg om weer te begin droom oor 10 ure nie.
Anné het my teen die tyd laat weet dat hulle my nie by Cato Ridge sal kan sien nie. Dit was verseker 'n teleurstelling, maar ek het voor die tyd ook geweet daar is 'n kans dat dit kan gebeur.
Ek sluit aan by Jephrome en André (skermskoot vanaf sy YouTube video) |
Skielik sien ek vir AndréM en JephromeV teen 'n ligte opdraende voor my stap. Ek weet toe ek gaan hulle vang, en was bly om bekende gesigte te sien. Maar my hart het ook bietjie gesink vir André, want toe weet ek sy 10 ure droom is ook daarmee heen. Ek het by hulle aangesluit en saamgestap vir 'n ent, maar toe ons weer hardloop kom ek agter dit is te veel inspanning vir my om by te bly en ek het hulle laat gaan. Ek was glad nie bewus van die pas nie, net dat ek nie dit kon bekostig om saam te probeer hardloop nie. En net so was ek weer alleen, met nog ver om te gaan.
By die 30 km bord (Two Oceans afgelê) is dit amptelik - ek het nou al verder gehardloop as ooit. Ek het nog kans gesien om verder te gaan, verseker. Maar ek was baie moeg al en 30 km het vrek ver gevoel. Ek het ook my verbeel ek is meer moeg as wat ek na enige Two Oceans was, maar ek dink nie dit is waar nie. Die ander ding wat ek ook opgemerk het is dat ek al amper 7 ure hardloop! Wat!?
Dis nog ver - maar ek het hier rond begin weet ek sal kan vasbyt tot die einde, maar was nie seker of daar nog 'n vreeslike selfontdekkings oomblik vir my voorlê nie. Ek het myself verseker 'n bietjie jammer gekry.
En toe, DawieA se opgewonde vriendelike gesig toe ek om die draai in Camperdown in hardloop. Hy vra, "Hoe gaan dit met jou?" en ek antwoord, "Nou gaan dit beter". Dit het regtig sommer net gehelp omdat ek ek toe nie vir Anné-hulle te sien kon kry nie. Hy't my verseker dat ek nog goed lyk, wat ek geglo het en dit het verseker gehelp. Hy't ook genoem dat AndréM net voor my om die draai is.
So was Camperdown toe 'n goeie plek om deur te hardloop al kon my mense nie daar wees nie en ek allerhande redes gehad het om moeg te wees. Ek het selfs 'n bietjie nuwe moed gehad. Dankie Dawie!
BigC'24 5️⃣ Plan B-en-'n-Half
Met die dat ek vrede gemaak het dat plan-A, die droom van sub-10 ure nie meer sinvol is om na te streef nie dink ek, het ek ook 'n bietjie ontspan en dit het my 'n lisensie gegee om die bulte nog meer respek te gee.
Moenie 'n fout maak nie - dit het nogsteeds soos 'n resies gevoel. Dit was die een groot verrassing van die dag gewees. Van vroeg af het dit al die resies gevoel gehad - soos 'n maraton wat ek 'n pas moet hou om 'n tyd te jaag, maar hierdie keer nie regtig met 'n pas of jaag ingedagte nie. Ek kon net voel daar is inspanning en dinge gebeur nie net vanself of maklik nie. Dis redelik voor die hand liggend hoekom. Teen halfpad in die resies het ek al gevorder tot meer as 700 meter bo seevlak. Dit is 'n 10e van al die klim wat ek nog die heel jaar in al my voorbereiding gedoen het!
Net voor Drummond is daar nog 'n ZMSC gazebo en 'n Sterri Stumpi met my naam op! Letterlik... Ek sien sommer van ver af hoe NikkiC hom so hoog as moontlik hou met die "DEON" plakker[1] op. En, maggies, was ek bly om hom op te slurp (die keer stadiger en versigter as die koffiemelkie). Ek het weer vars Jelly Teddies en swieties gegryp. Nikki het ook 'n klein geel daisyrigge blommetjie in my hand gestop vir oom Arthur. Ek onthou ek het rustig gestap met die blommetjie in die een hand en die Sterri Stumpi in die ander en gedrink soveel as wat ek kon. Ek het toe probeer om my oorskiet Sterri Stumpi vir iemand wat saam-hardloop te gee wat sou belangstel, maar daar was niemand wat wou nie, verbasing. Nog 'n laaste sluk, en toe in die naaste drom. Was dit nog 'n poep wat my nie kans gegee het om te wag tot ek alleen in die binnebaan was nie?
So met die hardloop na Drummond se halfpadmerk is daar 'n lekker 'vinnige' afdraende. Hier by my is 'n ou wat vra, "Wat is dit met almal met die blommetjies?". Ek sê toe vir hom dat Arthur's Seat net hier voor is, na die "Wall of Honour" en ek klink toe vir hom blykbaar of ek 'n gesoute Comrades-hardloper is. Ek sê toe, nee, dis my eerste, waarop hy iets antwoord soos, "O, jy't actually die play-book gelees?". So-iets, ja. Dit was die heel pad goed gewees om presies te weet waar ek is en wat volgende vir my voorlê, al het ek die roete nog nooit gehardloop nie. By die "wall" verby het ek gou die blommetjie by oom Arthur se sitplek gegooi, my hoed gelig en gesê: "More, oom Arthur". Ek kon amper nie glo toe ek die Toyota advertensie borde om die gat in die klipmuur sien nie, maar ek dog toe maar dit is hoe dit altyd is. En net so had ek ook deel aan hierdie Comrades tradisie, maar net so, in 'n oogwink is dit verby.
Deel van die "roete-weet" was nou dat Inchanga baie naby was. Inchanga - my strategiese mikpunt, oor hom sonder drama, hopelik selfs vars. Teen die tyd was "vars" nie meer ter sprake nie, maar met my dyspiere wat die heeltyd voel of hulle te hard al gewerk het, was "sonder drama oor" ook nie 'n gegewe nie.
En toe die opdraende van Inchanga kom het ek aanhou hardloop totdat ek voel daar is meer inspanning. Die respekstap skop in en die dyspiere werk hard. Ek het op my pas-notas merkies gemaak by Inchanga om my te herinner daar is 'n klomp draaie wat mens laat dink jy's nou klaar, maar dan is daar nog Inchanga. Ek onthou hoe AndréM sê dit is vir hom die moeilikste bult. So, ek hou aan respek gee, maar selfs 'n draffie of twee teen die bult, want my bene voel eintlik heel sterk teen 'n bult en dan werk die hammies nie so hard nie.
Inchanga se Baas, met respek (Daar's Waldo!) |
Met elke draai maak ek 'n punt daarvan om nie opgewonde te raak dat Inchanga verby is nie. Toe ek regtig bo kom, weet ek ek het dit gedoen. Ek het myself 'n kans gegee vir 'n eerste Comrades volgens my potensiaal en dit nie ge-"blaas" op die eerste helfte se opdraendes nie.
2024-06-21
BigC'24 4️⃣ Almal het 'n plan ...
Mike Tyson |
Ek het baie moeite gedoen voor die resies om die roete goed te ken en 'n goeie idee te hê van my strategie en hoe ek dit sou aanpak. Maar ek het nie geweet of dit iets werd is nie. Wat ek wel geweet het, is dat ek ten minste moet probeer om te beheer wat ek kan.
Deel van hierdie "beheer" was om 'n pace chart te hê. Ek het André Maakal s'n my eie gemaak. Dit was iets wat ek en hy al twee maande voor die tyd begin bespreek het. 'n Hele ruk voor dit, het ek ook al vriende se 2019 Comrades Strava data geanaliseer. Ek het met die analise probeer om 'n gevoel te kry wat gebeur met mens se pas deur die loop van die resies soos wat die bulte hulle tol eis en die dag lank raak.
Al my beplanning het my rustiger gemaak oor die resies, maar ek het nogsteeds 'n gevoel gehad van "ek weet niks" toe ek opdaag vir die groot dag. My hoofplan was om net tot anderkant Inchanga te kom sonder om te kramp.
En net daai is wat my al op 50km om te gaan in die bek geruk het. Ek het nog nie eers 'n maraton gedoen nie en het op 'n afdraende voor Kearsny College bietje "laat los" (ek sien nou terwyl ek skryf ek het vinniger as 5min/km gehardloop 😱) toe ek voel my hamstrings gaan nie hou nie. Ek het al voor dit gevoel hulle is moeg, maar hier het hulle my bang gemaak. Ek het op hierdie oomblik besef die 10 ure droom is by die deur uit. Dit het my nie gepla nie.
Wat my wel gepla het is dat ek skielik onseker was oor my hamstrings wat die onbekende hoeveelheid kilometers moet hou om oor Inchanga te kom sonder 'n kramp. Dit was regtig al wat ek wou bereik voor ek in die bek geslaan word en al die planne tot niet kom.
BigC'24 3️⃣ Dis 'n Resies
Ek onthou duidelik die steilheid van die "onramp" na die King Cetshwayo deurpad wat my sommer dadelik ook laat stap het - maksimum respek. Baie min hardlopers om my het Fields Hill sonder respek aangepak.
Toe ek begin om die eerste draai van Fields Hill te voltooi, begin my linkervoet se brug amper te voel na 'n kramp. Soveel so dat ek anders wil begin loop. Ek het al riller stories gehoor oor die camber-hoek van Fields Hill, maar hier begin my eie nagmerrie dalk nou. Gelukkig was daar dele wat nie so steil op was nie, wat ek kans gesien het om te hardloop en die "kramp" bietjie verlig het. Dalk was die "kramp" weens die ernstige-daadwerklike-hard stapaksie. Ek het mos doelbewus opdraende stap geoefen in my voorbereiding. Ek moet dit kan doen.
Dis ook hier op Fields Hill wat ek gemakliker kon begin hou by my ingesteldheid om die "binnebaan" te vat om elke draai. Voor Fields Hill was ek baie bewus waar my maters was, en die binnebaan het my meer as een keer van hulle geskei, wat nie lekker was nie. Ek kon wel sien ek kon stap en bybly as hulle hardloop-stap strategie volg op die "buitebaan", So - die binnebaan ingesteldheid het meriete en ek was die res van die resies baie doelbewus op die binnebaan.
Gepraat van resies - dit was ook hier of net na Fields Hill wat ek besef het dit gaan vandag 'n resies wees. Dit is nie 'n rustige long run wat ek kan terughou om by my teikepas te wees nie. My hartklop was teen die tyd permanent bo 160 slae per minuut en ek het geweet dit gaan waarskynlik nie weer regtig onder dit inkom nie.
Maar, Fields Hill het sy respek gekry, my voet het toe nie regtig gekramp nie en kort voor lank raak dit platter en bekender. Hier waar ons in Hillcrest in hardloop het ek al 3 maratonne gehardloop en hierdie paaie ken ek goed. En, ek het nou net my eerste regte onbekende uitdaging, Fields Hill waaroor ek lank bekommerd was, van die Comrades oorkom. Dis 'n Resies!
Gillits |
Ek het ook geweet, hier in Hillcrest kom ek nou naby aan Gillits, die eerste plek waar ek vir Anné en die kinders langs die pad gaan sien. Daar is herinneringe van die stukkie van die resies wat ek duidelik onthou hoe ek daarna uitgesien het om hulle te sien. Ek het nie veel belanggestel in eet of drinkgoed daar nie - net om hulle te sien.
By die ZMSC gazebo het ek my pragtige vrou gesien en vinnig gestop. Vars Jelly Teddies en 'n Woolworths cuppacino melkie was reg vir my (ek het nog niks droëwors geëet nie, so dit was nog nie nodig vir nuwes nie). Adriaan het gehardloop om vir my te kom herinner vandag is die "Final Boss Battle" na maande se oefen. Elsoné het die gevoel van Comrades gekry en vir my en al die hardlopers aangemoedig.
En skielik is die lafenis van mense wat ek ken en wil sien weg en ek is weer alleen aan die hardloop. Ek drink die koffie-melkie te vinnig en kry maagpyn (wat gelukkig nie te lank pla nie). "Die resies het skaars begin", dink ek ... "hier gaan verseker nog klippe gekou word vandag". Dit was nie lank na hierdie ontnugtering wat ek ook vreeslik lekker begin poep het as ek die binnebaan vir myself gehad het.
BigC'24 2️⃣ Eie Resies Begin
Dinge verloop soortvan volgens plan tussen die begin en die 80 km om te gaan bord. Ons groepie was bereid om die vroeë opdraendes te respekteer en die gesindheid vir die res van die oppe te begin vestig. Toe ons by 45th Cutting kom, is ek so 2 minute agter die sub-10 ure plan en ek noem dit vir PietJ. Ons is albei baie rustig daaroor - ek is rustig omdat ek weet die resies nog skaars begin het en hy is rustig omdat hy en die ander hardloopmaters mik vir 11 ure.
Maar, 45th Cutting het my verseker verras/verbaas. Ek en PietJ was op die stadium bymekaar en die ander 'n bietjie voor ons. Dit is 'n beduidende opdraende. Ons het hom sterk gestap en baie respek gegee. Maar dit was verseker vir my ook 'n verassing van hoe styl hierdie goed is en dat ons net eenvoudig nie sulke lang en styl bulte maklik hier in ons deel van Zoeloeland kan gewoond raak nie.
Ek onthou nie veel van die nonsens-praat of die roete vanaf 45th Cutting nie. Ek onthou net ons het almal lekker saam gehardloop en gekuier. Ek kan ook nie eintlik eers Cowies Hill self onthou nie. Ek onthou net vaagweg toe ons oor hom is (met respek) en ek die pad in Pinetown in herken het wat ek en die gesin Vrydagmiddag gery het om die roete te verken.
Hier rond het ek agter gekom ek is blykbaar heelwat gemakliker as my maters met die afdraendes en meer geneig om vroeër te begin loop vir 'n opdraende, so ek het al hoe minder treë direk saam met hulle gehardloop. Ek het die heeltyd probeer rondkyk en net weet waar hulle was. Êrens in Pinetown het PieterG vir my gevra "Voel jy ook jy wil darem bietjie vinniger op die afdraendes hardloop?". Dit was my gevoel, ja, maar ek het ook by die 70 km oor merk gesien ek is nou so 7 minute agter die 10 ure plan en moes my eie resies begin hardloop. Ons twee het omtrent tot by die tonnel in Pinetown saam gehardloop, en ek dink nie ek het hulle weer gesien nie - al het ek hoeveel keer omgekyk om my maters te sien en dalk te groet.
En so kap ek toe maar aan, nou alleen, met FOMO sonder my maters. En ek hoor toe 'n pa vir sy (bekommerde) dogter sê "net hier om die draai". Toe wonder ek, wat is dit? Fields Hill? En ja, my pace-notes het dit bevestig. Die deel van die resies wat my die meeste laat voel het soos 'n groentjie was net hier voor ons...
'n Google Street View skermskoot van Fields Hill |
BigC'24 1️⃣ Begin START
En so begin ons resies, maar ons loop skaars. Ek neem 'n video van die ge-skuifel van die massas mense om my nog lank voor die wegspring banier oor ons koppe is.
Die oomblik oor die "START" |
Daar word deur duisende hardlopers en toeskouers spontaan gesing aan 'n Zoeloelied wat ek wens ek geken het om saam te sing. Die skuifel word 'n stap en ons herinner mekaar die heel tyd om te pasop vir katogies en ongelyke teer en randstene.
Ons begin regtig draf en skielik is daar oral ouens langs die pad wat hulle bydrae maak tot die urine-reuk in die stad. Ek besef ek is heeltemal gemaklik met Moeder Natuur, sy roep nog nie na my nie.
Daar kom ons weer amper tot stilstand, want die skare hardlopers maak 'n bottelnek om die hoek van West en Russel straat. Ons is op die "binnebaan" en begin gou weer aan die draf kom. Die hoeveelheid mense is oorweldigend. As die hardlopers wat 'n kilometer voor ons op hoër stukke pad hardloop sien jy net hoe groot die Comrades regtig is - en mens kan nie eers amper die voorste ouens sien nie. Die resies is al 20 minute aan die gang en ons het so 1.8 kilometer al gedoen. Ek het nie 'n idee van hierdie vordering (of gebrek daaraan) nie want ek het myself oorgegee aan die oomblik en is baie rustig daaroor dat die eerste 6 km meer sa 50 minute gaan neem.
En toe is dit nie lank nie, of ek moet teen die opdraende uit begin om te karring aan my maters dat ons moet terughou en nie onnodig druk nie. Dis nie 'n sonde om nou al te stap nie.
BigC'24 0️⃣ Voor die Wegspring
Dis net voor 3 uur die oggend van 9 Junie 2024 in 'n Durban Noord AirBnB kothuis. Drie verskillende alarms raas 5 minute van mekaar af, maar ek is eintlik al lankal wakker. Om die waarheid te sê, ek het bittermin geslaap. Vandag gaan ek my heel eerste Comrades hardloop. Ek het vir 15 jaar van langafstande hardloop aanhou sê ek gaan dit nooit doen nie, maar mens mag mos van plan verander?
Oppad Blok-F toe |
Die minute gaan verby en ek het net begin moed opgee dat ek op my eie gaan moet wegspring, toe ek iemand hoor roep "Deon!". Met die rondkyk word ek nog 'n paar keer geroep, want ek kon nie bepaal waar die geroep vandaan gekom het nie. Ek staan toe op om beter te sien en hoor en sien toe regs voor in blok-G vir Melinda wat my aandag probeer kry. Toe ek na haar stap verduidelik sy dat sy seker gemaak het dat dit reg is om 'n blok terug te skuif vir die wegspring (daar was onsekerheid daaroor met van die inligting wat van die organiseerders gepubliseer was). Sy wys my toe waar al die ander maters bymekaar is. Dit was 'n hele klompie van ons wat saam geoefen het… Piet, Pieter, Melinda, Rialine, Francois, Fred en Hendrik was ook by, so ook Dirk.
In Blok-G, saam my maters |
Die tyd het toe eintlik vinnig verby gegaan en dit was nie lank nie toe speel en sing ons die volkslied (nog voordat die lyne tussen die blokke laat sak is - anders as gewoonlik blykbaar, maar slim dink ek, staan stil en sing die volkslied met respek). Na die volkslied is die "danger tape" tussen die blokke weggevat en ons begin nader aan die wegspring beweeg as 'n massa mense. Shosholoza word gespeel en almal sing vrek lekker saam. Die opwinding bou… Met die speel van Chariots of Fire, voel ek hoe ek begin haastig raak om hierdie ding nou te begin. Die opgeneemde haan kraai en ek hoor 'n "BOOM!" en besef 2 of 3 sekondes later die resies het begin en my horlosie begin om die "op"-tog Pietermaritzburg toe te log.